Motoris betaal duisende aan ‘TMPD-skelms’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Tshwane-metropolisie)

Twee mans van Pretoria is erg getraumatiseer nadat hulle glo deur vermeende metropolisiebeamptes geïntimideer en beroof is.

Johan van Aarde (37) en Freddie White (43) se ontmoeting op Nuwejaarsdag met ʼn groep mans wat beweer het dat hulle lede van die Tshwane-metropolisie (TMPD) is, het hulle duur te staan gekom.

“Daar is geen twyfel by my nie dat ons die slagoffers van ʼn hoogs georganiseerde misdaad, asook slagoffers van aanranding, gewapende roof en ernstige intimidasie deur die TMPD was,” sê Van Aarde in ʼn beëdigde verklaring wat hy na afloop van die voorval afgelê het.

Hy en White was die betrokke dag op pad na Queenswood in Pretoria, nadat hulle saam met vriende middagete geniet het. Hulle het eers om 20:30 huiswaarts gekeer nadat ʼn langdurige kragonderbreking eindelik tuis opgelos is. Dit was toe dat die TMPD-lede toegeslaan het.

Die mans is op die hoek van Jan Shoba (Duncan) en Stanza Bopape (Kerkstraat) in Hatfield deur ʼn TMPD-bakkie, met flitsende ligte, voorgekeer. Een van die beamptes wou weet hoekom hulle nie by die padblokkade stilgehou het nie. White en Van Aarde voer aan daar was nie enige soort padblokkade waardeur hulle gery het nie.

Volgens die twee is hulle aangesê om om te draai en van die pad af te trek. ʼn TMPD-beampte het toe glo hul motor genader en hulle daarvan beskuldig dat Van Aarde onder die invloed bestuur.

“Ons het die beskuldiging ontken, want dit was nie waar nie,” sê White.

“Die beampte was onbeskof en aggressief en het daarop aangedring dat Johan onder die invloed bestuur. Ons het die beampte versoek om die aantygings te bewys en ʼn ander beampte het te voorskyn gekom met ʼn blaastoets.”

Die twee voer aan dat die blaastoets op die oog af nie aan wettige en gesondheidstandaarde voldoen het nie, hoewel die betrokke beamptes gesê het dit doen.

Van Aarde moes van binne sy motor die toets doen terwyl die beamptes glo die res van die toestel buite die motor gehou het. Die beamptes het glo geweier om vir hulle die uitslag van die blaastoets te wys.

“Een van die beamptes het toe by die motorvenster ingeleun, Johan se veiligheidsgordel losgemaak en hom uit die motor gepluk. Hy het gesê dat hulle hom in hegtenis neem omdat hy onder die invloed bestuur.

“Hulle het genoem dat hulle ons na die Sunnyside-polisiestasie gaan neem, wat vreemd was, want die naaste polisiestasie is Brooklyn,” sê White.

“Johan het toe sy selfoon en beursie vir my gegee en na die metropolisie se voertuig gestap. Ek is aangesê om sy selfoon vir hom terug te gee omdat ‘hy dit sou nodig kry’.”

ʼn Aand van vrees

Volgens Van Aarde het hy in die TMPD se voertuig gery, terwyl twee beamptes saam met White in sy persoonlike motor geklim en in die rigting van die Sunnyside-polisiestasie gery het.

“Terwyl ons gery het, het die beampte gesê sy kollegas kan Freddie by die huis aflaai en my motor na die polisiestasie toe ry, glo sodat dit as ʼn bewysstuk opgeneem kan word,” sê Van Aarde.

“Ek het dit van die hand gewys en aangehou vra hoekom ek in hegtenis geneem word.”

Die beamptes het nie die vraag beantwoord nie en voortgegaan om hom te intimideer.

“Hulle het gedreig dat ek die naweek in polisieaanhouding sal wees, moontlik tot die volgende Dinsdag of Woensdag, aangesien dit ʼn langnaweek is. Daarna sal ek R10 000 vir die borgtog moet opdok.

“Die beamptes het egter gesê ek kan hulle direk betaal dan sal ek nie in die selle hoef te slaap nie. Ek is toe aangesê om die laaste persoon wat ek gebel het terug te bel en te vra om die bedrag oor te betaal,” sê hy.

Van Aarde kon eindelik sy ma in die hande kry, wat uit vrees R5 000 in sy bankrekening oorgeplaas het.

“Die beamptes was gewapen en het dit duidelik gemaak dat hulle nie sal huiwer om dit te gebruik as ek nie gehoor gee nie.”

Van Aarde en die TMPD-beamptes het toe na die naaste kitsbank gegaan om die geld te onttrek, terwyl White in sy persoonlike motor voor die polisiestasie saam met die ander beamptes gewag het – onseker oor waar Van Aarde hom bevind.

Nadat die transaksie voltooi is, het die beamptes oënskynlik ooreengekom dat Van Aarde net R5 000 kan bekostig. Hulle het toe in kontak gekom met hul kollegas wat saam met White in die motor was. Op pad na die ontmoetingspunt is Van Aarde egter gepeper met persoonlike vrae oor sy tuiste, werk en inkomstevlak.

Van Aarde is eindelik uit die TMPD-voertuig vrygelaat en moes so gou moontlik saam met White via ʼn spesifieke roete huis toe ry. Op pad terug is Van Aarde en White egter weer deur metropolisie voorgekeer wat óók aangevoer het dat Van Aarde dronk bestuur en dat hulle na Sunnyside-polisiestasie geneem moet word. Hulle het egter hul onlangse beproewing blootgelê en is sonder ʼn verdere woord op hul pad gestuur. ʼn Ander voertuig het hulle deurgaans agtervolg totdat hulle in Queenswood stilgehou het.

Na afloop van die ervaring het Van Aarde en White by hul plaaslike raadslid om hulp aangeklop. Hulle is aangeraai om nie die voorval direk by ʼn polisiestasie aan te meld nie, maar word nou eindelik deur ʼn ondersoekbeampte bygestaan.

“Ek voel baie sterk daaroor dat ander mense moet weet wat aan die gang is sodat ons hopelik kan help dat sulke gebeure bekamp word,” sê Van Aarde.

ʼn Saak van diefstal is intussen by die polisie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Yvonne ·

Ons land het n n hool van misdaad verval……Here wees ons genadig

Danie ·

Aan die orde van die dag.Wat meer of minder kan ons verwag van n algehele korrupte staat.Die twee mans kan bly wees dat hulle ongedeerd daarvan afgekom het.Vergeet van geregtigheid.

Trinity ·

Gedurende November het my man ‘n hartaanval gehad. Oppad terug van die hospitaal af, op dieselfde plek, ook oppad Queenswood toe, is ek en my dogter om 01:30 die oggend ook deur die TMPD afgetrek. Nadat die 2e motor wat na ons afgetrek is laat gaan is, het ek my venster oopgemaak en gevra hoekom ek moet wag terwyl die ander motors ry. Die “beampte” het gevra of ek met hom praat, waarop my antwoord “ja” was en hy vra toe weer ewe arrogant “are you talking to me?” terwyl hy nader stap. Ek antwoord weer ja, ek wil weet hoekom ek afgetrek is ens. Toe die nar naby genoeg was het ek my ID, lisensies en werks-ID vir hom gegee. Hy dui toe aan dat hy my ‘n paar persoonlike vrae wil vra, maar nie voor die kind nie, nadat ek moes verduidelik hoekom ek met ‘n kind in die motor daardie tyd van die nag rondry. Hy kyk toe eers na die IDs en die lisensie en skielik verander ek in “Ma’am”. Hy het begin “please and explain”. Ek het dood eenvoudig in my motor geklim en gery. God se hand was oor ons.

Misky ·

Daar is so baie van die stories en gevalle deesdae en kan nie glo dat dit nie ‘n prioriteit word om te ondersoek nie.

Andre ·

Niks gaan gebeur. TMPD is korrup van bo tot onder. Het ook hulle al gerapporteer maar niks daarvan gekom

Nicolaas ·

Kyk net by koedoespoortweg by die 90 grade draai dan sien jy wat korupsie is deur die metro polisie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.