Motoris pleeg selfmoord op Chapmanspiek

‘n Argieffoto van Chapmanspiekrylaan. (Foto: Chapman’s Peak Drive/Twitter)

Die Kaapstadse verkeersdienste het bevestig ʼn motoris wat Sondag by ʼn kloof op Chapmanspiek afgery het, het selfmoord gepleeg.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdienste, het gesê hulle het ʼn noodoproep ontvang van die motoris se seun, waarin hy gesê het die man dreig om selfmoord te pleeg.

Polisielede, asook lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is inderhaas na die toneel ontplooi.

Volgens Bezuidenhout is daar gevind dat ʼn man wél oor ʼn afgrond afgery het. Hy is op die toneel dood verklaar. Reddingswerkers het daarna ure lank gespook om die man se liggaam te probeer herwin.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê geen gemene spel word in die 80-jarige man se dood vermoed nie.

Ure tevore is ʼn 21-jarige vrou uit ʼn kloof gered nadat sy sowat 13 m ver op die Leeukop-staproete geval het. Die vrou het op ʼn lysie te lande gekom en op ʼn gevaarlike plek gelê terwyl daar op hulp gewag is. Sterk wind het boonop aanvanklik die reddingspoging bemoeilik.

“Die pasiënt is ernstig beseer en het gevorderde lewensondersteuning nodig gehad,” het Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, gesê.

ʼn Lugambulans van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het die jong vrou op die berg opgepik en na ʼn wagtende ambulans geneem van waar sy na ʼn hospitaal vervoer is, het hy gesê.

Reddingswerkers in KwaZulu-Natal het nagenoeg twee uur lank gestap om die vrou na veiligheid te bring. (Foto: Rescue Care)

In KwaZulu-Natal het reddingspanne nagenoeg twee uur lank gestap om ʼn vrou, wat Sondag op ʼn rots digby die Molweni-rivier buite Durban gegly het en ernstig beseer is, na veiligheid te dra.

Volgens Herbst het die 39-jarige vrou ernstige kop- en nekbeserings opgedoen.

Lede van Netcare 911, Rescue Care, Rescuetech, die polisie én metropolisie het saamgewerk om die vrou veilig uit die kloof te kry. Hulle moes aanvanklik sowat 2 km ver stap om die vrou te bereik. Nadat sy op die toneel gestabiliseer is, moes die reddingswerkers sowat twee uur lank voetslaan om haar na ʼn punt te neem waar ʼn Netcare-helikopter haar veilig kon oplaai en na ʼn hospitaal neem, het hy gesê.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê die vrou het vermoedelik tussen die rotse gespring toe sy geval het en beseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

O Wee ·

Ek glo nie ‘n mens gaan stap in die natuur met die doel om te gly en te val nie maar onverantwoordelikheid het gewoonlik ‘n prys. Dankie vir die noodpersoneel wat geswoeg en gesweet het!

charmaine ·

Dalk moet die staproetes maar gesluit word, dit klink te gevaarlik.

Kiskar ·

Is ons nou weer terug op selfmoord? Ek dog daar word die laaste paar jaar van selfDOOD gepraat. Persoonlik verkies ek eersgenoemde.

Potjie ·

Hoe verlore moes die oom nie gevoel het nie. Om te selfdood is n groot tragedie, Dit is baie erg om te hoor dat n persoon op 80 jarige ouderdom self sy lewe beëindig. Mag hy genade ontvang.

Joubert ·

Nou hoekom dink jy nou hy sal nie genade ontvang nie Potjie?

Marietjie ·

In die tye waarin ons leef, verstaan mens hierdie ou oom se daad. Ons oumense leef dikwels onder die broodlyn, of met siektes wat baie pyn en ongemak veroorsaak, hul is dikwels eensaam en die lys gaan aan. Ek glo as jy by hierdie punt kom, het die lewe net te veel geword vir hom en het hy nie kans gesien om verder te stoei nie. My innige simpatie aan sy naasbestaandes.

Gesiggie ·

Ai my Oom, die Here het jou vir 80 jaar gespaar… nou pleeg jy selfmoord? ons sal nie die antwoorde weet net die Oom alleen het geheime in sy hart gedra en kon dit nie verwerk. My Innige meegevoel aan sy familie,, so jammer daar was nie iemand wat betyds kon keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.