Motoris red drawwer wat ontvoer word

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou van Durban is Maandagoggend deur ʼn verbygaande motoris gered nadat sy deur drie gewapende rowers oorval en ontvoer is.

Brian Jackson, operasionele bestuurder van Blue Security-veiligheidsdienste, het gesê die vrou het omstreeks 04:55 in Manningweg in Glenwood gedraf toe ʼn silwer VW Polo Vivo langs haar stilhou. Drie rowers het ʼn vuurwapen op haar gerig en haar in die motor in gedwing voor hulle na haar huis in Catoweg gery het.

ʼn Motoris wat die voorval sien gebeur het, het die rowers se motor gevolg. “Die dapper motoris het die bende tot by die huis gevolg en gesien hoe hulle die vrou uit die motor en in haar huis in dwing,” het Jackson gesê. “Hy het die wagte [van Blue Security] in die veiligheidshuisie onder in die straat in kennis gestel en hulle het dadelik na die toneel gehaas. Lede van die Umbilo-polisie het ook by die toneel opgedaag.”

Oomblikke later het een van die rowers saam met die vrou uit die huis gekom met sy vuurwapen steeds op haar gerig. Hy het haar in die motor geboender en weggejaag.

“Ons beampte het op die voertuig losgebrand en een van die bande raakgeskiet. Die polisie het die motor agternagesit en die voertuig met ʼn gebarste band verlate in Chesterville gevind,” het Jackson gesê.

Die vrou is by die motor aangetref. Sy is nie in die voorval beseer nie. Die ander twee rowers het oor die muur geklim en van die toneel gevlug.

Jackson het die spanwerk van die motoris, die veiligheidsbeamptes en die polisie geloof en gesê dit is danksy die waaksaamheid van die motoris dat die vrou gered is. “Ons waarsku drawwers om in groepe te oefen en waaksaam te wees wanneer hulle vroeg in die oggend gaan draf,” het hy gesê.

Die polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Peet Schabort ·

Wys jou net wat kan gedoen word as jy nie met oogklappe deur die lewe gaan en selfsugtig net aan jouself dink nie. Maar ook ‘n vingerwysing as jy vroualleen gaan draf. Sy is natuurlik voorheen dopgehou wat haar bewegings betref.
Mooi so aan almal betrokke.

Dave ·

Natúúrlik is dit dan ander se skuld! Wil jy nou gemors van blaam onthef omdat sy roekeloos was? Omdat sy naief was en bloot op haar regte staat gemaak het? Vrouens behoort natuurlik versigtiger te wees maar die strekking van jou woorde is blatant verkeerd.

Dave ·

Webredakteur, nou is die oorspronklike kommentaar waarop gerageer het verwyder en my skrywe is nou onverstaanbaar vir diegene wat nie gesien het wat aanleiding gegee het tot my skrywe nie. Verwyder dus myne ook asseblief. – Dit is nie die eerste keer en ‘n vorige keer het ek my eie skrywe in opvolg gerapporteer om dit verwyder te kry want dit klink sinneloos sonder die oorspronklike kommentaar!

Fanjan ·

Ekskuus my, as sy verkrag word is dit haar skuld? Ek hoop ek verstaan daardie sin verkeerd en dat jy dit nie so bedoel nie, want indien jy wel sê dat dit haar skuld sou wees indien sy verkrag word, moet jy maar eerder uit die land uit want Suid Afrika het nie mense soos jy nodig nie.

Winston ·

Dis die regering se skuld dat verkragting syfers so hoog is. Swak ondersoek. Swak polisiëring. Swak verhore. Swak vonisse. Swak Korrektiewe kuie plekke. Niemand word meer deur die reg beskerm nie. Die wetsgehoorsame burgers moet hulle self gevange hou om nie slagoffers te word nie. Dankie vir FREEDOM.

Pieter dp ·

Jamer om te sè dat SA deur krimenele regeer word,dis hoekom dit gaan soos dit gaan. Kom ons eerlike opregte mense vat hande saam soos wat hier gebeur het. Die was n goeie resiltaat en voorbeeld vir ons almal. Soo sal ons die krimenele kan beveg en wen. Mooi soo .

Pietie ·

Nee wat Peet ‘n hoenderhaan behoort nie geprys te word omdat hy kraai nie. Nie een van hierdie ontvoerders is eers aangekeer nie. Hoewel ek ook verlig is dat die vrou ongedeerd is kan ek niks hierin sien waarvoor die SAPS enige komplimente verdien nie.

Peet Schabort ·

Lees mooi Pietie my kommentaar. Dis die motoris sonder oogklappe. Ek het nie naastenby iets van die ander gesê.

Juan ·

Hoekom moet vrouens hul teen mans beskerm … is dit nie juis mans wat vrouens moet beskerm nie. Dankie vir die dapper nie-lamsakkige man wat haar lewe gered het!

Pietie ·

Voorwaar goeie nuus dat die vrou ongedeerd is. Maar wat sê dit van ons polisie dat al 3 die vervloekings weggekom het?

Lise ·

Ek sien daagliks jong meisies/vroue wat alleen draf en soms met die kortste styfste oefenbroekies denkbaar. En dan die ander euwel is oorfoontjies met musiek in die ore terwyl hulle draf. Daar is al hoeveel waarskuwings in die media gegee om nie alleen te draf en veral nie met musiek in die ore nie. Dames, asseblief. Ons bly in Suid-Afrika. Wees versigtig. Oefen in groepe of sluit by ‘n gimnasium aan.

Fire ·

Lise, jy het geen idee waarvan jy praat nie. Duidelik nie ‘n runner nie! Ons trek aan vir gemak, nie vir aandag nie. Ons is bewus van die gevare daar buite, maar partykeer noodgedwonge om alleen te gaan oefen. Wonder of jy enigsins aktief is….Dis was onder GEEn omstandighede haar skuld dat sy aangeval is nie, en klaar! Maklik vir jou om te se ons moet in ‘n gimnasium gaan oefen, weereens, jy’s duidelik nie ‘n runner nie, so se liewers niks!

Johan ·

Jou gemak en straat oefening kan jou lewe kos, het jy al daaraan gedink. As jy ontvoer verkrag en doodgemaak word sal al jou oefening jou niks gehelp het nie. Kom by en word groot

Eliza-beth ·

Jinne my kind draf gereeld en sy dra wel nie kort broekies nie, maar die “leggings” of wat hul dit ookal noem Dit sit wel styf want dit hou hul spiere warm en is gemaklik – sy dra dit nie om sexy te lyk of iets nie. Wat die oorfone betref stem ek nogals saam, mens is minder bewus van wat om jou aangaan as jy na musiek luister en dis OOK natuurlik verbrands onregverdig want ons behoort ‘n vrye keuse te hê om dinge te kan doen hoe mens wil mits jy binne die wet bly. Ongelukkig MOET my kind ook altyd in ‘n groep draf alhoewel sy tog soms graag alleen sou wou draf – dis die onregverdige waarheid in ons land. Ek dink selfs mans kan teikens wees maar natuurlik minder as dames. Ons is nie “vry” nie. Dis ‘n feit soos ‘n koei. Groot dankie aan die oplettende motoris – ek dink mens moet maar almal probeer oë oophou waar mens kan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.