Motoris sterf toe hy voor aankomende trein beland

Die ongeluk het die lewe van ‘n 48-jarige man geëis. (Foto: Untu)

Die vervoervakbond Untu het ʼn beroep op motoriste gedoen om ekstra waaksaam te wees nadat ʼn botsing tussen ʼn trein en ʼn motoris nog ʼn lewe geëis het.

Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê die 48-jarige man is dood nadat hy die oorgang wou oorsteek en teen ʼn aankomende trein gebots het.

Die man was in die rigting van Gouda op pad en het die op die toneel gesterf.

Volgens Untu het die voorval noord van Wellington, tussen Hermon en Voëlvlei plaasgevind.

John Perreira, waarnemende algemene sekretaris van Untu, sê die vakbond is bekommerd dat motoriste, voetgangers en fietsryers steeds sterf omdat hulle nie by oorgange stilhou nie. Dít ten spyte van verskeie bewusmakingsveldtogte deur die Spoorwegveiligheidsreguleerder, die Passasierspooragentskap, Transnet-vragspoor en die departement van vervoer.

“Almal moet ʼn kruising met waaksaamheid nader. Indien ʼn treindrywer die noodremme gebruik, sal ʼn trein eers tussen 500 m en ʼn kilometer verder tot stilstand kom,” sê Perreira.

“Voorvalle soos dié dra by tot geweldige trauma onder treindrywers omdat daar niks is wat hulle kan doen om ʼn botsing te verhoed as ʼn motoris nie versigtig is nie.”

Hy het ʼn beroep op mense gedoen om gehoor te gee aan padveiligheidstekens.

“Ongelukkig word heeltemal te veel van ons padtekens gesteel of beskadig. Motoriste en voetgangers moet dus altyd stilhou en seker maak dit is veilig voor hulle spoorlyne oorsteek – ongeag of daar padtekens is of nie.

“Ongelukke by spoorwegoorgange is noodlottig. Nie net vir die passasiers of voetgangers wat die trein tref nie, maar ook vir die trein se bemanning.”

Untu het ook sy diepe medelye met die familie van die slagoffer betuig.

Die Riebeek-Wes-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anel ·

So, wat hier gesê word is mense gaan meestal dood agv misdaad! Alhoewel nalatigheid ook ‘n rol speel. So, dan is die regering mos verantwoordelik! Hulle doen niks aan die misdaad nie.

Fanie ·

Hoekom maak die owerhede nie soos in Amerika nie? Daar is waarskuwingsligte wat flikker om motoriste te waarsku wanneer n trein naby n kruising met n pad is.

Francois Le Cochon ·

‘n Siende het nie waarskuwingsligte nodig nie.

Anoniem ·

Daar is by die spooroorgange rooi flitsende ligte wat waarsku. Ongelukkig met die motorfietse wat die spoor gebruik en boosdoeners aktiveer hul die waarskuwings toestel vir die pret en as die ligte dan aanhou flikker sonder ‘n trein in aankoms, ry jy oor.

Spook ·

Waarvoor? Jy het mos jou lisensietoets geslaag. Jy weet jy moet stop. En, hoe groot is n trein? Moet sekerlik die ding kan sien en hoor.

Chris dupreez ·

Mense neig om te kyk vir aankomende verkeer terwyl hulle kruis, en stop nie om eers te kyk nie.

Tanja ·

Ek dink ek is die eenigste bestuurder in SA wat STOP by ń STOP teken, ek het al ń paar manne so kwaad gehad dat hulle my van die pad wil afdruk omdat ek STOP en nie toegee by ń Stop teken nie. So my vraag is… hoekom sal bestuurders STOP by treinkruisings as hulle nie eers STOP by Stop strate nie?

Niklaas ·

Verbaas om te hoor dat daar nog goederetreine beweeg in die land. Orals sien ek trein spoor lyne waar die ysterstawe reeds voete gekry het. Iemand by skrootwerwe koop lustig aan daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.