Motoris ‘vas aan die slaap’ agter die stuur

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Die Stad Kaapstad se verkeersafdeling het die afgelope week 139 persone op die paaie in hegtenis geneem en 64 voertuie geskut.

Beamptes het padblokkades in Pinelands, Mfuleni, Bothasig, Table View en Lwandle gehou en 128 motoriste is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Die res van die inhegtenisnemings hou verband met roekelose of nalatige bestuur, lasbriewe en bedrog, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, in ʼn verklaring gesê.

Die metropolisie in Kaapstad het intussen 27 persone in hegtenis geneem, waaronder 16 persone vir dronkbestuur. Een van die verdagtes is Maandag, 31 Julie, in hegtenis geneem toe hy agter die stuurwiel aan die slaap geraak het.

“ʼn Metropolisiebeampte het nouliks ʼn botsing vermy in Merrydaleweg in Mictchells Plain. Toe sy langs die motor kom, het sy gesien die bestuurder was vas aan die slaap, terwyl die motor steeds voor aankomende verkeer inbeweeg. Sy het uit haar patrolliemotor gespring en aan die motor se venster geslaan om die bestuurder wakker te maak en hom toe gehelp om sy voertuig te parkeer.”

Die beampte het opgemerk dat die bestuurder na alkohol ruik en die 56-jarige man het aan haar erken dat hy al sedert Saterdag drink, want hy was by ʼn troue. Hy het haar omkoopgeld van R400 aangebied, maar hy is in hegtenis geneem en is na Lentegeur-polisiestasie geneem.

“Dit is genade dat die metropolisiebeampte die man teëgekom het, want die situasie kon andersins ʼn tragiese nadraai gehad het. Hierdie tipe gedrag is absoluut skandalig, net soos die persone wat versuim het om op te tree toe hy bly drink het en in sy motor geklim het,” het Smith bygevoeg. “Tensy daar slegs een persoon by die troue was, moes daar ander getuies gewees het wat gesien het wat gebeur. Niemand het egter gedink om sy motorsleutels te vat en vir hom ʼn rygeleentheid huis toe te reël nie.”

Beamptes het 64 sedantaxi’s geskut en 1 592 boetes uitgereik vir verskeie oortredings. “Ons kry ʼn bestendige klomp klagtes oor taxibestuurders en hul verontagsaming van die wet. Tans kan die operateurs hul voertuie terugkry deur ʼn skutfooi te betaal, maar die stad sal aanhou veg vir veranderinge aan wetgewing wat ons in staat sal stel om die voertuie van herhalende oortreders permanent te konfiskeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Melinda Marshall ·

Ek wil my hoed afhaal vir die verkeersbeamte wat so profesioneel op getree het teen die persoon wat haar R400 omkoop geld aangebied het. Ons het meer verkeersbeamptes in SA nodig soos sy om die korrupsie in die land hok te slaan. VIVA Suid Afrika! Die verkeersbeamte moet n verhoogde status kry vir haar ootrede. Ons is trots op jou.

Melinda Marshall ·

Wel gedaan. Sy het n passie vir haar beroep. Ek is n X verkeersbeamte wat ook n passie gehad het vir my werk, en nooit voor die versoeking geswik het vir omkoop geld nie.

Hansie Slim ·

Goeie genugtig, geen wonder die kêrel was so effens moeg nie, hoe op dese aarde suip jy van die Saterdag tot die Maandag? Ek hoop dit was ‘n kontantkroeg by daai troue, maar ja, hy was seker al een wat tot Maandag gevier het!

cdv ·

Wel gedaan. My vraag is egter waar is die beamptes gedurende spitstye in die week veral hier in die noordelike voorstede van die Kaap.Hulle skitter in hul afwesigheid en die taxis oortree elke moonlike padreël ses keer per 100 meter. Dan kry jy daarmee saam die selfsugtige spul idiote wat weer interseksies blok, want die lig is mos nou groen vir hom/ haar, al beweeg die verkeer nie en dis jou probleem as hy rooi slaan en die selfsugtiges sit nou dik dom in die middel van die interseksies en niemand kan ry nie. Verkeerspersoneel op puntdiens by sulke knelpunte sal die probleme in ‘n mate aanspreek, maar puntdiens (sigbare polisieering) is mos deesdae benede ‘n verkeersbeampte se stand. Waarheen verdwyn die verkeersbeamptes gedurende spitstye????? Dis mos lekker as die privaatsektor mense oplei en verskaf om hul werk te doen!! Verkeersoortredings vind nie eksklusief slegs buite spitstye plaas nie.

Elmarie Swart ·

Dit is veral frustrerend op die N2. Waar die taxis net eenvoudig vanagter verby spoed en dan n hele ent voor gaan indruk.

Charlotta ·

Klink soos die taxi bestuurders in Gauteng. Hulle doen dit, ry verby in die geel streep en druk voor in.

Cecilia ·

Dit sal darem n goeie wetgewing wees om taxis permanent te konfiskeer siende dat hul onaantasbaar is.
Hulle ry soos hulle wil en geen padreël geld vir hulle.Dis n reuse probleem wat n baie groot ingryping benodig.

Dafer ·

Gaan kyk maar, al die getuies vir hierdie wandaad le seker nog onder die tafel. Hy is die een wat gewen het!

Nico ·

Goed gedoen hou so aan maar gee n bietjie ook aandag aan bewegende oortredings soos bane onveilig wissel,te naby volg en verontagsaam van rooi robots en stop tokens.Kan metro dan net die bus,taxi baan op die N2 vanaf somerset wes na Kaapstad weg vat die taxis en busse is die grootste oorsaak van die opeenhopings,hulle bring die bane tot stilstand om daar te kom.

Trudie ·

Ek word so kwaad as ek daagliks die M1 ry en almal ry vining in die linkerbaan. Wanneer die pad spit, wil almal héél voor gaan indruk om na die regterkant toe te gaan. Dit terwyl ons ander wetsgehoorsames maar moes aankruie om in die regte baan te wees vir die afdraai. En dit is nie nét Taxies nie. Nee dit is4 x 4’s en groot lorries en busse . Jy het nie ‘n kat se kans teen hulle nie, en moet maar desnoods vir hulle plek maak om voor jou in te kom as jy nie plat gery wil word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.