Motoris vas ná Pta-man van fiets afgery is

John Young is op 30 Januarie vir dood agtergelaat. (Foto: Facebook)

Die motoris wat moontlik verbind word met die tref-en-trap-voorval wat ʼn Pretoriase man se lewe geëis het, is eindelik vasgetrek nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming in ʼn ander saak uitgereik is en die polisie per toeval ʼn wenk ontvang het oor waar hy skuil.

Die polisie soek al maande lank na die bestuurder van die motor wat John Young (48) op 30 Januarie in die Wonderboom-omgewing naby sy huis van sy fiets afgery het. Young is vir dood agtergelaat nadat die motoris van die toneel af weggejaag het.

Sedertdien probeer Young se geliefdes desperaat om die persoon verantwoordelik vir sy dood op te spoor.

AO Lourens Lemmer, die ondersoekbeampte in die saak, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn 24-jarige verdagte Woensdag in hegtenis geneem is.

“Dit was ʼn hele proses om die man op te spoor. Aanvanklik was daar nie baie leidrade om op te volg nie, maar ons het vir mense in die gebied gevra om op die uitkyk te wees vir die betrokke motor,” sê hy.

ʼn Vrou wat naby die Hoërskool John Vorster woon, het ʼn verdagte motor buite haar huis sien staan en ʼn veiligheidsmaatskappy is na die huis ontbied. Die veiligheidsbeamptes het ʼn slapende man, wat glo besope was, in die motor aangetref.

Die sekerheidsbeamptes het vir die man gesê om sy ry te kry – min wetend dat daar na die motor gesoek word.

Die inwoner het later haar plaaslike polisiestasie besoek om dokumente te laat sertifiseer toe sy die verdagte motor wat buite haar huis gestaan het, aan beamptes genoem het.

“ʼn Beampte wat deel is van die ondersoekspan het die gesprek gehoor en toe die regte gevolgtrekkings gemaak,” sê Lemmer.

Die registrasienommer van die voertuig is gebruik om die adres van die eienaar op te spoor, maar die motor en die verdagte was nêrens te vinde nie.

“Die voertuig behoort aan die verdagte se ma, maar sy is reeds in Desember dood,” sê hy.

“Ná haar dood het die man met motor en al verdwyn. Daar was ook geen bekende adres of kontaknommer vir hom beskikbaar nie.”

Dit het later aan die lig gekom dat die man gesoek word vir aanranding en dat hy Woensdag in die Mamelodi-landdroshof moes verskyn. Lemmer het die hof besoek, maar die man het nie opgedaag nie. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.

“Toe ek uit die hof kom en met die ondersoekbeampte in die aanrandingsaak gesels, het ʼn omstander vir ons gesê hy weet waar die verdagte tans woonagtig is en dat hy ons daarheen kan neem,” sê Lemmer.

Die polisie het die man by ʼn woning in Mamelodi op aanklag van strafbare manslag in hegtenis geneem.

“Tydens ondervraging het hy alles erken en hy het ʼn bekentenis van die gebeure afgelê.” Die man was glo besope ten tyde van die voorval.

Die polisie het later dieselfde dag beslag gelê op die motor wat hulle vermoed by die tref-en-trap-voorval betrokke was.

“Soos ek vir die slagoffer se pa gesê het: Die man wat dít gedoen het, kan weghardloop, maar hy kan nie vir ewig wegkruip nie,” sê Lemmer.

Die verdagte sal na verwagting Vrydag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frank ·

Sjoe dit is nou omtrent hele paar toevallige gebeure wat inmekaar gevloei en mooi saamgewerk het

Watsenaam ·

Die gesegde op “toeval” is: “toe val daar lig op die saak”. In die geval Goddelike lig.

Misky ·

Dis duidelik dat die vent ‘n hengse drank probleem het en dit het reeds tot iemand se dood gelei. Hy het boonop alles beken en die polisie se werk vergemaklik. Begin met die verhoor, geen borg en sluit lewenslank toe. Ons het nie van sy soort in ons samelewing nodig nie.

Anel ·

Ek neem aan dis ‘n inwoner van Mamelodi en dit is hoekom sy naam nie bekend gemaak word nie. As hy nou sê maar in Waterkloif gebly het was sy naam en adres op al wat sosiale media is verdprei. Baie geluk met die arestasie en hoop hy kry se verdiende loon.

piet ·

Nee, hy’t nog nie in die hof verskyn nie so hulle kan NOG nie sy naam bekend maak nie. Wag nou maar tot more wanneer hy verskyn dan kan jy lekker kry wanneer sy naam bekendgemaak word.

Oom Jaap ·

Anel, sy naam mag nie nou al bekend gemaak word nie. Hy MOET eers in die hof verskyn.

Perdeby ·

Hoe dit eintlik werk: Jy mag geen verdagte se naam bekend maak voor hy/sy niein die hof verskyn het en gepleit het nie. Verstaan jy nou? Of jy iin Mamelodi bly of in Waterkloof dit is hoe dit werk!

Koen ·

Goeie genugtig, jy hey ‘n ernstige probleem van onderdrukking. Drink ‘n pil of 10.

Suzette ·

Maar my vraag is net – wat gaan met hom gebeur? In SA kry kriminele en moordenaars minimale straf en kry parool of sake word net heeltyd uitgestel. Gaan die dronk moordenaar boet vir sy daad – dit is my vraag?

marius ·

Die gemeenskap moet opruk en in geen onduidelike terme stel wat verwag word . Dan sal die howe regop sit .

marius ·

Dankie vir die dame wat so verantwoordelik opgetree het asook A O Lemmer en sy span wat wakker is . Hoop die NVG en hof volg dieselfde voorbeeld .

ES ·

Gelukkig is hierdie man gevang – en ek hoop hy sit lekker lank in die tronk.

Dries ·

Weer n nuttelose wat n waardevolle lewe geneem het. Waarom nie in sy eie buurt gaan rondjaag nie.

Casper ·

Braaf genoeg om gesuip agter ‘n kar se stuurwiel in te klim maar te lafhartig om ‘n beseerde man te help wat hy van sy fiets afgery het.Rugstekers,dronkgatte en moordenaars.

Swerwer ·

As die motoris in die Mamelodi hof moes verskyn vir ander oortredinge, verduiselik dit alles hoekom hy weggery het en weggekruip het. Sulke gewetenlose wesens moet ekstra swaar gestraf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.