Motoriste gaan nou éérs hoes, meen AA

Argieffoto (Foto: Paul Brennan/Pixabay)

Groot brandstofverhogings, meer as R1 per liter, sal na verwagting van Maart ingestel word op brandstof.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het kommentaar gelewer op die brandstofdata wat Vrydag deur die Sentrale Energiefonds (CEF) vrygestel is.

“Die data wys ʼn toename van R1,25 per liter vir 95-oktaan petrol; R1,24 per liter vir 93-oktaan; R1,29 per liter vir diesel; en ʼn beduidende toename van R1,22 vir paraffien,” sê die AA.

ʼn Analise van die beweging in brandstofpryse tot dusver in Februarie wys dat internasionale petroleumpryse ten volle blameer kan word vir die verwagte verhogings. ʼn Sterker rand/dollar-wisselkoers het ʼn effense buffer geskep.

“Sonder ʼn sterker wisselkoers sou die verhogings waarskynlik tussen R1,40 per liter en R1,47 per liter gewees het,” meen die AA.

Gegewe die huidige vooruitsig sal petrolpryse in Suid-Afrika waarskynlik vir die eerste keer meer as R21 per liter wees met 95-oktaan in Gauteng sowat R21,39 per liter en 93-oktaan sowat R21,13 per liter. Die vorige rekord was in Desember toe petrol R20,42 per liter gekos het.

Aan die kus sal 95-oktaan ook vir die eerste keer meer as R20 per liter kos en tot R20,67 per liter styg, gebaseer op huidige data.

Die prys van 95-oktaan in die binneland het verlede jaar in Maart R16,32 per liter gekos (ʼn styging van 31%). Diesel het sedert Maart 2021 R14,12 gekos (ʼn styging van 37%).

Paraffien, wat deur talle mense gebruik word vir beligting of om mee kos te maak, het in Maart 2021 R8,45 per liter gekos. Dié prys kan in Maart 2022 tot R13,19 per liter kos – ʼn styging van 56% jaar op jaar.

Alhoewel die verwagte stygings beduidend is, sê Dawie Roodt, hoof-ekonoom by die Efficient Group, dat dit in lyn is met huidige ekonomiese data. “Hierdie verhogings is nie onverwags nie. Dit word deur die syfers ondersteun, veral wat internasionale oliepryse betref,” sê hy. “Natuurlik is ons besorg oor die verwagte verhogings wat ongetwyfeld verdere druk sal plaas op verbruikers wat reeds steier. Hierdie groot verhogings beaam ook ons oortuiging dat ʼn hersiening van die brandstofprys nodig is om te bepaal of daar enige komponente binne die huidige prysmodel is wat verligting kan bring teen stygende kostes.”

Die AA doen gevolglik opnuut ʼn beroep op die minister van finansies om nie die algemene brandstof- of Padongelukkefondsheffings volgende week in sy begrotingsrede te verhoog nie. “Enige verligting – selfs al is dit net iets wat nie verhoog word nie – sal deur die verbruikers verwelkom word wat reeds ekonomies swaarkry.”

  • ʼn Petisie deur die AA, #Reviewthe Fuel, sal saam met ʼn skrywe van die AA aan die minister van finansies oorhandig word voor sy begrotingsrede op 23 Februarie. Ondersteun die petisie hier: https://aa.co.za/review-the-fuel/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jakes ·

Die ANC regering is te blameer vir die swak rand en al die bykomende heffings op die brandstofprys. Sedert 1994 veragter SA op alle vlakke

Corne123 ·

Die slegte nuus is ons as gewone mense kan niks net mooi niks hieraan doen nie kos en als gaan hoogte inskied.So ja al wat mens kan dien is betaal en niks anders nie

Willem Wikkelspies ·

Hulle sê korrupsie en kader ontplooing wis die middelklas van ‘n land uit ..
welkom in Afrika :-) .. halala, halala

Pietertjie ·

Die volgende mylpaal sal seker R30 per liter wees. Ek onthou nog toe my oupa in 1973 gesê het dat petrol nog tot R1 per gallon (4,5 liter) gaan styg…

Strandloper ·

Jip het my 50cc motorfiets met minder as R10 volgemaak.

Willem Wikkelspies ·

.. maar wat sal ‘n R1 se koopkrag in 1973 vandag werd wees .. R1 is seker nou gelyk aan die koopkrag van R100? .. dalk was jou oupa reg .. :-)

Jack ·

Hier is nou.Ons moet kies of ons gaan ry of nie.Ons moet besluit oor hoe ons van A na B sal beweeg.Ons moet besluit hoe ons die voedselpryse gaan moet absorbeer as gevolg van die petrolprys wat styg.Die einde is in sig.

Marius ·

Meer as R 8 per liter kan toegeskryf word aan btw en heffings. Die regering skep baie geld uit sy kiesers se begrotings.

Willem Wikkelspies ·

Die regering het ‘n paar ou melk koeie ..
daar’s Daisy of te wel, Eskom,
dan’s daar Floris of te wel Brandstof
en dan moet die kallers net nog groot word ..
soos Gawie of te wel grond belasting,
en moet nie praat van Vaatjie of te wel BTW nie.
Oo jeete, amper vergeet ek van die klein jakkalsies soos Motor lisensies, bestuurs lisensies, Paspoorte en al daai ander klein jakkalsies.

Ol’ Ramaphosa had a farm .. heeha, heeha, ho!

Willem Wikkelspies ·

Daar is iets kort in die artikel ..

So ‘n paar jaar gelede is ons land se reserwe voorraad vir ‘n appel en ‘n ei verkoop en die destydse minister het belowe dat hulle weer dit later teen ‘n goedkoper tarrief sal koop sodra hulle kan.
Daar is seker nogsteeds niks in daardie tenks en die geld het seker lankal sy pad gevind na KFC, BMW, Mercedes, Gucci ens se sakke.

Moet verder nie praat van die e-tol nie. Dink jy regtig dat die regering by die ‘ring fencing’ van etol gehou het en dat van die belasting wat ons so gemoedelik betaal op brandstof nie tog maar daar heen gekanaliseer is nie?

Laastens wil ek graag net vra of enig iemand al ‘n tou taxi’s by ‘n vulstasie gesien staan en volmaak het?
Hoekom kla hulle nie ook oor die brandstof nie? Laat die plaaslike regering net probeer om a bus diens in plek te sit en daar is skietery en sabotasie, maar as dit brandstof prys weereens styg .. nie ‘n woord nie.

Dit dinge laat mens dink né?

Blackies ·

Ongelukkig ontvang ons taxi bedryf brandstof subsidie anders kon ons nou saam ge staak het. Of die snelweë geblok het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.