Motoriste gaan opdok weens brandstofheffings

Argieffoto (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het Donderdag gesê motoriste moet hulself vanaf Aprilmaand voorberei op ʼn styging in brandstofpryse, ten spyte daarvan dat die internasionale brandstofprys waarskynlik deur die loop van Maart nóg verder gaan daal.

Luidens ʼn verklaring van die AA is dié styging in brandstofpryse te danke aan die brandstofheffings wat vanaf volgende maand met altesaam 52c per liter styg. Die algemene brandstofheffing styg met 22c per liter terwyl die heffing vir die Padongelukkefonds met 30c per liter styg.

Volgens die AA sal die basiese prys van petrol na verwagting met 12c per liter daal, diesel se basiese prys met 18c per liter en paraffien met 13c per liter. “Brandstofpryse sal egter ten spyte van dié dalings verhoog as gevolg van die 52c per liter-brandstofheffings wat in Aprilmaand in werking sal tree,” lui die verklaring.

Motoriste kan dus ʼn styging van sowat 40c per liter in die brandstofprys verwag wanneer dié brandstofheffings bygereken word.

Malusi Gigaba, die destydse minister van finansies, het in Februarie aangekondig dat die algemene brandstofheffing van R3,15 na R3,37 verhoog sal word en dat die heffing vir die Padongelukkefonds van R1,63 na R1,93 verhoog word.

Altesaam 38% van die prys vir ʼn liter 93-oktaan-petrol en 39% van ʼn liter loodvrye petrol gaan tans aan brandstofheffings.

Volgens die AA sal die prys van petrol in April na verwagting sowat R13,94 per liter wees, insluitend die brandstofheffing. Aan die kus sal 93-oktaan motoriste sowat R13,53 per liter uit die sak jaag.

Die AA sê die brandstofheffings is kommerwekkend en sal die armstes die heel ergste beïnvloed. “Die heffings is ver bo die inflasiekoers en sal ander pryse ook indirek beïnvloed – insluitend openbare vervoer. Die armes, wat reeds onder erge finansiële druk gebuk gaan, sal die ergste hiervan afkom aangesien belasting op toegevoegde waarde in dieselfde tydperk na 15% verhoog word. Hierdie heffings sal ongelukkig ʼn selfs swaarder las word vir diegene wat verligting die nodigste het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Snuffels ·

Vir elke liter petrol van elke voertuig oor die hele land…ek wonder hoeveel geld is dit dan???

Johann ·

Wonder of daar enige meganisme in plek is om te verseker dat die geld werklik na instandhouding en pov gekanaliseer word. Of net meer geld in ‘n bodemlose put?

Liesbet ·

Elke jaar dieselfde storie. Jaar in en jaar uit. Voor Paasnaweek gaan die brandstofprys gewoonlik op. Na Paasnaweek, goeie nuus vir die verbruikers, die prys kom weer af. Voor die Desember vakansie, slegte nuus, die prys van petrol styg. Na die vakansie, dan kom die petrolprys weer af. In SA het dit niks te doen met internasionale brandstofpryse of inflasie nie. “Iemand, ‘n hoër mag” speel lekker met die verbruiker se geldsak.

Petroldamp ·

Liesbet! Ek sal einde van die maand jou kar se tank vol maak!

Vermeende ·

En dan kom die 1% ekstra vir btw ook nog in werking in April.
Niemand waag dit meer om polony of hoemder te eet nie, wat gaan ons eet????

Boodskapper ·

Hierdie is ‘n kriminele en finansieële aanslag tot verdere vernietiging en verarming op die ganse mensdom.
Bly maar jul kruisies vir politidk gee by die stembus.
Binnekorg sal did lewende God self al hierdie kerklike en politieke kriminele in sy grimmigheid iit ons midde uitroei.
As Suid Afrika maar weet wat op haar wag, sal sy haar knieë stukkend en bloed belope kruip voor die Almagtige Skepper en met berou hul na Hom bekeer van hul gruwel werke.

Manie Strydom ·

Die enigste regering in die wereld wat ek van weet wat sy burgers straf omrede die regering onbevoeg is en dan stem die meerderheid nog vir hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.