Motoriste gemaan om versigtig te wees terwyl Ex-Dineo wes beweeg

Satellietfoto

Argief-satellietfoto van Dineo (17 Februarie 2017)

Dipuo Peters, minister van vervoer, het motoriste en bestuurders van openbare vervoer Saterdag gemaan om versigtig te wees op die paaie, terwyl die laedrukstelsel, wat met die onlangse sikloon verband hou, tans naby die grens van Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe is.

Die stelsel het tot wydverspreide reën oor die oostelike deel van Mpumalanga en Limpopo gelei. Die meeste reën is Donderdag in Mpumalanga aangeteken, waaronder Graskop (166 mm), Bourke’s Luck (96 mm), Kruger Mpumalanga-lughawe (61 mm) en die Barberton-gevangenis (49 mm), het die departement in ʼn verklaring gesê.

Reën duur voort oor Mpumalanga en Limpopo en dit sal na verwagting later vandag nog harder reën. Die waarskuwings vir die twee provinsies bly vir die res van Saterdag van krag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Saterdag verspreide donderbuie oor die noordelike dele van Mpumalanga en Limpopo voorspel, met swaar reën wat dan na verwagting na Botswana sal skuif.

Die res van die land kan geïsoleerde donderstorms oor die sentrale deel van die land te wagte wees, maar verspreid oor die suidelike Vrystaat en die Noord-Kaap, asook die Oos-Kaap.

“Motoriste word gewaarsku dat daar vertragings op die paaie kan wees as gevolg van die reën wat gewoonlik verkeersligte en sigbaarheid beïnvloed,” het Peters bygevoeg.

Motoriste word gemaan om hul hoofligte aan te hou, die volgafstand te vergroot en spoed te verminder tydens die nat toestande. “Diegene wat betyds wil wees, word dus aangeraai om vroeër te vertrek om vertragings te voorkom.”

Sy het ook gewaarsku dat motoriste nie tydens donderstorms en erge reënstorms moet ry nie, aangesien die paaie glad is met swak sigbaarheid.

Maroela Media het vroeër berig Dineo is eers van ‘n sikloon na ‘n tropiese depressie en daarna na ʼn laedrukstelsel afgegradeer. Lees alle vorige berigte oor die Dineo-sikloon op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nina ·

Dineo is al verby. Die huidige satalietfoto wys dat Dineo al ver oorbeweeg het en so te sê opgeklaar is. Hierdie is dus ou nuus en nie ware stand van sake nie. Die satalietfoto by berig is van Vrydag vroegoggend.

Sune van Heerden ·

Dagsê Nina

Dit is inderdaad ‘n vorige foto van Dineo. Ons pas die byskrif by die foto aan om dit só aan te dui. Ons vra om verskoning vir die verwarring.
Die geskrewe inligting in die berig is die jongste nuus.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Johann ·

Dis om soos oor jou skouer te kyk, terug in die verlede.

Terloops, die Noorweegse webwerf is maar die beste, dit gee ook animasie. Wens ons eie weerwebwerwe was so gevorderd.

Willie ·

Kom ons bestuur net Almal met ons Hoofligte aan. Nie om te sien nie, maar om Gesien te word.

WitBlits ·

Dit moet jy vir bestuurders vertel wat Afrikaans tot niet wll maak!

Jem ·

Asseblief mense slaan asseblief ag op die waarskuwing. Onthou ander padgebruikers gee nie gehoor aan die waarskuwings nie as jy moet bestuur doen dit ekstra versigtig.

Chris Ws ·

En hoe meer dit reen en hoe natter die paaie hoe vinniger ry die klomp mal mense op ons paaie.Dit self ervaar Vrydag naby Naboomspruit en op die N1 terug Pretoria toe.

Johann ·

Ex-Dineo? Onthou nou maar eerder hierdie voorspelling. Zuma trek nou ‘n haas uit die hoed. Kyk nou maar vir die Ex-Eskom-Hoof, hy gaan die nuwe nr 1 raak, die nuwe President, hy het die regte profiel en lyk ook na ‘n fors mens, wat ‘n bars kan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.