Motoriste gewaarsku oor opgraderings aan N2 in KZN

Motoriste word gewaarsku oor konstruksiewerk aan die N2 tussen die Kwamashu-wisselaar en Umdlotirivierbrug in KwaZulu-Natal.

Konstruksievoertuie sal van die vinnige laan in die verkeer in moet beweeg, verduidelik die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

“Motoriste word versoek om waaksaam te wees en die konstruksievoertuie toe te laat om van die vinnige verkeerslaan oor te beweeg na die stadige lane,” sê Trevor Zumani, projekbestuurder vir Sanral se Oostelike streek.

Deurnagwerk begin op 4 Oktober en behels opknapping aan die padmerktekens en om die betonversperrings weer in posisie terug te skuif. Dit sal ná spitstyd gebeur en sal na verwagting nie ʼn groot verkeersontwrigting veroorsaak nie.

“Die langtermyn-sluiting en/of laanbreedte-beperkings op die N2 noord van Mount Edgecombe sal na verwagting tot 2026 voortduur,” sê Zumani. Daar sal egter deurgaans twee lane beskikbaar wees in albei rigtings, maar dit sal effens nouer wees en die skouer sal ook vernou word. “Ontwrigting behoort minimaal te wees.”

Tussen die Umhlangarivierbrug en die Mount Edgecombe-wisselaar is daar gereeld voetgangers op die pad. “Met die vernoude skouer is dit moontlik dat taxi’s ook in die stadige laan kan stilhou. Motoriste word gemaan om geduldig te wees, stadiger en versigtig te bestuur en om genoeg ruimte tussen voertuie te laat.”

Sanral bedank motoriste vir hulle geduld tydens die konstruksieperiode.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oumie7 ·

Wat het van die wet geword dat geen voetganger die deurpaaie mag gebruik nie, nou wil jy my vertel ‘n taxi kan daar stop en mense op en af laai ag nee regtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.