Motoriste gewaarsku oor ‘rylopers’ wat roof, verkrag

pad_argief

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Polisie in Mpumalanga het waarskuwings aan rylopers en motoriste uitgereik oor die gevare daaraan verbonde om saamrygeleenthede aan vreemdelinge aan te bied en te aanvaar. Dít volg nadat ʼn aantal rylopers en motoriste in dié provinsie die afgelope paar maande beroof en selfs verkrag is.

In een só ʼn voorval in Maart vanjaar het ʼn motoris drie mans op die N12 opgelaai. Die mans het oorpakke aangehad en die motoris het aangeneem dat hulle pas klaar gewerk het en het vir hulle jammer gevoel.

“Kort nadat die motoris die rylopers opgelaai het, het een van hulle die man gewurg en hom in die agtersitplek in forseer. Hulle het die motoris in ʼn afgeleë gebied afgelaai en met sy silwerkleurige Toyota Etios weggery,” het brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.

In ʼn afsonderlike voorval in Mei het ʼn minibustaxibestuurder ʼn saamrygeleentheid aan ʼn ryloper in Bronkhorstspruit aangebied. Die ryloper wou glo in die rigting van die KG-inkopiesentrum in Emalahleni (Witbank) gaan om geld te kry vir petrol vir sy motor. Op pad daarheen het die ryloper egter gevra dat die taxibestuurder nóg ʼn man by sy huis optel.

“Kort nadat die tweede man opgelaai is, het die twee ʼn vuurwapen op die bestuurder gerig en beheer van die minibustaxi oorgeneem.”

In die loop van die dag het die twee verdagtes die bestuurder as gyselaar aangehou en pendelaars opgelaai en van hul besittings beroof.

“Die twee mans het later dieselfde dag twee vroue opgelaai en hulle saam met die bestuurder na nabygeleë bosse gesleep. Hulle het die bestuurder forseer om een van die vroue te verkrag terwyl hulle beurte gemaak het om die ander vrou te verkrag,” het Hlathi gesê.

Die verdagtes het die bestuurder, sowel as die twee vroue vasgemaak en in die bosse agtergelaat. Hulle is later deur ʼn verbyganger gered.

Meer onlangs het ʼn 45-jarige man op pad van Sabie na Witrivier vroeër vandeesmaand amper sy lewe verloor toe drie mans in ʼn blou Suzuki hom ʼn saamrygeleentheid aangebied het. Die verdagtes het die ryloper van sy selfoon, kontant en bankkaarte beroof en die man opdrag gegee om geld elektronies na hul rekeninge oor te plaas terwyl hulle ʼn vuurwapen op hom gerig het.

“Die verdagtes het die man uit hul kar gegooi en ʼn paar skote afgevuur terwyl die man gevlug het vir sy lewe.”

Genl.maj. Thulani Phahla, waarnemende provinsiale kommissaris in Mpumalanga, het benadruk dat die publiek formele vervoerstrukture moet gebruik in plaas daarvan om rylopers op te laai of saamrygeleenthede te aanvaar.

“Ons is bewus van Suid-Afrikaners se ekonomiese uitdagings en dat gratis saamrygeleenthede dikwels al uitweg is. Die lewens van die publiek is egter belangriker as enigiets anders, daarom waarsku ons die publiek oor dié gevare,” het Phahla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elinette ·

“Die publiek moet formele vervoerstrukture gebruik i.p.v. om rylopers op te laai of saamrygeleenthede te aanvaar” … Inderdaad – die een geval was dan ‘n taxi-bestuurder wat gekaap is, aangehou is en wat gedwing was om ‘n vrou te verkrag …………. Uhm, BTW – hoe kry iemand dit reg om ‘n ander man te dwing om ‘n vrou te verkrag?? Help my gerus reg as ek verkeerd is.

modiglianigirl ·

My vraag óók. Hoe word ‘n man gedwing om te verkrag?

SjN ·

Drywers wat hul wekgewers se voertuig gebruik om teen betaling vir sy eie sak hul op te laai.

lodewyk ·

Nee wat jy soek vir moeilikheid as jy nog ry lopers optel,gee nie om wie dit is nie,daai dae is al 27 jaar terug verby

Keith ·

Die selfde inligting is van toepassing vir mense wat by a ongelukstoneel wil stop om te help ! Ry liewers verby en gebruik jou selfoon om noodienste te bel.

Marius Gerhardus ·

Ja nee. Waar gaan ons land heen? Kani mense help nie. Kani mense vertrou nie. So ek stop vir niemand en niks langs die pad nie. Maak nie eers my venster by robot oop as iemand wys hy wil met my praat nie.

JohanR ·

Ek hou van die manier Marius G hoe hulle na jou motor wys asof daar ietsie verkeerd is en hulle dan hoop jy sal jou venster afdraai. Ek lag net vir hulle……#Voertsak!

Henryet ·

Vroeer jare is rylopers gewaarsku dat hulle verkrag of vermoor kan word.
Die lewe verander heelwat.

boerie ·

Kan die polisie 2+2 bymekaar sit?As hy n man by sy huis moes optel weet hy mos waar die ou bly.

Eugene ·

Jy mag natuurlik ook nie jouself verdedig teen sulke mense nie, aldus minister Cele

JohanR ·

Vraag 1 : waag dit nog om in SA te ryloop? Vraag 2 : waag jy dit nog om in SA ‘n rylooper op te laai? Niemand in my kar tensy dit familie of vriende is nie. As ek by ‘n ongeluks toneel iemand in my kar moet hospitaal toe jaag sal ek dit doen, maar in die nuwe SA moet maar baie versigtig wees wie sit in die sitplekke in jou motor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.