Motoriste gewaarsku oor sneeu; paaie dalk gesluit

Foto: https://pixabay.com

Foto: https://pixabay.com

KwaZulu-Natalse verkeersowerhede het Sondag motoriste gewaarsku om paaie wat deur sneeu en ysreën geraak is te vermy.

Die Padverkeersinspektoraat (RTI) het in ʼn verklaring gesê swaar sneeu word later vandag in sekere gebiede verwag wat tot Dinsdag kan duur. Die huidige koue front het nou tot verskeie gebiede in KwaZulu-Natal en die Vrystaat uitgebrei, onder meer Mooirivier, Ladysmith, Van Reenenspas, Harrismith en Bethlehem.

“Met ligte sneeuval en ysreën wat reeds in hoërliggende areas langs die N3-tolroete begin het, word motoriste gewaarsku om indien moontlik hierdie gebiede te vermy. Daar bestaan ook die moontlikheid dat plaaslike inwoners en reisigers in die areas ingesneeu kan word omdat paaie moontlik gesluit sal moet word vir veiligheidsredes,” lui die verklaring.

Dave Steele, die RTI se Ladysmith-distriksbevelvoerder, het gesê daar word verwag dat die bestuurstoestande gevaarlik sal wees omdat ʼn yslaag op die paaie kan vorm. Hy het gesê die owerhede sal die pad in so ʼn geval sluit.

Volgens Steele is alle nooddienste, reddingspanne en verkeersowerhede op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas om bystand te lewer waar nodig.

Con Roux, die N3-tolroete se kommersiële bestuurder, het gewaarsku dat selfoon- en ander telekommunikasienetwerke ook deur gure weer beïnvloed kan word en dat dit daarom veiliger is om eerder dié gebiede te vermy. “Indien mense geen ander keuse het as om deur die gebiede te reis nie, wees bewus van weerwaarskuwings en inligting oor paaie wat gesluit is,” het Roux gesê.

“Pak ekstra komberse, kos en verversings in jou motor indien jy lank êrens moet sit as ʼn pad gesluit word. Mense met mediese probleme moet ook seker maak dat daar genoeg mediese voorrade en medikasie in die motor is. Moenie kanse vat nie en slaan ag op waarskuwings van die owerhede.”

Vir meer inligting oor weer- en verkeerstoestande kan die Twitter-profiel @N3Route gevolg word of skakel die N3-tolroete se kliëntedienslyn by 0800 634 357.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Natuurlik gaan daar weer ‘slimmes’ wees want die ondervinding om op hierdie soort paaie te bestuur ontbreek of/en daar is net doodeenvoudig ‘n ongeduld om nie stadiger (BAIE STADIGER) te ry. Dit sluit viertrek voertuie ook in. Dit is alreeds ‘n aardige gevoel om oor die pad te skaats heeltemal in ‘n rigting waarheen jy nie wil gaan en dit terwyl jy alreeds kruip op die pad, dan wil ek nie weet wat gebeur indien jou ongeduld maak dat jy té vinnig ry vir omstandighede.

Theresas ·

Bly so ver moontlik nou van berge en passe af weg. Dis vir die trokdrywers ‘n groot plesier om daar te jaag en nou is gly ook nog ‘n moontlikheid. Die weer hou darem nie vir altyd aan nie – kyk of mens nie liewer van die pad kan af bly nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.