Motoriste gewaarsku oor swaar verkeer, nat pad

(Argieffoto)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) waarsku teen swaar verkeer en nat weersomstandighede wat bestuurstoestande dié Paasnaweek kan bemoeilik. Motoriste wat die landpad die langnaweek wil aanpak, word gemaan om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan.

Die N3TC voorspel swaar reën, donderstorms, mis en swak sig tydens spitsverkeertye op Donderdag en Vrydag op dié tolroete.

Spitsverkeertye op die N3-roete word Donderdag tussen 15:00 en 21:00, Vrydag tussen 09:00 en 12:00, asook Maandag tussen 09:00 en 15:00 verwag. Druk verkeer word Donderdag en Vrydag veral in ʼn suidelike rigting en Maandag in ʼn noordelike rigting verwag.

Tydens spitstye op Donderdag en Vrydag kan verkeer met tot meer as 2 500 voertuie per uur toeneem, terwyl die verkeer op Maandag met tot 3 500 voertuie per uur kan toeneem.

Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC, raai motoriste aan om vooruit hul reise te beplan om bykomende risiko’s te vermy – soos laataandbestuur, moegheid en ʼn gebrek aan konsentrasie. Sy raai motoriste ook aan om hul reise buite spitstye te beplan.

Dhoogra waarsku motoriste dat padwerke tussen Frankfort, Vrede en Warden verdere moontlike opeenhopings en vertragings op die N3-tolroete kan veroorsaak. Bane bly by konstruksieterreine gesluit omdat die N3TC en sy kontrakteurs padwerkprojekte voortsit.

Dhoogra vra motoriste ook om streng by die spoedbeperkings by konstruksiegedeeltes te hou.

Afgesien van swaar verkeer in spitsverkeertye kan verkeersopeenhopings by tolhekke verdere vertragings op die pad veroorsaak.

Nood- en wetstoepassingsdienste sal van Donderdag tot Maandag op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas word.

Dhoogra sê omdat die meeste ongelukke plaasvind weens menslike foute of roekelose bestuur, moet motoriste ten alle tye die nodige voorsorgmaatreëls nakom om veilig by hul bestemmings aan te kom.

Sy vra dat motoriste getrou by die spoedbeperkings hou en ’n veilige volgafstand hou.

Enige probleme op die N3 kan by die 24-uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Duck ·

Ja, did goedkoper en veiliger om tuis te bly. Teen R22 per liter gaan ek beslis nèrens nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.