Motoriste gewaarsku teen kapings in NW

Argieffoto

Die polisie in Noordwes het motoriste gewaarsku om bewus te wees van kapers se werkswyse nadat ʼn aantal bestuurders die afgelope paar weke slagoffers van kapers geword het.

Lt.kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê motoriste wat op die N14 en R503 tussen Ventersdorp en Coligny en tussen Coligny en Lichtenburg reis moet veral waaksaam wees wanneer hulle langs die pad stilhou of deur ander motoriste gevra word om stil te hou. “Dit kan moontlik kapers wees,” het sy gesê.

Myburgh het gesê verlede maand is ʼn motoris op die N14 voorgekeer deur ʼn persoon wat hulp versoek het ná ʼn beweerde rooftog. “Die bestuurder het stilgehou om die persoon te help en skielik is daar ʼn vuurwapen op hom gerig. Hy is daarna gedwing om saam met drie verdagtes in sy motor Klerksdorp toe te ry,” het Myburgh gesê.

“Hy is vasgemaak en gedwing om op die agtersitplek van sy motor te lê. Die kapers het hom later by ʼn grondpad naby ʼn myn by Oos-Driefontein afgelaai en met sy voertuig en persoonlike besittings op die vlug geslaan.”

Myburgh het gesê in nog ʼn onverwante voorval het ʼn motoris op die N14 naby Coligny naby ʼn vulstasie afgetrek. ʼn Onbekende man het hom genader en vir aanwysings gevra. Terwyl hulle besig was om te praat, het die man skielik ʼn vuurwapen op die motoris gerig en hom gedwing om Coligny toe te ry. Hy is van sy voertuig en persoonlike besittings beroof en langs die pad gelos.

“Daar word ʼn beroep op motoriste gedoen om versigtig te wees wanneer hulle deur onbekende mense voorgekeer word en om sulke voorvalle by die naaste polisiestasie aan te meld,” het Myburgh gesê

Sy het die volgende wenke aan motoriste gegee om hul en hul passasiers se veiligheid te verseker:

  • ʼn Motor wat goed onderhou word het minder kans om langs die pad onklaar te raak en die insittendes in ʼn weerlose posisie te plaas.
  • Beplan jou roete vooraf en laat iemand weet wanneer jy na verwagting by jou bestemming sal arriveer.
  • Kyk gereeld in jou tru-spieëltjie om seker te maak jy word nie agtervolg nie.
  • Vermy om met jou vensters oop te ry, sluit jou deure en bêre waardevolle items buite sig.
  • Vermy goed wat jou aandag aflei, soos selfone.
  • Indien jy vermoed dat jy agtervolg word, ry na jou naaste polisiestasie of ʼn besige openbare plek.
  • Wanneer jy ʼn rooi verkeerslig nader, verminder jou spoed sodat jy dit bereik wanneer dit oorslaan na groen, veral in die aand.
  • Indien moontlik, parkeer altyd in ʼn sentrale, goedbeligte plek, verkieslik waar daar veiligheidswagte aan diens is.
  • Wanneer jy agter ʼn ander voertuig stilhou, los genoeg spasie voor jou voertuig sodat jy kan wegry indien nodig.
  • Vermy dit om deur onbekende gebiede te ry en probeer om nie laat in die aand of in die vroeë oggendure te ry as die strate stil is nie.
  • Indien moontlik, ry in die middelbaan weg van voetgangers af.
  • Probeer om sover moontlik nie alleen te ry nie.
  • Moet nooit enige vreemdelinge of rylopers oplaai nie.
  • Moet nie altyd dieselfde roetes volg nie; verander jou daaglikse roetes gereeld.
  • Kapers kan ʼn klein ongeluk met opset veroorsaak om jou te dwing om stil te hou. Indien jou voertuig van agter gestamp word en jy voel nie gemaklik met die situasie nie, dui vir die persoon aan om jou te volg en ry na jou naaste polisiestasie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hanna ·

En weereens moet die wetsgehoorsame burger nog meer versigtig wees: moenie dit doen nie, moenie dat doen nie… Ons is mos nou gewaarsku. Wat van n bietjie politieke wil en trek die verdomde misdadigers vas?! Dit voel al hoe meer of ons wetstoepassers die stryd heeltemal verloor het. Gooi maar die warm patat vir iemand anders. Belaglik!

jan alleman ·

Ek stem saam , waar is die ou polisiemanne wat bietjie vir die rowers lokvalle sou stel en hulle vang inplaas daarvan om vir ons te preek oor wat ons moet doen , die rowers gaan mal want hulle weet die polisie is onbevoeg

karen ·

Feit is 9 uit 10 van die önskuldige voorvalle betrek prostitute. Nie almal maar hoekom sal jy as wetsgehoorsame mens langs die pad stop om hulp te verleen aan onbekende in hierdie tye ? nee jammer …..

marous ·

Die polisie moet versigtig wees , daar is kapers wat mense aanval. Hulle moet maar eerder by hul huise bly.

Elsa ·

Simpel om borde op te sit HOT SPOT…..WAAR is die polisie as hulle weet van gevaar plekke, dieselfde Sandton omgewing waar is sigbaarheid…helemal nou genoeg gehad,, ons gebedes sal die dowe ore van regering nou bykom
motoriste moet versgtig wees en polisie vas aan die slaap want hulle weet wat aangaan..SIGBAARHEID of is hulle bang

Vermeende ·

Ok die SAPD info het nou sy werk gedoen en die publiek gewaarsku, wat gaan hulle nou doen om die pad veilig te maak, hoekom hoor ons nooit daai planne nie.

Sparkie ·

Ek het gedink “Hot Spot” is die ander naam vir Spur en KFC

sê maar net ·

Daar is nog SAP en gemeebskapsled (anders as die wat net op die paveljoen sit) wat wel nog meer as die ekstra myl loop. Hul vang dan versein hul in hof dan hul 3dae later vry. WET EN ORDE IS TEEN SAP KRIMENELE HET MENSE REGTE EN WETSGEHOORSAME BURGERS EN TROTSE SAP NIE!!!!!! PUNT!!!!!

bgj van der westhuizen ·

in die land is die sapd van geen waarde nie wand hulle het so baie swak lede wat hulle self ook aan mis daat skuldig maak en daar om kan hulle mos nie hulle broers vang nie

Diana Nortman ·

Ons het ‘n klip deur ons voorruit gekry die 2 de Saterdagaand van die Julie vakansie net voor Potchefstroom aan Ventersdorp se kant. Ons kon gelukkig ry tot by die polisiestasie op Potch . Ys om te dink wat kon gebeer het as ons langs die pad stilgehou het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.