Motoriste kan JMPD-boetes kanselleer

Argieffoto.

Argieffoto.

Motoriste wat tussen Augustus 2010 en 21 Desember 2012 boetes van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) deur gewone pos ontvang het, kan aansoek doen om dit te kanselleer.

Dit volg nadat Thuli Madonsela, openbare beskermer, op 18 Desember bevind het dat die JMPD onbehoorlik opgetree het toe hy tydens die tydperk boetes deur gewone pos, in plaas van geregistreerde pos, aan motoriste gestuur het en dat dit teenstrydig is met die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto)-wetgewing.

Gerrie Gernicke, direkteur van die JMPD, het Donderdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê die JMPD het voldoen aan die voorstelle wat die openbare beskermer oor die aangeleentheid gemaak het.

“Motoriste kan aansoek doen vir ʼn kansellasie en die stad sal daardie boetes kanselleer,” het Gernicke gesê.

Motoriste kan aansoek doen deur ʼn Aarto-verteenwoordigingvorm te voltooi. Die vorm is op Aarto se webwerf of in die kantore van die JMPD beskikbaar.

Gernicke het gesê motoriste wat reeds boetes betaal het wat gedurende die tydperk deur gewone pos ontvang is, is nie geregtig op ʼn terugbetaling nie aangesien hul reeds skuld erken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.