Drie mense het Donderdagoggend slegs geringe tot matige beserings opgedoen, nadat ʼn vrag steenkool op ʼn hoofweg in Diepkloof, Gauteng, op hul motor beland het. ʼn Vragmotor het skynbaar sy vrag steenkool op die N12 verloor en dit het op die slagoffers se voertuig omgeslaan. Die voertuig is heeltemal deur die vrag platgedruk.
Paramedici beskryf die drie insittendes se oorlewing as ʼn “wonderwerk”.
Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê paramedici is die oggend net ná 08:00 na die toneel ontbied. Met hul aankoms op die toneel kon hulle slegs die voorste deel van die voertuig sien wat onder die vragmotor se wavrag uitgesteek het.
Van Huyssteen sê die drie insittendes was steeds in hul voertuig vasgekeer.
ER24 en die Stad Johannesburg se brandweerdienste het sowat ʼn uur lank gespook om die insittendes onder die wavrag en uit die voertuig te bevry. Hulle is daarna deur paramedici behandel.
“Al drie insittendes het geringe tot matige beserings opgedoen,” sê Van Huyssteen. Hulle is per ambulans na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.
Van Huyssteen sê dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.
- Daar is omtrent ‘n uur lank gespook om die insittendes onder die wavrag uit te kry (Foto: JMPD via Twitter)
- Paramedici beskryf die drie insittendes se oorlewing as ʼn “wonderwerk” (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
6 Kommentare
Live to die another day, joh hul kan dankbaar wees.
Amen, dankie vir die wonderwerk, liewe Vader. God se Hand wat hul beskerm het
Dit lyk absoluut onmoontlik om daaruit te klim terwyl jy nog asem haal . Engele het vir hul geglimlag daardie oomblikke. Hulle moet so dankbaar wees !
Dis genade op genade.
Inderdaad ñ wonderwerk!