Motoriste steeds in duister oor Aarto

Argieffoto: Pixabay

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê motoriste is nog in die duister oor of die omstrede Wysigingswet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) nou wel op 1 Julie in werking gaan tree. Volgens dié organisasie is daar te veel onbeantwoorde vrae oor die inwerkingstelling van dié stelsel. Die wet is boonop nog nie eens in die Staatskoerant gepubliseer of ʼn tribunaal vir die hantering van sake wat hiermee verband hou, aangestel nie.

Die AA het vroeër vandeesmaand ’n beroep op die regering en die padverkeersoortredingsowerheid (RTIA) gedoen om lede van die publiek duidelik in te lig oor hoe dié wetgewing hulle vanaf 1 Julie sal raak, wat dit behels en wanneer die volgende fases van Aarto sal geld.

“Ongelukkig was daar nog geen verduideliking oor die finale Aarto-wet nie, en motoriste landswyd is nog steeds nie seker wat op 1 Julie gaan gebeur nie,” sê die AA.

Aarto sluit ’n strafpuntstelsel vir motoriste in en het onder meer ten doel om minder ernstige verkeersoortredings aan administratiewe prosesse te onderwerp, terwyl die hof steeds strafregtelike verkeersoortredings sal hanteer.

Dié wetsontwerp is in Augustus 2019 bekragtig en sou na verwagting in Junie 2020 in werking tree. Dit is egter weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Die direkteur-generaal van vervoer, Alec Moemi, het in Mei vanjaar aangekondig dat fase 1 van die Aarto-stelsel op 1 Julie in werking gestel sal word. Die stelsel sal oor vyf fases geïmplementeer word.

Nou, twee dae voor die beloofde datum, is die besonderhede van die wet steeds nie in die Staatskoerant gepubliseer nie. Daar is ook nog nie ’n appèltribunaal – wat ingevolge dié wetgewing die hele Suid-Afrika moet bedien – aangestel nie.

Maroela Media het vroeër berig adv. Stefanie Fick, regskenner en woordvoerder by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), het ook aangedui dat daar verskeie praktiese en administratiewe uitdagings is wat met die inwerkingstelling van die Aarto-wetgewing gepaardgaan.

“’n Gebrekkige en onregverdige administratiewe proses kan egter tot die skending van motoriste se grondwetlike regte lei. Dít sluit in dat boetes of kennisgewings verkeerdelik uitgereik word met die gevolg dat jy foutiewelik met strafpunte teen jou naam sit. Die uitreik van boetes en kennisgewings is op sigself ook gebrekkig,” het Fick gesê.

Fick het ook daarop gewys dat die regering nie oor die vermoë beskik om die stelsel nasionaal in te stel nie, omdat dit reeds sedert 2008 in Johannesburg en Tshwane van krag is en glo ʼn kolossale mislukking is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fedup ·

What a conundrum for this circus. Unfortunately it will become a big headache for all of us.

Tanniepetoors ·

Daar’s ‘n klok, maar nie plek vir die klepel nie.

VaalDonkie ·

Ek woon in Kaapstad. so 8 jaar gelede ry ek ‘n sedan met nommerplaat CA 123420 (nie rerig nie, maar lees verder). hier kry ek ‘n e-toll rekening vir R200 omdat ek kwansuis op daai pad gery het. die dokument noem my kar op sy naam en kleur. Die foto wat hulle saamstuur het ‘n groot vragmotor met die nommerplaat CA 123400. so bel ek toe mos maar en seg “kyk op die foto, sien die nommerplaat is anders. EN dis ‘n vragmotor, en julle self seg ek het ‘n sedan”. “Ja ek sien”, seg die mannetjie. “So wat jy nou moe doen is om ‘n be-edigde verklaring te gaan maak by die polisie, dan stuur jy die verklaring via geregistreerde pos aan ons”, gaan hy voort.

So nou moes ek gaan sweer dat die paloekas ‘n fout gemaak het. Hulle weier om die ooglopende fout self reg te maak. Ek moes onder eed gaan sweer hulle is onnosel.

Nico ·

Ek wonder of Aarto self weet wat hulle wil hê, die taxi eienaars gaan weer wegkom. Die taxi’s is mees disrespekvol, ongedissiplineerde bestuurders op die pad hulle is die oorsaak van die meeste pad ongelukke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.