Motors brand uit op Leeukop

Brand op Leeukop (Foto: SANParke)

Huise is beskadig en minstens vyf motors het uitgebrand toe ʼn brand Sondag in die omgewing van Tafelberg uitgebreek het.

SANParke het bevestig die motors het by Leeukop-wandelpad se ingang gestaan toe ʼn brand omstreeks 13:00 in die omgewing van Tafelbergweg uitgebreek het. Weens die suidooster het die brand vinnig oor Kloofnekweg gespring en verder op Leeukop gewoed.

Helikopters moes laatmiddag onttrek word weens wind van tot 60 km/h op Leeukop met rukwinde van tussen 70 km/h en 80 km/h.

Meer as 200 brandbestryders van verskillende dienste, waaronder Tafelberg- nasionale park, NCC Wildfires, Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens, Volunteer Wildlife Services en Working on Fire, het reageer op die brand.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens, het gesê inwoners van Nettletonweg is teen omstreeks 21:00 ontruim. Tydelike skuiling is by die Clifton-gemeenskapsaal beskikbaar gemaak.

Brandbestryders het te midde van gevaarlike omstandighede deurnag gespook om die brand onder beheer te bring. Verskeie paaie in die gebied is gesluit.

“Die stad kan bevestig motors en eiendomme is in die brand beskadig,” het Carelse bygevoeg. “Verdere besonderhede sal later bekend gemaak word. Ons primêre fokus op die oomblik is om die brand onder beheer te bring en verdere risiko aan eiendom en lewens te beperk.”

Hy het sy dankbaarheid uitgespreek vir lede van die gemeenskap wat verversings en ander benodigdhede geskenk het. Skenkings soos water, ys, energiedrankies, oogdruppels, sonskerm, energiestafies, sjokolade, ens. kan steeds by Roelandstraat-brandweer ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter J ·

Ek dink hierdie tipe brande word veroorsaak deur sogenaamde bergies (bosslapers). Daar is baie van hulle in daardie omgewing. Dit is ń groot probleem. Behalwe dat hulle orals vuur maak, bemors hulle die omgewing en beskadig hulle heinings om kortpaaie te kan loop. Sommige van hulle loop ook heen en weer oor snelweĕ.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.