Motorverkoopsman in hof vir beweerde R10 miljoen bedrog

Argieffoto

Argieffoto

Die eienaar van ʼn gelikwideerde motorhandelaar in Parow in die Wes-Kaap en sy finansiële bestuurder het Woensdag in die hof verskyn op talle aanklagte van bedrog van meer as R10 miljoen.

Jaco Johan Smit (40) en sy lewensmaat, Cecile Heyns (29), het in die gespesialiseerde kommersiële misdaadshof in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn.

Smit was die eienaar van 3 Way Auto in Voortrekkerweg in Parow, terwyl Heyns as sy finansiële bestuurder gewerk het. Hulle staan saam tereg op 108 aanklagte van bedrog.

Hulle is nie gevra om te pleit nie, maar advokaat Jannie Knipe, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê hulle sal skuld op die aanklagte erken tydens pleitooreenkomsverrigtinge op 25 Februarie. Sou die pleitooreenkoms nie uitwerk nie, sal die saak gewoonweg verhoor word.

Smit en Heyns word daarvan beskuldig dat hulle nie uitstaande skuld op gefinansierde voertuie wat ingeruil is, vereffen het nie en ook nie voertuie aan kopers afgelewer het wat deposito’s of ten volle betaal het nie. Hulle het ook na bewering waardelose tjeks uitgeskryf om vir motors te betaal wat hulle by privaateienaars gekoop het. Hulle het glo ook nie die nodige registrasiedokumente verskaf nie, wat die kopers verhoed het om die motors op hul name te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DPJ ·

Al is die leun hoe snel die waarheid agterhaal hom wel.
Hoe kan persone dink hulle sal daarmee weg kom?

Deon Bruyns ·

“Sometimes you can fall so fast that you think you are flying!”

Terisa ·

Met die Here se genade het ek my voertuig opgespoor in Brits en die eienaar van die Motorhandelaar het my voertuig aan my terugbesorg SONDER huiwering hy het die verlies op hom geneem. Ek wil nogsteeds weet hoekom soveel mense in soveel finansiele verknorsing gelos het???????

Sue Cronje ·

Anc moet ontslae raak van al die buitelandse kontrakteure wat in bestuur poste op Medupi en Kusile kragstasies teen hoog betaal word, dan sal die werk klaar kom en Suid Afrika. Minder kos en werk vir die Suid Afrikaners wees, en dit is ‘n bewys mense

Gerhard ·

Sue-Cronje, ek dink jy het by ‘n verkeerde berig jou kommentaar gelewer. ANC en die berig het hoegenaamd niks met mekaar te doen nie behalwe dat bedrog en verneukery by ANC gekoppel kan word.

GES ·

Dit gaan my verstand te bowe dat skelms dink hulle gaan met hierdie tipe bedrog wegkom. Dit is soos om ‘n wandaad in die beeldveld van ‘n sekuriteitskamera te pleeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.