Motorvervaardiger gee nuwe pa’s ook ses maande verlof

(Argieffoto: Verskaf)

Volvo Suid-Afrika het onlangs deel van ʼn wêreldwye inisiatief geword met dié maatskappy se onderneming dat sy mans- en vrouewerknemers dieselfde ouerskapvoordele geniet.

Die motorvervaardiger het ʼn geslagsgelyke ouerskapverlofbeleid geïmplementeer waarvolgens ma’s én pa’s ses maande ouerskapverlof teen 80% betaling ontvang. Dié voordeel is ook van toepassing op ouers van dieselfde geslag, asook ouers van aangenome kinders.

Luidens ʼn verklaring deur Volvo SA beteken dit dus dat elke pa ook ses maande tuis kan deurbring wanneer ʼn nuwe asem deel van die huisgesin word.

Volgens Volvo is dié beleid die eerste van sy soort in die Suid-Afrikaanse motorvervaardigingsbedryf en hou dit tasbare voordele vir ouers én kinders in.

“As deel van Volvo Cars se langtermynstrategie om ʼn voorkeurwerkgewer in Suid-Afrika te wees, is die ouerskapverlofbeleid ʼn welkome inisiatief om ʼn inklusiewe kultuur te skep wat sal voortgaan om ʼn diverse groep werknemers te lok en te behou,” het Greg Maruszewski, Volvo SA se besturende direkteur, gesê.

“Dit sal die balans tussen werk en lewe van werknemers verbeter, familietyd bevorder en pas in by ʼn progressiewe mense-gesentreerde maatskappy soos ons s’n.”

Volgens Volvo SA bestaan daar steeds ʼn groot teenstrydigheid in Suid-Afrika tussen die ouerskapverlof wat aan ma’s en pa’s gebied word, dikwels tot nadeel van pa’s. Die maatskappy meen dat gelyke ouerskapverlof nie net tot voordeel van mans is nie, maar ook potensieel die arbeidsmark- en loopbaangeleenthede vir vroue kan verbeter deur loopbaan- en salarisgapings te verminder.

“Die wenners in die stryd vir talent sal maatskappye wees wat diversiteit, geslagsgelykheid en moderne en buigbare werkspraktyke en werknemerwelstand voorop stel,” het Maruszewski gesê. “Om die beste mense te lok en te behou is noodsaaklik en ons weet dat vaardige talent meer selektief sal wees wanneer hulle ʼn werkgewer kies.”

Volvo SA se nuwe verlofbeleid kom sowat ses maande nadat die Wysigingswetsontwerp op Arbeidswette in November verlede jaar onderteken is ook in ʼn poging om meer verlof aan nuwe pa’s te bied. Volgens dié wysigingswet is ’n ouer wat nie vir kraamverlof kwalifiseer nie nou geregtig op tien dae se agtereenvolgende ouerskapverlof wanneer die kind gebore word of wanneer ’n aannemingsbevel toegestaan word.

Dié wysiging het gekom nadat ʼn pa van Kaapstad, Hendri Terblanche, ʼn petisie by die Nasionale Raad van Provinsies ingedien het waarin hy versoek het dat werkende mans se vaderskapverlof van drie dae na tien dae verleng moet word. Terblanche het aangevoer dat die drie dae gesinsverantwoordelikheidverlof wat toegestaan word, nie genoeg is nie, veral in die geval van keisersneë, vroeggebore babas, siektes of ander noodgevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Ja Nee ·

Ek het gemengde gevoelens oor die, kan Volvo dit bekostig en wie gaan vir dit betaal?

Susan ·

Iemand soos Zuma met sy baie vroue en 20 kinders gaan dan 10 jaar betaalde verlof kan neem. Moet net die kinders by die verskillende vroue mooi beplan dat hulle so op ‘n streep gebore word.

Sies ·

Ons werk gee 4maande vir vroue…en teen 50% betaling. Dis beter as niks…maar kom nie naastenby by Volvo nie. Dalk is dit n beter manier om al die winste aantewend as om vir die CEO miljoene bonus te gee

Skoal Volvo!! ·

Skool die mense werelwyd dat ouerskap in bele moet word! Hierdie gelukkige babas se kanse is groot om nie gedragsafwykings te toon nie en sal oor die drif beskik om ‘n tersiere kursus te kan voltooi.

Sanna ·

Lees bietjie op oor vaderskapverlof in Japan. Jy sal aangenaam verras wees om te sien watter ontsettende groot en positiewe impak dit het op die kleingoed en die steun wat dit aan die moeders bied. Dis werklik ‘n belegging vir die toekoms.

Oom Walker ·

Sommige Suid-Afrikaanse mans wat meer as 2 vrouens het, kan dus nou kwalifiseer vir permanente vaderskapverlof?

Yip ·

Die volk gaan dit definitief uitbyt. Permanent op betaalde verlof.

AmY ·

Oh genade, nou gaan die res van SA dit ook vereis…
Hier kom wéér stakings en betogings, en die aanwas gaan drasties toeneem…

PJC ·

Ja AmY hierdie is belaglik verby en iewers gaan iemand moet betaal vir hierdie luukses. Die wat die meeste kinders kry gaan ook die meeste voordeel trek en dalk nog meer kinders kry.

Leslie ·

So ses maande tuis. Drie maande werk. Weer ses maande kraamverlof drie maande werk. …

Petro ·

As ek vir 6 maande sonder jou kan klaarkom, het ek jou nie nodig nie….?

Kobus ·

Ek wil ń nuwe werk hê. Volvo.
Ek wil ook ń nuwe vrou hê. Wollie wil.

Mariaan ·

O genade…hoop Volvo het mooi gedink..6 maande darem BAIE lank…sou se 6 weke is heeltemal voldoende!! Ekonomie kan nie nog dit bekostig nie…watter man wil anyway 6 maande by die huis sit en pop speel….a nee a !!

Johan ·

Hahaha, dit sal werk in Europa dalk, maar hier op ons vasteland sal hulle 80 % betaal vir baie baie baie lank. Sterkte aan hulle. Hulle gaan dit nodig hê.

Connie ·

Nou houkom moet die man verlof kry? Om wat te doen? Belaglik

Dieter ·

Nog steeds finansieël baie meer voordelig om glad nie kinders te hê nie, as om kinders te kry met lang ouerskapverlof.

Pensioenaris ·

Belaglik. Wat gebeur as jy n drieling het? 6mde x 3? Sou vir my seun n wins gewees het met hulle 3ling.

CN ·

Nou hoekom 6×3? Ek weet van geen werkgewer wat kraamverlof toestaan per kind nie? Jy kry 4 maande of jy nou 1 of 3 kinders op een slag aflaai…. Ek persoonlik dink dis ‘n wonderlike inisiatief van Volvo, pa’s wil net so graag tyd saam hul nuwe baba spandeer as ma’s…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.