Motorwerktuigkundige pleit skuldig in Heyns-saak

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns

Juan Liedeman (38) het Donderdag skuldig gepleit dat hy onwetend ʼn gesteelde motor van die vermoorde pediater, dr. Louis Heyns, besit het.

Liedeman, ʼn motorwerktuigkundige, het in die Wes-Kaapse hooggeregshof ʼn pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan nadat hy in Mei 2013 Heyns se Peugeot van Marthinus van der Walt af ontvang het.

Van der Walt en sy broer Sarel word albei van Heyns se moord beskuldig en dat hulle hom van sy motor en ander besittings beroof het.

Heyns, ʼn dosent aan die Universiteit van Stellenbosch, het in Mei 2013 verdwyn. Sy liggaam is later dieselfde maand in ʼn vlak graf opgespoor.

Liedeman het in sy pleitooreenkoms aangevoer dat Van der Walt nie enige registrasiedokumente of ander dokumente vir die voertuig besit het, toe hy by sy motorherstelwerk- en spuitverfbesigheid in Malmesbury opgedaag het nie. Die twee het glo op R1 000 en ʼn kartondoos vol sigarette besluit totdat Van der Walt die dokumente aan hom kon besorg.

Liedeman het erken dat hy nie gevra het waar die voertuig vandaan kom of bevestig het dat Van der Walt toestemming gehad het om van die motor ontslae te raak nie. Hy was egter nie daarvan bewus dat die motor gesteel is nie en was uiters geskok dat Heyns vermoor is. Hy was glad nie daarby betrokke nie.

Hy het aanvanklik ʼn aanklag van diefstal in die gesig gestaar, maar staatsaanklaer Samantha Raphels het die klagstaat gewysig om aan te dui dat Liedeman waarskynlik nie rede gehad het om te vermoed dat die eiendom nie behoorlik aangeskaf is nie.

Volgens die ooreenkoms het regterpresident John Hlophe hom gevonnis om ʼn boete van R10 000 te betaal of vyf tronkstraf in die gesig te staar. Die helfte van die boete en die vonnis is vir ʼn tydperk van vyf jaar opgeskort op die voorwaarde dat hy nie aan enige ander verwante misdaad skuldig bevind mag word tydens dié periode nie. Liedeman sal dus ʼn boete van R5 000 betaal.

Hlophe het dié hofsaak van die saak teen die Van der Walt-broers geskei en hulle bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 6 Oktober. Raphels sê die saak behoort nie langer as ʼn maand lank te duur nie.

Liedeman is bereid om as staatsgetuie teen die broers op te tree.

Raphels het aangedui Heyns se gesin was nie tevrede met Liedeman se pleitooreenkoms nie, maar hulle verstaan waarom die staat dié besluit geneem het.

Heyns se familielede en Liedeman se vrou, Karlyne, het die hofverrigtinge Donderdagoggend bygewoon. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcel ·

Ek glo nie Liedeman se storie dat hy nie geweet het dat dit n gesteelde voertuig was nie, in vorige berigte het gestaan dat toe die polisie op sy skrootwerk winkel toesak het hulle weggesteekte dele van Heyns se voertuig gekry. Waarom dan dit wegsteek. Vir my maak dit net nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.