Motorwerktuigkundige rits glo in kliënt se kar rond

motorsleutels

(Argieffoto)

ʼn 34-jarige motorwerktuigkundige is vasgetrek nadat hy glo sonder toestemming met ʼn kliënt se motor rondgerits het. Hy het na bewering ook geweier om die motor aan die kliënt terug te gee nadat hy dit reggemaak het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die polisie Sondag ʼn klag ontvang dat ʼn motorwerktuigkundige van Kwamhlanga, naby Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga, weier om die klaagster se motor terug te gee.

“Verslae dui aan die klaagster se Chevrolet Aveo het ʼn enjinfout gehad en sy het toe haar motor na die werktuigkundige geneem om reggemaak te word. Sy het ʼn bedrag van R800 vir dié dienste betaal,” sê Mohlala.

“Toe die klaagster haar motor wou terughê, het die man geweier om dit terug te gee, met verwysing na die kwessie dat hy nog nie klaar was nie. Hy het ook ʼn bedrag van R6 000 geëis.

“Hoewel die klaagster daarop aangedring het dat die werktuigkundige haar motor moet teruggee, het die man aanhou weier.”

Volgens Mohlala is hy oënskynlik later gewaar dat hy met die klaagster se motor rondrits, sonder haar toestemming.

Die klaagster het ʼn saak van die gebruik van eiendom sonder die toestemming van die eienaar aanhangig gemaak.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Kwamhlanga verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het sake-eienaars gewaarsku om die uitbuiting van gemeenskappe, veral vroue en kwesbare groepe, te vermy.

“Dit is moontlik dat die werktuigkundige dalk voordeel daaruit getrek het dat die klaagster ʼn vrou is en min van voertuie weet. Hierdie neiging moet nou end kry,” sê Manamela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

VaalDonkie ·

Elke keer as ek my kar moet vat vir ‘n diens of herstelwerk, dan laai ek ‘n program op hom wat die RPM op 3000 beperk. Mens noem dit “valet mode”. Vat my so 3 minute met ‘n skootrekenaar en ‘n kabel wat ek uit Amerika bestel het.

VaalDonkie ·

Nie goedkoop nie. Ek dink hulle is om en by R3000 deesdae. Die een werk net op Subaru en Mitsubisbi, maar daar is seker wat op ander make ook werk. Dit word ‘n Tactrix kabel genoem en die sagteware is EcuFlash. Vir Honda bv. Is daar Hondata.

VaalDonkie ·

My voertuig is 15 jaar oud, maar die model self kom uit 1999.

Misky ·

Hy het die toetsrit so bietjie te ver gevat – ha ha ha ha. Ek het al riller stories gehoor van karwas plekke en daai ouens kan kanse vat.

Jack ·

Dit het my ook al oorgekom. Het jare gelede my bakkie na ‘n paneelklopper geneem vir geringe bakwerkskade herstel en toe ek hom na tied dae terugkry het hy 250km meer op sy afstandsmeter en sy tenk was dolleeg.

FM ·

Wakker loop

Ons woon in Afrika

Die bakkie battery is met ‘n ou kar battery omgeruil

My beskeie raad.

Doen die 10min moeite en neem foto’s van die battery, Km lesing, die bande, noodwiel, gereedskap.

Gaan dit na voordat jy die motor in ontvangs neem.

Papsak ·

Almal doen dit ry jou petrol uit en bring dan nou kar vir jou leeg terug

Kirst ·

In 2009 het my Colt bakkie se vyfde rat gebreek. Toe ek dit gaan haal nadat dit reggemaak is, is die rathefbome omgeruil (dit was ‘n 4×4 met die kort hefboom vir die oordragkas). Dit was duidelik nie my voertuig se ratkas nie, maar die werktuigkundige het gestry tot ek hom ingelaai en na ‘n Mitsubishi agent gery het. Hulle het die kas dadelik erken as ‘n Pajero s’n en boonop gesien dat dit ou olie in het. Toe ek hom uitvang erken hy my ou ratkas het hy nie meer nie, maar wou nie die kar vir my gee voor ek hom betaal nie. Dit het my gekos om die SAP na hom toe te vat. Hulle lig my toe in dat dit ‘n ou laai van hom is om onderdele uit karre te haal en aan ander mense te verkoop.

Stofdonkie ·

Ek self het ook al baie ervaar hiervan. Voorbeelde van wat net myself oorgekom het, kar gevat vir diens, battery was so maand oud, teruggekry met battery met datum op wat so 5 jaar oud was. Ander keer my Mercedes by paneelklopper gehad, hom teruggekry met reuse gesukkel nadat hy elke keer verskoning het hoekom ek nie die kar kan kry nie, bande is beslis vervang met stokou bande, die kar se ECU het natgeword, kar is aan die kant gestamp, glo het ‘n masjien teen die kar geval. Ek vermoed daar is geen voertuig wat so lekker 4×4 soos ‘n ander man se kar nie.

Hennie J ·

So pateties……..die verg n generaal en n brigadier om oor hierdie beuselagtigheid kommentaar te lewer………..het hulle wraggies niks beter te doen nie?
In piesangland is die grootse en geelste piesang die MENEER.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.