Motsepe-Radebe kap terug oor ondersoek na geldwassery, bedrog

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

Die Suid-Afrikaanse sakevrou Bridget Motsepe-Radebe ontken enige betrokkenheid by geldwassery en bedrog wat verband hou met die beweerde diefstal van honderde miljarde rande om ʼn staatsgreep in Botswana uit te voer.

Maroela Media het Dinsdag berig volgens AfriForum het adv. Stephen Tiroyakgosi, Botswana se direkteur van openbare vervolging (DOV), die organisasie se private vervolgingseenheid amptelik aangestel om die Botswana-regering in die saak te verteenwoordig.

Motsepe-Radebe is geïdentifiseer as ’n medeondertekenaar van twee bankrekeninge, ’n Absa- en ʼn Nedbank-rekening, wat meer as R150 miljard bevat het, wat na bewering van die Botswana-regering gesteel is om ’n “staatsgreep” voor die nasionale verkiesing in daardie land te finansier.

“Daar steek geen waarheid in die bewerings nie. Ek was nog nooit by geldwassery betrokke nie. Ek ontken die bewerings sedert Desember verlede jaar op grond van die geredelik beskikbare bewyse waaroor reeds wyd in die Suid-Afrikaanse en Botswana-media berig is,” het sy gesê.

Volgens Motsepe-Radebe is die bewering aanvanklik in ʼn beëdigde verklaring aan ʼn ondersoeker by Botswana se direktoraat vir korrupsie en ekonomiese misdaad, Jako Hubona, gemaak. In dié verklaring word aangevoer dat Motsepe-Radebe die medeondertekenaar van die twee bankrekeninge is wat vir twee maatskappye, Blue Flies en Fire Flies, gehou word.

Motsepe-Radebe het briewe van Nedbank en Absa by haar verklaring gevoeg waarin die bank verklaar dat hulle nie enige rekeninge in die naam van die maatskappye hou, of enige rekeninge met die genoemde bankrekeningnommers kon opspoor nie.

Bridgette Motsepe-Radebe. (Foto: GCIS)

Sy voer aan die Bank van Botswana het reeds die bewerings verwerp en dat die president van Botswana se reserwebank, Moses Palealo, dit as onsin afgemaak het. Luidens berigte het Palealo enige kennis van die beweerde vermiste P100 miljoen ontken en gesê dat die sentrale bank nooit so ʼn groot bedrag geld in sy rekening gehad het nie.

Luidens die berig is Botswana se algehele bruto binnelandse produk (BBP) ʼn geraamde P180 miljard (sowat R286 miljard), wat die waarde van die gesteelde geld op sowat 60% van die waarde van Botswana se algehele ekonomie te staan bring.

Motsepe-Radebe sê sy het nou ʼn internasionale regsfirma, Omnia Strategy LLP, gelei deur Cherie Blair (vrou van die voormalige Britse eerste minister Tony Blair), asook ʼn internasionale sake-intelligensie-onderneming, Alco Ltd., aangestel om ʼn onafhanklike ondersoek na die bewerings te doen.

Sy sê sy is in gesprek met haar regspan en beoog om alle partye wat die valse bewerings teen haar gemaak het te dagvaar.

“AfriForum herhaal ook die ongegronde bewering dat ek geld gewas het om ʼn kandidaat in Botswana se nasionale verkiesing te borg. Die bewering, wat spruit uit ʼn koerantberig in Botswana, is ook heeltemal ongegrond.”

Motsepe-Radebe sê sy het ook haar regspan opdrag gegee om die koerant dadelik te dagvaar.

“Ons doen ʼn beroep op die president van die Reserwebank van Suid-Afrika, asook die president van die Bank van Botswana, om te bevestig of enige geld in of uit Suid-Afrika gestuur is, soos aangevoer in die Hubona-verklaring. Dit is ʼn wetlike vereiste dat enige geld wat in of uit die land oorgeplaas word die Reserwebank se goedkeuring nodig het.”

Motsepe-Radebe sê dit is ongelukkig dat AfriForum besluit het om die ongegronde bewerings teen haar te herhaal en sy behou haar reg voor om verdere stappe teen die organisasie te doen.

Motsepe-Radebe is pres. Cyril Ramaphosa se skoonsuster en die voormalige minister in die presidensie, Jeff Radeber, se vrou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

MM asb hou ons op hoogte, baieieieiei interessant.

Cherokee

… beweerde diefstal van honderde miljarde rande …
…’n Absa- en ʼn Nedbank-rekening, wat meer as R150 miljard bevat het, …

Scalla

Daar word nog wet en orde toegepas in Botswana en sal graag die verloop wil volg.

JohanR

Gaan vat haar Gerrie Nel! Hierdie is ‘n baie sappige storie, en waar daar ‘n rookie is. Hierby is daar drie groot name…. Cyril Ramaphosa, Patrice Motsepe en Jeff Radebe en baie baie geld betrokke.

Sobymykoolkop

Ja, ou Ace M sou ook hof toe gaan oor die ” vals” bewerings oor hom in die boek, later al stiller geword, glo hier sal dieselfde gebeur. Adv. Gerrie is ń ander wille voël se kuiken. Skrik vir niks.