Motsepe-Radebe, Khama: Lamola reageer op mandamus-aansoek

Ronald Lamola. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, het Dinsdagoggend bevestig dat hy die mandamus-aansoek deur AfriForum se private vervolgingseenheid ontvang het. Die minister se kantoor het egter aangedui dat hy die aansoek gaan teenstaan en nou op ʼn nuwe versoek van die regering in Botswana wag.

Dit volg nadat die private vervolgingseenheid ʼn mandamus-aansoek namens die Botswana-regering teen Lamola ingedien het om sy departement te dwing om wedersydse regshulp te fasiliteer in die saak teen oudpres. Ian Khama van Botswana en die Suid-Afrikaanse sakevrou Bridget Motsepe-Radebe.

“Ons het kennis geneem van die hofaansoek deur AfriForum. Die minister van justisie en korrektiewe dienste het die staatsprokureur opdrag gegee om die aansoek teen te staan,” het Chrispin Phiri, woordvoerder van Lamola, vanoggend in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig die departement van openbare vervolging in Botswana ondersoek bewerings van bedrog en geldwassery teen Khama en Motsepe-Radebe, die skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe. Die bewerings hou verband met bankrekeninge by die Bank van Botswana.

Bridgette Motsepe-Radebe. (Foto: GCIS)

Advv. Gerrie Nel en Phyllis Vorster van AfriForum se private vervolgingseenheid is vroeër vanjaar deur die Botswana-regering aangestel om dié regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer.

Volgens Phiri het Suid-Afrika die afgelope jaar in ses gevalle wedersydse regshulp aan Botswana verleen.

“Weens die aard van die beweerde misdaad, wat ʼn ernstige misdaad in Suid-Afrika is, is daar ʼn wetlike vereiste dat wetstoepassingsagentskappe ʼn voorlopige ondersoek moet doen. ʼn Versoek van hierdie aard kan as sodanig uitgerek en ingewikkeld raak weens verskeie wetstoepassingsagentskappe wat betrokke is. Dit is nie eie aan Suid-Afrika nie, dit is standaard oor die hele wêreld,” het Phiri gesê.

Volgens Phiri is die departement van justisie en korrektiewe dienste wel in verbinding met die owerhede, onder wie die direkteur van openbare vervolging in Botswana, rakende die saak.

“Die Republiek van Botswana het deur middel van hierdie gevestigde kommunikasiekanale aangedui dat daar veral oor hierdie aangeleentheid ʼn nuwe versoek gerig sal word. Die nuwe versoek is egter nog nie ontvang nie.”

AfriForum se betrokkenheid

Volgens Phiri ontvang Suid-Afrika jaarliks ​​talle versoeke van oor die wêreld vir wedersydse regshulp.

Hy wys egter daarop dat dit ongekend is vir ʼn nieregeringsorganisasie, soos AfriForum, om wedersydse regshulp te fasiliteer.

“Die SAOG se protokol oor wedersydse regshulp in strafregtelike aangeleenthede maak nie voorsiening daarvoor dat nieregeringsentiteite as tussengangers tussen state dien nie, of dit nou versoek word of nie,” het Phiri gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Askuus maar verduidelik asb vir my wat dit beteken? In plat Afrikaans. Is die twee beskuldigdes nie reeds “onskuldig” verklaar deur n sg onafhanilike ondersoek nie? As ek reg verstaan so ewe ene Blair dame van Britanje wat die ondersoek hanteer het?

JohanR ·

Hoekom sien ons nooit ‘n ANC of iemand betrokke by, of met die ANC, in die hofe nie? Is altyd hierdie interne, of buite die hofe ondersoeke, en in die einde, word niemand skuldig gevind nie. Kry hulle voor ‘n regter dat hy of sy besluit skuldig of nie!

Simon ·

Klink vir my hier kom weer “fesies”! (ek bedoel eintlik die plat Afrikaans uitdrukking:-(

Prikkie ·

Netnoumaar krap Afriforum iets verdags oop en dit wil ons (lees ANC) tog sekerlik nie hê nie!

marius ·

Botswana is al vir dekades siek en sat vir die leuens wat die spul opdis . Hulle is nie sotte wat alles net gedwee sluk nie .

4ntj13 ·

Waar pas die Blair-ondersoek in die prentjie? As Botswana dink minister Lamola laat hom mislei, glo ek hulle sal makliker korrupsie ook kan vervolg. Kan daar uitlewering ter sprake kom?

Jaco ·

Dis seker baie edel van Afriforum om by dié saak betrokke te wees, maar 2 goed pla wel:
1. Afriforum se mooi “nie-rassige” benadering sal bloot deur die ANC beskou word as “artificial window dressing”
2. Wat van sake van ons eie mense?
Eendag wen Afriforum dalk die saak en kry al die verering en limelight, maar dan is hulle geld ook op en dan is Afriforum magteloos om te help met sake waar regstellende aksie en BEE en ander vorms van diskriminasie en rassisme ons eie mense al hoe meer benadeel. Vergeet nou eers die prestige en die limelight en konsentreer NET op dit wat ons eie mense regtig raak. Om ‘n staatsgreep in Botswana te keer en om ‘n minister skuldig te kry in ‘n dieremishandelingsaak, help ons eie mense wat reeds so swaarkry absoluut niks.

Jaco ·

Miskien moet ons maar almal net maak wat ons wil. Want daar gebeur tog niks met jou nie.

christo ·

‘n Skielike geskarrel nadat Afriforum die kat in die
duiwehok gegooi het Botswana het reeds voorheen SA gevra om die saak te ondersoek aangesien hulle die saak van ‘n staatsgreep ernstig opneem. Die Suid-Afrikaanse regering wys verniet die vinger na Afriforum.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.