Motsepe-Radebe, Khama: Mandamus-aansoek toegestaan

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Reint Dykema/AfriForum)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het sukses behaal in die mandamus-aansoek wat ten doel het om die departement van justisie en korrektiewe dienste te dwing om wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te fasiliteer in die saak teen oudpres. Ian Khama van Botswana en die Suid-Afrikaanse sakevrou Bridget Motsepe-Radebe.

Die vervolgingseenheid het op 2 Julie ’n skrywe van die staatsprokureur ontvang dat die departement gewillig is om die nodige samewerking in die saak te gee. Die departement het versoek dat die aangeleentheid van die rol verwyder word met die oog op ’n gesprek tussen die partye ten einde die aangeleentheid te besleg.

Dit volg nadat die departement aanvanklik die mandamus-aansoek teengestaan het.

Die eenheid het op 5 Julie in ’n skrywe aan die departement aangedui dat hy toestem indien die gesprek voor die hofdatum van 7 Julie sou plaasvind. Die departement het ʼn dag later ʼn boodskap aan die eenheid gerig dat hy (departement) sy versoek terugtrek en voortgaan om die aansoek te opponeer.

Die regter het op 7 Julie die aansoek toegestaan en die departement moet nou binne 14 dae die nodige inligting verskaf en die koste van die geding dra.

Maroela Media het vroeër berig die departement van openbare vervolging in Botswana ondersoek bewerings van bedrog en geldwassery teen Khama en Motsepe-Radebe, die skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe. Die bewerings hou verband met bankrekeninge by die Bank van Botswana.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is verlede jaar deur die Botswana-regering aangestel om dié departement se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer.

Die eenheid het toe ʼn mandamus-aansoek namens die Botswana-regering teen Ronald Lamola, die minister van justisie, ingedien om sy departement te dwing om wedersydse regshulp te fasiliteer in dié saak. Lamola het op 25 Augustus aangedui hy het die aansoek ontvang en dat hy dit sal teenstaan.

Volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die departement egter geen opponerende stukke betyds ingedien nie. Die aansoek is toe op die onbestrede rol vir 7 Julie in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria geplaas.

Die departement het boonop in April vanjaar ’n kennisgewing om te opponeer ingedien, maar geen opponerende verklaring is ontvang nie.

“Ondervinding het nou geleer dat die regering uit eie inisiatief baie moeilik die regte ding doen. Dit is die reël eerder as die uitsondering dat die regering deur middel van hofbevele gedwing moet word om hulle werk te doen,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ten spyte van die ekonomiese werklikhede is die departement van justisie nou opgesaal met ’n kostebevel wat hulle kon verhoed het deur bloot hulle plig te doen. Hierdie is die derde suksesvolle mandamus-aansoek gebring deur hierdie eenheid teen die regering in omstandighede waar regeringsowerhede nie hulle pligte nagekom het nie. In al drie gevalle is kostebevele toegestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pietertjie ·

En belastingbetalers moet vir die gelag betaal, nie die onbevoegde en onbekwame amptenary nie. Vra asseblief vir persoonlike kostebevele.

henndrik ·

Ek dink ‘n koste bevel is goed maar dit plaas ‘n ekstra las op die belastingbetaler. Ek reken hierde bevele moet teen ‘n persoon/e’ gemaak word en daar behoort ‘n ondersoek van bevoegdheid teen die persoon/e wat die departement verteenwoordig in die besluite want as hierdie tipe bevele so gereeld voorkom beteken dit ook die belastingbetaler bevonds obevoegde personeel

marius ·

Dit moet van die rol verwyder word ? Moenie daarvoor val nie . Hulle wil dit weereens reduseer tot ‘n onbenulligheid . Botswana moet ‘n beter plan maak as hof gedinge .

Jaco ·

As Afriforum nou eendag dié saak wen, dan het reg en geregtigheid geseënvier, MAAR dan is al hulle geld ook op. Dan is hulle magteloos om sake te maak teen regstellende aksie, BEE, plaasaanvalle, plaasmoorde ens ens. Dan is niks oor vir hulle eintlike belangegroep en eintlike ondersteuners nie.

JohanR ·

As die geding in die hof opeindig raai wie sal in die ander hoek wees? Ja, en daar het julle dit reg…… Dali Mpofu SC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.