Motsepe-Radebe, Khama: SA-minister dalk gedwing om op te tree

Bridgette Motsepe-Radebe. (Foto: GCIS)

AfriForum se private vervolgingseenheid het Donderdag gesê hy het ’n mandamus-aansoek teen Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, gebring om sy departement te dwing om wedersydse regshulp te fasiliteer in die saak teen oudpres. Ian Khama van Botswana en die Suid-Afrikaanse sakevrou Bridget Motsepe-Radebe.

Die departement van openbare vervolging in Botswana ondersoek bewerings van bedrog en geldwassery teen Khama en Motsepe-Radebe, die skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe. Die bewerings hou verband met bankrekeninge by die Bank van Botswana.

Maroela Media het vroeër berig ʼn onafhanklike forensiese ondersoek het intussen bevind dat die bewerings opgemaak is. Dit nadat Khama en Motsepe-Radebe twee firmas aangestel het om ʼn onafhanklike ondersoek na die bewerings te doen.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het egter vanoggend tydens ʼn mediakonferensie gesê hoewel die onafhanklike forensiese ondersoek se bevindings interessant is, dit irrelevant is.

Volgens Nel behoort alle inligting bekend gemaak te word voordat die beskuldigdes vervolg óf kwytgeskeld kan word van die bewerings. Die departemente van justisie en korrektiewe dienste versuim glo egter hul plig om dié inligting aan Botswana te verskaf.

Adv. Gerrie Nel. (Foto: Reint Dykema)

Nel en adv. Phyllis Vorster van die private vervolgingseenheid is vroeër vanjaar deur die Botswana-regering aangestel om dié regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer.

Dít volg sowat 11 maande nadat adv. Stephen Tiroyakgosi, direkteur van openbare vervolging in Botswana, op 25 September 2019 ’n versoek vir wedersydse regshulp aan die Suid-Afrikaanse regering gerig het. “Hierdie versoek het na bewering gerieflikheidshalwe verdwyn,” sê Nel.

Volgens Nel is ’n nuwe aansoek voorberei, maar die departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering (Dirco) weier volstrek om die aansoek te aanvaar, aangesien hulle ooreenkomstig Covid-19-regulasies geen dokumente aanvaar nie.

“Die departement van justisie se versuim om te reageer op die versoek vir wedersydse regshulp van ’n buurland met betrekking tot beweerde korrupsie is heeltemal teenstrydig met die uitlatings van minister Lamola en die regering in die media dat hulle ernstig daaroor is om diegene wat hulself skuldig maak aan korrupsie, aan te vat.

“Dit ontlok ’n nadelige afleiding dat pres. Ramaphosa vir Lamola aangestel het as voorsitter van ’n interministeriële komitee om korrupsie te ondersoek en dui verder daarop dat die regering se sogenaamde stryd teen korrupsie bloot lippetaal is. Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat hooggeplaaste individue met politieke konneksies oorgesien sal word vir korrupsie.”

Volgens Nel kan die departement van justisie se versuim om wedersydse regshulp selfs op regsverydeling neerkom sou dit aan die lig kom dat hulle met opset inligting van die departement van openbare vervolging in Botswana weerhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos10 ·

Dis mos nou die nuwe normaal in SA. Die regstelsel is vervang met kommisies en firmas om “ondersoeke” te doen.

Adam Adriaan ·

Kommisies nog maals kommisies van ondersoek, So ondersoek die een jakkals die ander jakkals en vind niks daar onder nie.

Jaco ·

Lawyers for Human Rights sal dié saak net so goed as Afriforum kan hanteer. Oor ‘n jaar dan wen Afriforum dalk die saak, MAAR dan is al hulle geld op en kan hulle dus nie optree waar ons eie mense onder BEE en regstellende aksie al hoe meer verarm nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.