Motshekga moet sê oor heropening van skole

(Argieffoto)

Die DA het ʼn beroep op die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gedoen om duidelikheid te gee oor berigte dat die regering dit oorweeg om skole eers teen die middel van volgende maand te heropen.

Personeel is veronderstel om op 25 Januarie aan te meld en leerders twee dae later op 27 Januarie.

“Die DA begryp dat Suid-Afrika tans sy tweede vlaag van Covid-19-infeksies ondervind en meen dat die heropening van skole nie die gesondheid van leerders en onderwysers in gevaar moet stel nie. Ons steun egter nie die vertraging rakende die heropening van skole nie,” sê Baxolile “Bax” Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys.

“Dit gaan waarskynlik meer skade as goed doen. Dit sal net daartoe lei dat skole dieselfde chaos sal ondervind as verlede jaar. Om die skole later oop te maak, sal nadelige gevolge vir die leerders inhou, veral diegene uit behoeftige gemeenskappe met minder hulpbronne en waar toegang tot aanlyn leer eenvoudig nie moontlik is nie.”

Nodada sê die talle ouers wat vandeesweek terugkeer werk toe, het die versekering nodig dat skole weer sal heropen.

“Baie kinders is ook afhanklik van skole vir hul daaglikse maaltye deur die onderskeie skoolvoedingsprogramme.”

Die DA eis dat onderwysers as noodsaaklike werkers geklassifiseer moet word en dat die entstof net ná gesondheidsorgwerkers en hoërisiko-burgers aan hulle beskikbaar gestel word.

“Dit is van sleutelbelang om ons skole te beskerm. Uiteindelik is inenting die enigste waarborg dat die land weer na normaal sal terugkeer.”

Die party vra dat die departement van onderwys ook die regulasies en gesondheidsprotokol duidelik uitstippel waaraan skole moet voldoen sodra dit weer heropen het.

“Regulasies wat oorweeg moet word, sluit in die handhawing van sosiale afstand, toegang tot persoonlike beskermingstoerusting, skoon water en behoorlike sanitasie, ʼn noodgesondheidsplan in reaksie op positiewe Covid-19-gevalle en duidelik uiteengesette planne vir onderwysers of leerders wat aan onderliggende toestande ly.

“Enige skool wat nie aan hierdie regulasies voldoen nie, moet nou saamwerk met die departement om te verseker dat die nodige toerusting om aan die regulasies te voldoen wel vinnig beskikbaar gestel word vir ʼn veilige heropening.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blomme ·

Covid 19 het regtig die mens se lewens kom deurmekaar maak..

thejudge ·

Ai tog DA. Wat karring julle so? Sy sê mos nog heeltyd skole heropen soos beplan. There wasn’t even a question.

Thea ·

thejudge. Nee, jy is verkeerd. Sy gaan weer wag tot die dag voordat ons moet begin voor sy haar mond oopmaak. Met die vorige lockdown het sy 11 uur die oggend gesê dat ons nie eintlik 7 uur mag oopgemaak het nie. Sy hou van chaos en as daar nie is nie, skep sy dit self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.