Motshekga se begroting stel tevrede, mits geld reg bestuur word

skool-21.jpeg

Argieffoto

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is tevrede dat die minister van basiese onderwys haar begroting wil aanwend vir die bevordering van voorskoolse onderrig, robotika en die uitbou van inheemse tale.

“Ons sal egter moet sien of geld reg bestuur word om die doelwitte wat minister Angie Motshekga Dinsdag in haar begrotingsrede genoem het, te verwesenlik,” het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Motshekga wil haar departement hul toespits op die verbetering van lees op voorskoolse vlak, deur voorskoolse onderrig verpligtend te maak.

“Dit is verblydend dat die departement voorskoolse onderrig wil prioritiseer, omdat ’n goeie grondslag in voorskoolse onderrig die sleutel is tot akademiese sukses later in ’n kind se skoolloopbaan. Indien voorskoolse onderrig verpligtend is, moet die departement egter genoeg geld beskikbaar stel om gehalte onderwysers op te lei en aan te stel, aangesien min voorskoolse onderwysers tans oor die regte kwalifikasies beskik of behoorlike salarisse verdien.”

Buys is egter skepties oor waar finansiering vir die projek vandaan sal kom.

Motshekga het ook Dinsdag gesê haar departement is in die proses om ’n kurrikulum saam te stel vir die implementering van Robotika vir gr. R tot gr. 3 en gr. 7-leerders. Robotika rus leerders met belangrike vaardighede toer, wat hulle nodig het om eendag suksesvol te wees in ’n tegnologies-aangedrewe wêreld. “Die SOS hoop egter dat die implementering van Robotika nie by die ontwerp van ’n kurrikulum sal stop nie, maar dat onderwysers behoorlik opgelei sal word om die vak aan te bied. ’n Tekort aan opgeleide onderwysers is tans die grootste struikelblok vir die implementering van hierdie vak in Suid-Afrikaanse skole.”

Die SOS fasiliteer in Julie ’n Robotika-seminaar, wat deur ’n ervare onderwyseres van Amerika aangebied word, om onderwysers toe te rus met die nodige vaardighede om die vak aan te bied.

Die SOS steun ook die minister se verwysing na die bevordering van moedertaalonderrig en inheemse tale heelhartig. “Navorsing wys dat kinders wat in hul moedertaal leer lees en somme maak, ’n groter kans op akademiese sukses het as kinders wat in ’n tweede of derde taal onderrig word,” het Buys bygevoeg. “Tans ontvang die meeste leerders in Suid-Afrika reeds van gr. 4 onderrig in ’n tweede of derde taal, terwyl lees in hul moedertaal nog geensins vasgelê is nie.”

Sy sê dit is teleurstellend dat optrede soos dié van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, die minister se uitsprake weerspreek deur sy klaarblyklike pogings om alle skole in Gauteng te verengels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

… en ons wil die parlement na Gauteng verskuif want die kleedkamers is morsig… en ‘n mooi, mooi groot nuwe skoon gebou en nuwe huise en… en… en natuurlik klaskamers en tablette en skoolklere en busse vir die miljoen kleuters wat nou moet gaan skoolly. Oppassers en wagte… natuurlik… mits baie meer geld gedruk word…

Duiwelsadvokaat ·

Robotika….in ‘n land waar derduisende kinders puttoillete gebruik en onder bome skoolgaan?? Die depaaartmint moet hulle prioriteite regkry, en ophou dink ons is ‘n 1ste wêreld land. Basics…mrs minister….basics.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.