Motshekga sê oor skole

(Foto: Gautam Arora/Unsplash)

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Saterdag terugvoer gegee oor die stand van gereedheid van skole om weer oop te maak.

Motshekga het die onlangse gewelddadige betogings in Gauteng en KwaZulu-Natal ten sterkste veroordeel.

Inentingsveldtog

Sy het gesê die inentingsprogram is baie belangrik om seker te maak dat die onderwysbedryf weer aan die gang kan kom. Gebaseer op die analise deur prof. Martin Gustafsson van die departement van basiese onderwys, is minstens 1 678 sterftes weens Covid-19 onder onderwysers wat deur die staat aangestel is, aangeteken tussen die einde van Maart 2020 en die einde van Februarie 2021.

“Buiten die sterftes van talle ander onderwyswerknemers is ʼn departementshoof in die Oos-Kaap, ʼn LUR in die Noord-Kaap en die president van Natu ook oorlede. Iets moet gedoen word om dié akademiese verliese te voorkom.”

Altesaam 517 000 persone is reeds ingeënt, ʼn sukseskoers van 89%. “Redes vir persone wat nog nie ingeënt is nie, sluit in afstande na inentingspersele, huiwerigheid om ingeënt te word, ʼn voorkeur vir een entstof bó ʼn ander, onlangse positiewe Covid-19-uitslae en ander mediese en godsdienstige redes. Dit is bemoedigend dat ons egter steeds versoeke kry van ons personeel wat aanvanklik huiwerig was, maar nou na vore kom en hulp vra om ingeënt te word. Ons hoop dat die onderwysers wat nog nie ingeënt is nie, by die algemene bevolkingsinentingsprogramme wat tans voortduur, sal aansluit.”

Oor die opening van skole

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (24 Julie 2021) (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

“Afhangend van die bevestiging deur die president môre ná ʼn gesprek met die kabinet, is ons gereed dat skole Maandag, 26 Julie 2021, weer oopmaak. Skoolbestuurspanne en ondersteuningspersoneel het Donderdag reeds teruggekeer skool toe om voorbereidings te tref vir die terugkeer van onderwysers en leerders op 26 Julie.”

Gebaseer op inligting wat van die verskillende provinsies ontvang is, is skole gereed om binne Covid-19-gesondheidsprotokol hul bedrywighede voort te sit met volledige skoolbywoning in laerskole vanaf 2 Augustus.

Pres. Cyril Ramaphosa het in 2020 ʼn R100 miljard-stimuluspakket aangekondig wat onder andere werkskepping ten doel het. “As deel van die presidensiële indiensnemingsprogram om die verwoestende impak van Covid-19 op die ekonomie en maatskaplike infrastruktuur aan te spreek, het die departement van basiese onderwys die indiensnemingsinisiatief van stapel gestuur. Altesaam R7 miljard is aan die departement toegeken met sowat R2,4 miljard wat toegeken is om poste te beskerm vir onderwysers wat deur skoolbeheerliggame en by onafhanklike skole aangestel is. Uit dié pakket is 33 549 poste beskerm.

Die bedryf het ook 200 000 onderwysassistente deur die program aangestel en 100 000 algemene skoolassistente. “Sowat 320 000 jongmense trek voordeel uit dié indiensnemingsgeleenthede.”

Oor vandalisme by skole

“Ons is baie bekommerd oor dit wat in ons skole gebeur het die afgelope paar weke. Tydens oproer in KwaZulu-Natal en Gauteng is skole en onderrigsentra beskadig, gevandaliseer en geplunder.”

Die KwaZulu-Natalse departement van onderwys het aangedui dat 137 skole en drie onderrigsentra gevandaliseer is.

“Dit is ongekend. Ons is baie bekommerd as ʼn bedryf dat noodsaaklike skoolinfrastruktuur beskadig is. Dit is ʼn ernstige terugslag, omdat die bedryf reeds onder druk is om behoorlike fasiliteite te verskaf vir die onderrigstelsel.”

KwaZulu-Natal het reeds reëlings getref om seker te maak dat alle skole wel Maandag sal oopmaak en dat onderrig en leer sal voortduur.

In Gauteng is meer as 43 skole gevandaliseer sedert die begin van die jaar. Elf van die gevalle is aangemeld ná die skole op 2 Julie gesluit het. Nege-en-twintig van die 43 skole is reeds herstel en werk duur voort om werk by die ander skole ook so vinnig as moontlik af te handel.

Alhoewel die departement van basiese onderwys en die KwaZulu-Natalse departement van onderwys nog nie sy assessering afgehandel het nie, word die skade beraam op meer as R300 miljoen.

Oor die Mei/Junie-matriekeksamen

Die Mei/Junie-eksamen is die tweede eksamengeleentheid wat vir kandidate aangebied word wat die November 2020-eksamen afgelê het en ʼn eksamen vir volwasse kandidate wat wil matrikuleer. Die eksamen het op 26 Mei 2021 begin en op 7 Julie 2021 tot ʼn einde gekom.

Altesaam 249 851 kandidate wat ingeskryf het, het dié eksamen vir die nasionale senior sertifikaat en senior sertifikaat afgelê.

Die eksamen is suksesvol afgehandel sonder enige groot ontwrigtings.

Merkery het op 8 Julie begin en is op 19 Julie afgehandel. Die departement sal die data aan Umalusi voorlê en die uitslae sal na verwagting op 24 Augustus aan kandidate beskikbaar maak.

Oor die skoolkalender

“Die Covid-19-pandemie het ernstige ontwrigtings in die bedryf veroorsaak en ons planne het nie altyd verloop soos wat ons beplan het nie. Dit het ons egter nie gekeer om voort te gaan met beplanning nie en ons is vol vertroue dat ons in ʼn stadium weer sal terugkeer na normaal. Ons het vroeër vanjaar reeds die skoolkalender vir 2022 gepubliseer.

ʼn Voorgestelde skoolkalender vir 2023 is in die Staatskoerant gepubliseer vir publieke kommentaar. “ʼn Geleidelike kalender word voorgestel – een vir skole in provinsies aan die kus en ʼn ander vir binnelandse provinsies. Ons versoek dat die publiek deur die voorstel sal werk en skriftelik terugvoer sal gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Gaan die stelsel van 1 dag skool en 1 dag af nog aan? So leer die kinders amper niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.