Motshekga sê oor skole

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (14 Februarie 2020) (Foto: Koppano Tlape/GCIS)

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Sondag tydens ‘n perskonferensie oor die stand van gereedheid bevestig dat leerders Maandag terugkeer skool toe, volgens die gewysigde skoolkalender.

“Ons moet benadruk dat die gesondheid en veiligheid van onderwysers, personeel en leerders die hoogste prioriteit geniet,” het sy gesê.

Die departement het sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie gereeld die stand van provinsies dopgehou om seker te maak dat die provinsies stelsels in plek het om die pandemie te hanteer en ondersteuning te bied waar dit benodig word.

“Ons sal steeds die delikate balans behou tussen gesondheid en veiligheid in skole aan die een kant en kurrikulum-gapings, wat tydens die 2020- akademiese jaar geïdentifiseer is, aan die ander kant. Senior bestuurders in die bedryf, onder die leierskap van die direkteur-generaal, het hard gewerk om die bestaande planne vir 2021 te versterk.”

Die departement se indiensnemingsinisiatief

Met die departement van basiese onderwys se indiensnemingsinisiatief (BEEI) is 290 000 jong mense aangestel wat as onderwysassistente en algemene skoolassistente aangestel. “Dié jong mense is in ons skole aangestel, as die bedryf se reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se fiskale stimuluspakket, soos aangekondig in April 2020.”

Motshekga sê die BEEI wil Covid-19-verwante akademiese ontwrigtings aanspreek, en bystand verskaf met voortgesette sistemiese uitdagings. “Nog ʼn sleutelkomponent van die BEEI is om ondersteuning te verskaf aan werkers wat negatief en direk deur die Covid-19-pandemie geraak is.”

ʼn Gedeelte van die R7 miljard wat vir die BEEI geoormerk is, is daarop gemik om skoolbeheerliggaamposte in staatskole en staatsgesubsidieerde onafhanklike skole te beskerm, het sy bygeveog. “Ons werk hard om seker te maak dat die vertraagde betalings vir sommige van dié jong mense onmiddellik aangespreek word.”

Motshekga het gesê jongste beskikbare syfers dui daarop dat 1 169 onderwysers as ʼn direkte gevolg van Covid-19 gesterf het. “In hierdie jaar, tot en met Vrydag, 12 Februarie, staan die sterftes van onderwysers op 159. Sterftes onder ander personeellede staan op 63.”

Oor skooltoelatings

“Die vraag na ruimte in skole, veral in graad 1 en 8, bly ʼn uitdaging vir die bedryf. Alle provinsies ervaar ʼn groot aanvraag in spesifieke gebiede,” het Motshekga bygevoeg.

Provinsies het goeie vordering gemaak in die plasing van leerders, maar daar is nog steeds 16 117 leerders wat wag op plasing in skole. “Die raad vir onderwysministers het Saterdag vergader en die kwessie van skooltoelating is as noodsaaklik geïdentifiseer, omdat die stelsel nie kan bekostig dat enige leerder agter gelaat word nie.”

Sy sê daar is ingestem dat provinsies vinnig moet werk om al die leerders binne die volgende week te plaas.

Oor skoolgeld

“Een van die vrae wat gereeld gevra word, is oor die betaling van skoolgeld tydens die Covid-19-pandemie. Dit is belangrik om dié saak op te klaar,” het Motshekga gesê. “Daar is twee tipes staatskole in die land: die skole wat skoolgeld hef, en skole wat nie skoolgeld hef nie. Skole wat skoolgeld hef mag skoolgelde vra, soos bepaal by die jaarlikse algemene vergadering van die skoolbeheerliggaam. Die betaling van skoolgeld by dié skole is verpligtend.”

Skoolbeheerliggame van skole, wat skoolgeld hef, het kragtens die Skolewet die outoriteit om ouers op wetlike wyse te dwing om skoolgeld te betaal. “Die aanspreeklikheid van ouers word bepaal deur ʼn bekostigbaarheidsformule en dit kan gebruik word om te bepaal of ʼn ouer gedeeltelik of ten volle van skoolgeld kwytgeskel mag word.”

Ouers het egter ander kwessies aangeroer as ernstige kommernisse. “Daar is skole wat glo registrasie-deposito’s vereis. Ander vra buitensporige bedra om personeel artikel 42-bonusse te betaal. Dit word gedoen ondanks die moratorium wat geplaas is op staatsdienssalarisse. Ons raai skole aan om dié versoeking te vermy – dit is eerstens onwettig en tweedens is dit absoluut onredelik, veral wanneer dit te midde van die verwoesting van die Covid-19-pandemie gedoen word.”

Oor die 2020-matriekeksamen

Meer as ʼn miljoen kandidate het die matriekeksamen afgelê.

“Ons is op skedule vir die vrystelling van die 2020 nasionale senior sertifikaat-uitslae op 22 Februarie 2021. Kandidate sal na verwagting op 23 Februarie 2021 hul uitslae by hul skole kan kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Die verskil tussen “gratis” en “verniet”? Ons gaan gratis skool toe, maar dis als verniet…

Johan ·

Lekker lag ek nou vir die “verwoesting wat die pandemie aangerig het”, die vewoesting is deur die REGULASIES aangerig.

Jakes ·

Meer as 700 skole is gevandaliseer gedurende Covid dusver. Wonder of die agbare minister intussen haar rekenkunde opgeknap het?

Persheks Adri ·

R7 miljard en 290 000 BEE aanstellings mmmmmm. Is die nuwe aanstellings ooit geletterd?

Andrew ·

As n slim joernalis vir ons n stukkie kan doen oor die bevolkings aanwas vooruit skattings, gepaard gaande met verstedelikings statstieke, gemeet teen klaskamer beskikbaarheid en opringting van nuwe kapasiteit waar ons eindig oor 5 jaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.