Motsoaledi verwelkom klasaksie teen Tiger Brands

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Donderdag gesê hy verwelkom die aankondiging van ʼn Amerikaanse prokureursfirma wat ʼn klasaksie beplan teen Tiger Brands Enterprise namens die families van slagoffers van listeriose in Suid-Afrika.

Motsoaledi het gereageer op die regsfirma Marler Clark, wat in voedselveiligheid spesialiseer, wat bekend gemaak het dat hy in samewerkinging met die prokureursfirma Richard Spoor ʼn klasaksie namens die slagoffers se familie teen Tiger Brands beplan.

Die Enterprise-aanleg in Polokwane, Limpopo, is deur die departement van gesondheid geïdentifiseer as die oorsprong van die listeriose-uitbreking in Suid-Afrika. Die Enterprise-handelsmerk is ʼn filiaal van Tiger Brands. Tiger Brands het egter vandeesweek geweier om aanspreeklikheid te aanvaar vir die uitbreking en ontken enige direkte verbintenis tussen sy produkte en die afsterwe van 180 persone.

Motsoaledi het by ʼn perskonferensie gesê hoewel die regering maatskappye in sulke omstandighede swaar beboet, bied dit niks aan die slagoffers en die families van slagoffers nie.

“Ek is bly daar is ʼn Amerikaanse regsfirma wat tans aandag aan hierdie kwessie gee, ons verwelkom dit,” het hy gesê. “Amerika het al baie sulke klasaksies gesien waar daar byna jaarliks ʼn listeriose-uitbreking is.”

Motsoaledi het gesê dit is nié genoeg vir Tiger Brands om bloot van sy vleisprodukte ontslae te raak en dit net van die rakke te onttrek nie. Volgens hom is die regering in die proses om ʼn nasionale noodsentrum by die kantore van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) te vestig wat spesifiek met nuwe gevalle van listeriose sal werk.

“Die feit dat ons nou die bron van die uitbreking opgespoor het, is nie die einde van die kwessie nie – dit is maar slegs die begin van ʼn lang proses. Ons kan nog ander voorvalle van listeriose ook verwag, siende dat ʼn slagoffer in Namibië [van die fabriek se vleisprodukte] geëet het en daarna met listeriose gediagnoseer is.”

Motsoaledi se perskonferensie kom nadat die Ekonomiese Vryheidsvegters verlede week gesê het hy beplan ʼn klasaksie teen maatskappye wat betrokke was by die verspreiding van die dodelike bakterie. Julius Malema, leier van die EFF, het vroeër die regering en die Nasionale Verbruikerskommissie blameer vir die “stadige tempo” waarteen die verspreiding van listeriose bekamp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Ander naam vir die mense is ” Ambulancechasers”. Ek het al verneem dar slegs sowat 50% van eisbedrae werklik by die slagoffers uitkom.

Potlood ·

As julle julle werk gedoen het, sou dit nie gebeur het nie

zoom zoom ·

Wat van ‘n klasaksie teen die gautengse medisie wat verantwoordelik was vir die sterftes van die persone wat na ngo oorgeplaas was

dr Sakkie van der Merwe ·

zoom zoom Goeie vraag hulle moet sommer die minister in sy persoonlike hoedanigheid dagvaar vir daardie sterftes. Dit gebeur mos onder sy toesig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.