Motsoeneng ʼn “giftige invloed”, sê DA

Foto buite die Wes-Kaapse hooggeregshof geneem op 19 Augustus 2014 Foto: @ewnreporter, Twitter

Foto buite die Wes-Kaapse hooggeregshof geneem op 19 Augustus 2014 Foto: @ewnreporter, Twitter

Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, moet so gou as moontlik geskors word omdat hy ʼn “giftige invloed” is wat enigiets sal doen om te kry wat hy wil hê, het die DA Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangevoer.

“Ons het gesien wat die [Motsoeneng] gedoen het toe hy in die amp van waarnemende bedryfshoof aangestel was,” het Anton Katz, prokureur vir die Demokratiese Alliansie, aangevoer. “Hy moet vandag nog verwyder word indien moontlik. Hy is ʼn giftige element in die organisasie. Dit is in daardie sin baie dringend.”

Die party doen aansoek om ʼn dringende interdik om Motsoeneng te skors hangende ʼn ondersoek oor die besluit om hom aan te stel.

Motsoeneng het uitdrukkingloos na die hofverrigtinge sit en luister.

Katz sê die DA sal nie tevrede wees met ʼn dissiplinêre ondersoek nie, aangesien die personeellede bang is vir hom en objektiwiteit dus bevraagteken sal word.

Die DA se aansoek fokus op die “onwettige” proses wat die raad geneem het toe Motsoeneng vir die pos voorgestel is, die rasionaal wat aangewend is in die besluit en die bevindings van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela. Madonsela het in Februarie in haar verslag bekend gemaak dat Motsoeneng se salaris, terwyl hy waarnemende bedryfshoof was, binne een jaar van R1.5 miljoen tot R2.4 miljoen gestyg het. Hy het ook vals inligting oor sy matrieksertifikaat bekend gemaak. Sy het voorgestel dat ʼn nuwe bedryfshoof binne 90 dae aangestel moet word.

Faith Muthambi, minister van kommunikasie, het in Julie Motsoeneng se permanente aanstelling bekend gemaak. Sy het gesê ʼn regsfirma het hom vrygespreek op alle aanklagte voordat die besluit geneem is.

Die DA het gevolglik ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien om die aanstelling tersyde te stel. Muthambi en die SAUK het opponerende hofstukke ingedien. Ellen Tshabalala, voorsitter van die SAUK-raad, het in haar hofdokumente Madonsela se verslag verwerp. Sy het gesê die uitsaaier het van dag een af geweet Motsoeneng het nie matriek behaal nie. Sy het gesê hy was nie oneerlik nie, hy het nooit die SAUK mislei nie en was nie verantwoordelik vir onregmatige uitgawes nie.

“Oneerlikheid is oneerlikheid, waar dit ook al mag plaasvind,” het Katz gesê, terwyl hy uit ʼn 2012-uitspraak van die grondwetlike hof voorgehou het. Die betrokke uitspraak het bevind dat pres. Jacob Zuma se aanstelling van Menzi Simelane, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, irrasioneel was.

ʼn Groep van ongeveer 200 betogers het buite die hof bly sing dat die DA hul “hande moet afhou” van Motsoeneng.

Vier beamptes van die polisie-eenheid vir openbare orde, geklee in oproerdrag, moes die hofingang met hul skilde versper. ʼn Geel polisieband het hulle van die skare afgesonder. Tien polisiebeamptes het ook by die ingang van die hof bly staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa ·

Ja nee – Daardie gesig sê boekdele……………….. Maar hulle doen maar tog wat hulle wil wanneer hulle wil hoe hulle wil.

veronica ·

My dierbare landgenote, dis nag!! Gitswart nag!!! Daar is nie meer reg en geregtigheid in hierdie, eens pragtige, land van ons nie!!! Ek ween!!

Theresa ·

Jy kon dit nie beter gestel het nie Veronica. En dit is in ALLE opsigte.

Drieks ·

Ek mis al 5 AFRIKAANSE progamme vandat hul dit na TV 3 geskuif het. So dit gaan duidilik wys die kyker getal is minder en gaan hul ons programme afhaal en gaan afrikaans so dood loop. Dit Motsoeneng se plan…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.