Motsoeneng vrywillig met verlof

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Hlaudi Motsoeneng, hoof bedryfsbeampte van die SAUK, is vrywillig met verlof terwyl ʼn dissiplinêre verhoor teen hom voortduur.

Dit kom nadat die Demokratiese Alliansie ʼn dringende hofaansoek ingedien het om hom te laat skors, in die jongste ontwikkeling in ʼn lang regstryd oor sy aanstelling by die openbare uitsaaier.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vandeesweek gehoor Motsoeneng se permanente aanstelling as bedryfshoof van die SAUK moet hersien en tersyde gestel word. Die DA het gesê dit is ʼn “eenvoudige saak” oor “dit wat die wet voorskryf en nie wat mense sê nie”.

Motsoeneng is verlede jaar permanent aangestel as die uitvoerende bedryfsbeampte ondanks talle bevindings teen hom deur die Openbare Beskermer, onder andere dat hy valslik aangedui het dat hy gematrikuleer het.

Regter Dennis Davis het die saak aangehoor en gesê dit handel nie oor Motsoeneng se skuld of onskuld nie, maar eerder of Faith Muthambi, minister van kommunikasie, rasioneel opgetree het toe sy besluit het om hom aan te stel.

Davis het Woensdag uitspraak voorbehou in die saak.

Die Demokratiese Alliansie het Vrydag ʼn dringende aansoek ingedien om Motsoeneng met onmiddellike effek te laat skors. Die party het gesê hy glo Motsoeneng minag die hof, aangesien die hoogste hof van appèl verlede week beslis het dat hy geskors moet word hangende die uitslag van ʼn dissiplinêre proses, soos Madonsela verlede jaar aanbeveel het.

Motsoeneng het egter steeds bly werk en die SAUK het Woensdag appèl aangeteken by die grondwetlike hof teen die hoogste hof van appèl se uitspraak oor sy skorsing. Die SAUK het egter Maandag dissiplinêre dokumente teen hom ingedien en die verhoordatum van 30 Oktober bevestig.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het Motsoeneng se verlof as “ʼn stap in die regte rigting” beskryf, maar gesê dit is nog nie naastenby voldoende nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.