Moyane mag Gordhan nié kruisondervra

Tom Moyane en adv. Eric Mabuza by die sitting van die Zondo-kommissie van ondersoek. Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Tom Moyane se aansoek om Pravin Gordhan te kruisondervra, van die hand gewys.

Zondo het die aansoek op grond van alle kwessies, behalwe een, ter syde gestel en gesê hy wag vir duidelikheid van die twee partye betrokke oor dié spesifieke aspek.

Die aspek hou verband met Gordhan, minister van openbare ondernemings, se bewering dat Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se besluit in 2016 om aanklagte teen hom aanhangig te maak ʼn teken van sy kwaadwilligheid teenoor die minister is.

Zondo het gesê hy sal verdere insette van twee partye in die vorm van geskrewe vertoë versoek. “Afgesien van dié kwessie waarna ek verwys het, is ek tevrede daar is geen ander kwessie waarvoor die applikant toestemming moet kry om kruisondervraging oor te doen nie,” het Zondo gesê.

Gordhan het Moyane se aansoek teengestaan. Sy advokaat, Michelle le Roux, het verlede maand die aansoek voor Zondo betwis deur te sê Moyane wil bloot vir Gordhan kruisondervra “om homself te rehabiliteer”.

Le Roux het aangevoer Moyane wil weer die narratief oor ʼn sogenaamde “geheime eenheid binne die SAID” aanvuur in ʼn poging om sy verwydering as kommissaris, wat uit ʼn verdoemdende verslag van die Nugent-kommissie gespruit het, om te keer.

Adv. Dali Mpofu, Moyane se regsverteenwoordiger, het teruggekap deur aan Zondo te sê hoewel Gordhan homself as ʼn “staatskapingontbloter” uitbeeld, was hy “’n getroue ondersteuner” van Zuma. Mpofu het beweer Gordhan, wat al twee keer vantevore die land se minister van finansies was, het sentraal gestaan in die kaping van die staat en moet van hoogverraad aangekla word.

“Mnr. Moyane sal nie so arrogant soos mnr. Gordhan wees en dink sy weergawe is onaantasbaar nie. Maar as sy weergawe korrek is, kan jy dalk vind dat dit mnr. Gordhan is wat van hoogverraad aangekla moet word. Hy het presies dieselfde ding gedoen, dalk op kleiner skaal, maar in ʼn ander konteks. Dit is alles krimineel.”

Moyane se aansoek het gespruit uit Gordhan se verdoemende getuienis in November verlede jaar. Die minister het getuig toe hy minister van finansies was, het Moyane geweier om aan hom verantwoording te doen oor twyfelagtige aktiwiteite en die inkomstediens-kommissaris is deur oudpres. Jacob Zuma beskerm.

Gordhan het verder beweer Moyane het aan die parlement gelieg oor sy betrokkenheid by die toekenning van ʼn skuldinvorderingstender by die SAID.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jean ·

Tom Monyane hou op om so arrogant te wees! Jou mafia baas dae by SARS is verby! Ipv om n eerbare dag se werk te doen was julle besig om te konkel tot julle eie voordeel! Los Mnr Gordahn uit,hy is van die min eerbare mense wat sy werk doen, iewers het ek gelees hy is maar no 73 op die kandidate lys…Tragies! Die skurke is almal onder die top 20!!!

marous ·

Geniet mekaar kamerade van voor die spaar varkie oopgekap is ….

TLC ·

So dikvellig het ek in my lewe nie teegekom nie en van arrogant nie eers gepraat nie
Jy hoort in die tronk

PJC ·

Ek dink hierdie klomp het vir regter Zondo geheel en al onderskat en loop nou hul rieme lelik styf.

Grompie ·

Kaalkop brigade snaaks dat so baie van hulle deesdae beskuldig word .Ek wonder maar net is dit meer as net n haarstyl?Ek hou dit al dop van Zuma se tyd ,watter onheil is hier onder ons oë sien selfs Cyril het aangesluit sal dit wees oor Bossasa en sy seun wonder maar net.Ace ook en paar van Kommunisties party.Wat van Malema?Blink koppe enigste lig ongelukkig lyk toekoms nie baie verlig met die blink koppe nie tot gewese hoof van SARS en sien Pravo volg ook nou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.