Moyane se verdagte besoek aan Rusland

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Foto: GCIS

Die Nugent- kommissie van ondersoek het Vrydag gehoor hoe Tom Moyane, die geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ʼn “verdagte” reis na Moskou onderneem het om die Russiese belastingowerhede te ontmoet.

Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge was glo nie bewus van hierdie besoek aan Rusland nie.

Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, het aan die kommissie gesê hy is destyds ingelig dat die besoek dringend was en dat hy terugvoer van Moyane verwag het met sy terugkeer.

Moyane is in November 2017 Moskou toe om na bewering ʼn ooreenkoms met die Russiese belastingowerhede te onderteken.

“Indien daar enigiets verkeerd was met die reis en dit onder my aandag gekom het, sou ek stappe gedoen het. Ek het geen rede gehad om te vermoed iets is nie reg nie,” het Gigaba gesê en ook erken dat hy nooit terugvoer van Moyane af gekry het oor die reis nie.

Gigaba, wat van 31 Maart 2017 tot Februarie vanjaar die minister van finansies was, het gesê hy het sy kommer oor bestuurskwessies by die SAID tydens twee geleenthede met Moyane bespreek voor hy die kommissie van ondersoek voorgestel het.

Hy het getuig die besluit het gevolg nadat hy agtergekom het dat die SAID nie ʼn goeie verhouding met die tesourie het nie. Hy het gedink ʼn kommissie van ondersoek sou die bewerings kan ondersoek en voorstelle vir veranderinge maak indien nodig.

Gigaba het toegegee dat wanadministrasie by die SAID bygedra het tot ʼn tekort aan inkomste-invordering, maar het gesê die sukkelende ekonomie was ook ʼn faktor.

Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, huidige minister van finansies, het ná Gigaba getuig en gesê hy het verskeie kere met Moyane gepraat om hom sover te kry om op invordering te fokus. Hy het gesê Moyane se aandag was by kwessies soos die sogenaamde “rogue-unit”.

Nene is geroep om voor die kommissie te getuig weens sy beweerde goedkeuring van die raadgewende firma Bain and Company se bedryfsmodel wat die SAID gestabiliseer het.

Nene het aan die kommissie gesê hy het ʼn e-pos van Moyane af ontvang waarin Moyane gesê het die SAID moet sy beeld verander om die bestuur te versterk en te vernuwe.

“Die bedoeling was edel, so ek het gesê hulle kan voortgaan.” Hy het verduidelik die goedkeuring was net in beginsel aangesien die kommissaris sonder die minister kon voortgaan omdat dit ʼn operasionele saak was.

Volgens Nene het hy dus sy goedkeuring gegee vir die proses en nie die uitslag daarvan nie. Hy het gesê hy is diep teleurgesteld met wat Bain by die SAID uitgerig het.

Die kommissie het gehoor hoe Bain se bedryfsmodel skade aan noodsaaklike eenhede aangerig het, waaronder die vermoë om nakoming te meet en die vermoë om onwettige finansiële vloei en hoëprofielondersoeke te hanteer.

Nene het aan die einde van sy getuienis gesê hy sal enigiets ondersteun wat die integriteit van die aanstelling van ʼn kommissaris sal verbeter.

Hy het gesê dit kan voordelig wees vir die parlement om betrokke te raak by die aanstelling van ʼn kommissaris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Mostert na die maal….het my ouma altyd gesê.

Piet ·

Presies, en die skade is gedoen. En wie gaan verantwoordelikheid aanvaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.