Moyane wil nou Ramaphosa vra om SAID-ondersoek op te skort

Tom Moyane (Foto: ANA)

Tom Moyane, geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se regsverteenwoordiger het gesê hulle sal pres. Cyril Ramaphosa nader om die kommissie van ondersoek oor die administrasie van die SAID op te skort.

“Ons volgende stap is om die kwessie met die president te bespreek. Soos julle gehoor het, die regter het nie homself aangestel nie. Ons sal na die besluitnemer toe gaan wat die regter aangestel het,” het Eric Mabuza gesê.

Afgetrede regter Robert Nugent het verlede week Moyane se versoek, dat die ondersoek gestaak moet word hangende die finalisering van sy dissiplinêre verhoor, van die hand gewys. Hy het ook die versoek, dat alle bewyse wat ingesamel is van die rekord verwyder moet word, verwerp.

Nugent het gesê die president het die kommissie aangestel en dit kan dus nie self ontbind nie.

Mabuza het gesê as hulle nie suksesvol is met hul versoek by die president nie, sal hulle die hof nader, op versoek van Moyane.

Moyane wil ook hê die Inkomstediens moet al sy regskoste betaal. Nugent het ook dié versoek van die hand gewys.

Moyane wil ook het prof. Michael Katz moet van die ondersoek verwyder word, aangesien hy ʼn vriend van die president is en namens hom opgetree het tydens die Marikana-debakel. Nugent het egter bevind Katz het nie ʼn botsing van belange nie en het dus ook dié versoek verwerp.

ʼn Voorlopige verslag oor die ondersoek sal na verwagting in September gelewer word en die finale verslag moet teen November gereed wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jakkalas ·

Nou vir wat keer hy so vir die vale? Wat het die despoot om weg te steek? Laat die ondersoek voortgaan. Getuies in die ondersoek kan hom dalk sy job kos…

BB ·

Soos dit vir my klink het hy baie om te verloor as hy voor die kommissie moet verskyn. Hoekom na CR toe hardloop, ek wil sien hoe ontbind hy die kommissie….. skelm dit is al wat dit is…. bang al sy bedrog, geldwassery kom uit. Seker die Guptas se tassies volgepak voor hulle land uit is. Deesdae is dit so maklik as die hof jou dagvaar om te verskyn dan se jy net nee dankie ek stel nie belang nie. Wat het geword van in die tronk stop!?!? Tas seker sy menseregte aan. Deesdae se grondwet maak voorsiening net vir die wat skelm is. En ons allerman op straat se grond word weggevat sonder vergoeding. Al sorg van die land se voorste boere vir kos op ons tafels sal hulle eerder sy grond vat en dit vir n tipe mens soos Moyane gee.

Ekke ·

Moyane het almal by SAID geïntimideer, nou dink hy hy kan dit ook met die regter regkry! Hy het hom lelik vasgeloop. Hy moet kry wat hy verdien.

Chris ·

Mnr Monyane reken seker as die staat die gewese no1 se regskoste betaal kan hulle seker sy regskoste ook betaal want hy was dan no2. Hy hoef nie te vrees nie hy gaan nie sy werk terug kry nie maar wel n stywe handdruk. Dit is wat met al die korruptenare gebeur nog nie een van hulle voor die regbank gesien wat gevonnis is nie. Hulle verskyn net en dan word die saak uitgestel om van die hofrol verwyder te word en geen haan kraai daana nie

wraggies ·

CR het dan self die kommissie op die been gebring, hoekom sal hy dit opskort?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.