Mpati-kommissie: Survé moet oor OBK-finansiering getuig

dr-iqbal-surve-deur-ana

Dr. Iqbal Survé, die voorsitter van Sekunjalo Investment Holdings en Independent Media, sê sy maatskappy het niks om weg te steek nie. Foto: Ayanda Ndamane /ANA.

Dr. Iqbal Survé, die voorsitter van Sekunjalo Investment Holdings en Independent Media, het Dinsdag gesê hy sal die geleentheid verwelkom om voor die Lex Mpati-kommissie te getuig.

Dit volg nadat Alf Lees, parlementslid van die DA, Maandag vir die kommissie gevra het om te bevestig of Survé sal verskyn om aantygings teen hom en sy maatskappye by die kommissie te verduidelik.

Survé het in ʼn verklaring gesê hy sal graag saam met die kommissie werk en sy maatskappy het niks om weg te steek nie.

Nog ʼn organisasie wat Survé se getuienis voor dié kommissie sal verwelkom, is AMAGP.

Die organisasie verteenwoordig meer as 500 staatsdienspensioenarisse wat as vrywilligers die regering se pensioenfonds (GEPF) en die fonds se batebestuurder, die openbare beleggingskorporasie (OBK), sedert 2012 monitor.

Albert van Driel, ondervoorsitter van die AMAGP, het onlangs self by die kommissie getuig en onder meer beswaar gemaak oor strukturele ongerymdhede, asook die verkeerde aanwending van pensioenarisse se swaar verdiende spaargeld.

“Survé se projekte is ook met regeringsamptenare se pensioengeld gefinansier. Hy het die Independent-koerantgroep oorgekoop met ʼn drieledige lening wat sowat R2 miljard beloop het.”

Volgens Van Driel moes daar in Augustus 2018 ʼn eerste paaiement van die lening terugbetaal word, maar dit het nooit gebeur nie.

Verder is daar reeds in die 2017-jaarverslag van die GEPF ʼn verlies teen die finansiering van Independent Media aangeteken.

Van Driel sê AMAGP kan ook nie die uitermatig goeie voordele van die lening aan Survé verstaan nie.

“Survé hoef eers ná vyf jaar rente of kapitaal op die reusagtige lening terug te betaal.

“Terselfdertyd, in Desember 2017, het die OBK dit goedgedink om ʼn verdere R4,3 miljard in nog ʼn maatskappy wat aan Survé behoort, Ayo Technology Solutions, te belê vir die notering van die maatskappy op die Johannesburgse aandelebeurs.

“Die prys per aandeel vir die maatskappy is vasgestel op R43,00 per aandeel en die prys was volgens die getuienis van die OBK nie eens onderhandelbaar nie. Daardie prys het intussen met 50% verminder en verhandel tans op sowat R12,00 per aandeel.”

Hy sê AMAGP het met die opstel van die verliesregister vir die GEPF die lening aan Independent Media en AYO onmiddellik afgeskryf.

Voorsitter van die ondersoek, oudpresident van die hoogste hof van appèl, regter Lex Mpati (Foto: ANA)

Inligting is té vertroulik om te deel

AMAGP het die verliesregister in 2018 vir die pensioenfonds begin byhou omdat die groep gesukkel het om inligting te kry oor die beleggings wat met die fonds se geld gemaak word.

“Elke keer dat ons hierdie twee groot instellings aanvat oor die swak beleggings wat gemaak word, word daar gevra hoekom ons so tekere gaan, want dit is net ʼn klein persentasie van die fonds se sowat R2 biljoen (trillion) wat hiervoor gebruik word.”

Die register is verdeel in bekende, waarskynlike en toekomstige verliese van bedenklike projekte. Die somtotaal van die register staan tans op R114 miljard.

“In die geval van die OBK se beleggings in Survé se projekte is dit R6,3 miljard wat herbelê kon word om ʼn groter opbrengs en beter rentedividende vir ons pensioenarisse te bewerkstelling.”

Geld word ook van die GEPF deur die OBK gekanaliseer om ʼn regeringsreddingsboei aan sukkelende staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens te verskaf.

Van Driel sê hulle is ook bewus dat die OBK ʼn transaksiefooi van R50 miljoen uitbetaal het omdat ʼn persoon ʼn saketransaksie na die korporasie verwys het.

“Ons het net begin besef dat die woorde ‘dit is vertroulik en daarom kan ons nie meer inligting hieroor verskaf nie’ ʼn skans is waaragter talle onbehoorlike optrede kan plaasvind,” het Van Driel bygevoeg.

AMAGP het in die middel van verlede jaar ʼn brief aan die minister van finansies, toe nog Nhlanhla Nene, gestuur waarin hulle die syfers van die verliesregister gebruik het om al die ernstige besware oor die bestuur van die pensioenfonds te onderstreep.

“Genl. Bantu Holomisa [parlementslid en leier van die UDM] het gelukkig terselfdertyd ook ʼn hele reeks briewe aan die president geskryf oor dieselfde probleem. Hy het net meer besonderhede gehad omdat hy toegang tot fluitjieblasers binne die instellings gehad het.”

Van Driel sê AMAGP glo die Mpati-kommissie sal die diefstal en plundering van die OBK aan die lig bring.

“Ons vertrou die kommissie sal ernstige en behoorlike aanbevelings aan die president maak sodat die oortreders aan die kaak gestel en voor die howe gedaag word.”

GEPF-webblad

‘n Skermskoot van die GEPF se webblad.

Kommer oor volhoubaarheid

Hy sê daar is sprake dat die kommissie se ondersoek verleng kan word. AMAGP hoop ook adv. Jannie Lubbe sal die organisasie se ouditspesialis, Christo van Dyk, vra om te getuig. Van Dyk het ʼn volhoubaarheidstudie op die GEPF gedoen en ook na die kontantvloei van die fonds gekyk.

“Van Dyk kon nie sy jongste studie voltooi nie, want die GEPF het nie met die jongste jaarverslag vir 2017 en 2018 – wat eers einde November uitgereik is – ʼn aktuariële verslag ingesluit nie. AMAGP poog nou om dié verslag op ʼn ander manier te kry.”

Oor die volhoubaarheid van die fonds is daar beslis groot kommer, sê Van Driel.

“Die pensioenfonds het reeds in 2014 tekens getoon dat die bydraes van lede en die regering nie meer genoeg is om die fondsverpligtinge van pensioenuitbetalings na te kom nie.

“Daar is tans ’n tekort van 2% tot 2,5% hiervoor terwyl die verpligtinge in die omgewing van R90 miljard tot R95 miljard per jaar beloop.

“Weens hierdie tekort beteken dit die rente en dividende wat verdien word op beleggings moet help om daardie finansieringskoste te dek.

“Dit kom daarop neer dat daar ál minder geld is om te herbelê vir die groei van die pensioenfonds. Dit is een van die sterkste besware wat ons by die kommissie geopper het.”

Die OBK se logo. Grafika: ANA.

Só is die Mpati-kommissie begin

Pres. Cyril Ramaphosa het dié kommissie in Oktober 2018 aangestel om beweringe van ongerymdhede in die bestuur van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) te ondersoek.

Regter Lex Mpati, ʼn voormalige president van die appèlhof, is van aktiewe diens onthef om die kommissaris van die kommissie te wees. Mpati word deur Gill Marcus, ʼn voormalige goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, en Emmanuel Lediga, ʼn veteraan-batebestuurder, bygestaan.

Die OBK bestuur onder meer die regering se pensioenfonds van R2 biljoen (trillion).

Maroela Media het berig een van die 16 dinge wat die kommissie moet ondersoek, is of enige beweerde onbehoorlikheid rakende beleggingsbesluite deur die OBK wat in 2017 en 2018 deur die media berig is, enige wetgewing oortree het.

Die kommissie moet ook ondersoek of die OBK se beleids- of kontraktuele verpligtinge enige onbehoorlike voordeel vir enige OBK-direkteure, -werknemers, -vennote of familielede van enige OBK-direkteur of -werknemer tot gevolg gehad het.

Ramaphosa wil ook hê die kommissie moet ondersoek of die beleggingsbesluite by die OBK ʼn gevolg was van ondoeltreffende bestuur of -funksionering van die raad of enige OBK-direkteur of -werknemer wat sy of haar posisie, voorregte of vertroulike inligting misbruik het vir persoonlike gewin of om iemand anders onbehoorlik te bevoordeel.

Die kommissie moet die tydperk 1 Januarie 2015 tot 31 Augustus 2018 ondersoek vir sy bevindings, verslag en aanbevelings.

ʼn Interimverslag moet teen 15 Februarie verskaf word waarna die kommissie die finale verslag teen 15 April sal indien.

  • Luister ook boaan hierdie berig na Maroela Media se gesprek met Andries van Driel, ondervoorsitter van die AMAGP. Dié organisasie bestaan uit pensioentrekkers wat as vrywilligers die regering se pensioenfonds en die openbare beleggingskorporasie monitor. Van Driel het talle bekommernisse oor die bestuur van die pensioenfonds ter waarde van R2 biljoen (trillion) gedeel. Die organisasie het ʼn verliesregister sedert 2018 vir die fonds begin byhou. Volgens die berekeninge bedra die bekende, waarskynlike en toekomstige verliese van gelde wat aan bedenklike projekte bestee is reeds R144 miljard in die register.
  • Lesers en luisteraars wat meer te wete wil kom oor die AMAGP se werksaamhede kan die organisasie se webwerf of Facebook-blad besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert ·

Die man lyk alte veel na n politikus! Daar is die antwoord aan die OBK ondersoekspan. Doen bietjie surveyor werk en kom agter die kap van die byl se R miljarde asb!

Alida ·

Is daar nog skoon entiteite en eerlike mense in hierdie siek land.

GEPF ·

Ek is verbaas dat daar nog wel iewers ‘n paar randte oor is om te plunder…
SKAAMTELOOS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.