MPO kry nuwe hoof-ekonoom

Bertus van Heerden. Foto: MPO

Die Melkprodusente-organisasie (MPO), wat hom daarvoor beywer om Suid-Afrika se melkbedryf winsgewend, volhoubaar en mededingend te maak, het 2019 met ʼn nuwe hoof-ekonoom ingelui.

“Dr. Koos Coetzee het ná ʼn roemryke loopbaan in die melkbedryf van 23 jaar einde 2018 afgetree,” sê die MPO. “Koos het in vele opsigte baanbrekerswerk in die Melkprodusente-organisasie gedoen en sal daarvoor onthou word en word bedank vir sy bydraes en toegewydheid.”

Sy opvolger, Bertus van Heerden, het ʼn meestersgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het meer as 30 jaar ervaring in verskillende rolle in die landbousektor. Dit sluit verskeie senior bestuursposte en die interpretering van statistiek en bedryfsnavorsing in.

Die hoofdoel van sy pos, sê die MPO, is “om landbou- en ekonomiese beleid in die breё te beïnvloed en beleid te genereer om ʼn omgewing te help skep van volhoubare melkboerderye vir almal in die melkbedryf”.

Van Heerden is terselfdertyd projekbestuurder van MelkSA se markte-en-ekonomieprojek.

Die MPO sê hy het ʼn passie vir die ekonomie, die wisselwerking daarvan met die bestuur en toekoms van ʼn land en beskou die boer as die episentrum van entrepreneurskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Dit verg nie ‘n meestersgraad om te doen wat Bertus van Heerden wil doen nie….Dis eintlik heel eenvoudig. Begin die boere kry om hulle eie produkte te bemark….in plaas van dit vir ‘n middelman te gee wat 400 keer die profyt maak wat die boer maak……….nadat hy al die harde werk gedoen het…….en amper niks daarvoor kry nie. Die boer kry tussen R4,00 en R4,50 per liter vir melk…………en die supermarkte verkoop dit vir R12,00 -R20,00 per liter…..Waarom word dit toegelaat?

Gerrie ·

Baie van hierdie landbourade is kwasi staatsdepartemente. Werkskepping m.a.w. Kleintyd op n plattelandse dorpie het ons gereeld by n oom onverwerkte melk gekoop. Reguit uit die koei se spene. Nooit iets daarvan oorgekom nie. As ek nou van iemand hoor wat dit doen, sal ek weer onverwerkte melk koop.

Adam ·

Gemaskerde Sopbeen, ek dink daardie mestersgraad sal handig te pas kom. Dit is so dat melkboere tussen R4 en R5 per liter ontvang afhangend van die kwaliteit van die melk, maat indien jy dink dat die balans tussen rakprys en die produsent se ontvangs, skoon wins verteenwoordig, maak jy ‘n groot fout. Vars melk moet te alle tye vervoer word dmv verkoelde tenkwaens en ons almal weet hoe duur koelvervoer is, oa agv duur brandstof- en voertuigpryse. Voeg daarby die koste van die pasteurisasie- en verpakkingsproses en die daaropvolgende distribusieproses om die melk op die winkelrak te kry en die prentjie lyk heel anders. Indien daar gekyk word na die koste van die besigheidspersele en infrastruktuur asook die salaris- en loonrekening van die betrokke partye wat betrokke is, is dit glashelder hoekom die uiteindelike rakprys so hoog is. Dit is ongelukkig ook die geval by oa wingerdboere. Kapitaal- en bedryfskoste is die sondebok op enige plek in die ketting. Die MPO is dus wys om nie ‘n graad 10 kandidaat met Wiskundige Gelettertheid as vak, met die verantwoordelikheid toe te vertrou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.