Mpofu dreig De Vos met regsaksie

Prof. Pierre de Vos. Foto: Twitter

Adv. Dali Mpofu dreig prof. Pierre de Vos met regsaksie rakende ’n artikel wat laasgenoemde geskryf het oor die kommissie van ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

De Vos, ’n grondwetkenner, het die artikel geskryf nadat Mpofu, wat Tom Moyane, geskorste hoof van die SAID, verteenwoordig, versoek het dat die kommissie van ondersoek gestaak word.

Mpofu het die artikel as “lasterlik, beledigend en moontlik rassisties” bestempel en De Vos op Twitter versoek om dit teen Woensdag 12:00 te verwyder of regsaksie in die gesig te staar. Die artikel verskyn op De Vos se blog Constitutionally Speaking en die nuuswebwerf Daily Maverick en is nie verwyder nie.

Mpofu het later ook getwiet dat die artikel neerhalend is en De Vos gevra of hy al ooit die deur van ’n hof gesien het en watter ander senior advokate hy al beledig en daarvan beskuldig het dat hulle lieg en oneties is.

De Vos het in die artikel geskryf dat Mpofu en Moyane se pogings om die SAID-kommissie van ondersoek as “uitermatig onregverdig” af te maak en te eis dat die kommissie sy werk stopsit uit ’n regsoogpunt nogal vreemd is aangesien die argumente geen geldige regsgrondslag het nie en op vals eise gegrond is.

Regter Robert Nugent, voorsitter van die kommissie, het Mpofu en Moyane se versoek dat die ondersoek gestaak moet word hangende die finalisering van Moyane se dissiplinêre verhoor, van die hand gewys. Hy het ook die versoek dat alle bewyse wat ingesamel is van die rekord verwyder moet word, verwerp.

Adv. Dali Mpofu en Tom Moyane. Foto: Twitter

Nugent het gesê die president het die kommissie aangestel en dit kan dus nie self ontbind nie. De Vos het dit in sy artikel beaam en gesê ’n kommissie van ondersoek is nie ’n hof of ’n tribunaal nie en dat dit nie regtens bindende bevindinge teen iemand kan maak nie. “Die president het volgens wet die mag om ’n kommissie van ondersoek aan te stel oor enige onderwerp van openbare belang en om te besluit oor die terme van verwysing.”

De Vos het gesê Mpofu se versoek dat die kommissie sy werk staak maak dus nie wettig sin nie. “Dit is soos iemand wat my nader en eis dat ek die wendoel in die finaal van die Wêreldbeker-sokkertoernooi moet skop. Dit is ongelukkig nie iets wat ek geregtig is om te doen of ooit sal kan doen nie.”

De Vos meen ook dit is absurd dat Moyane aanvoer dat hy nie die geleentheid gegun is om sy perspektief by die kommissie te gee nie, aangesien enigiemand die kommissie met inligting kan nader.

Volgens De Vos maak dit dalk vanuit ’n politieke perspektief sin om, hoewel oneties, in die gedagtes van gewone mense en leiers in die regerende party wat onkundig is oor die reg, die indruk te probeer skep dat die kommissie bevooroordeeld is teenoor Moyane.

“Diegene wat baie het om te vrees as daar herlewing by die SAID kom (of wat finansiële ondersteuning kry vir hulself of vir hul politieke partye) sal natuurlik die kommissie wil diskrediteer om dit polities moeiliker te maak vir die president om op die kommissie se aanbevelings te reageer, met die veronderstelling dat die aanbevelings – indien opgetree word – die vermoë van die SAID sal verbeter om groot korporatiewe belange en welgestelde individue met politieke bande onder die vergrootglas te plaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Fortis ·

Af en toe slaan Pierre de Vos die spyker op die kop. Maar nou ja, selfs ‘n blinde hoender pik nou en dan ‘n mieliepit raak.

Helene Heyns ·

Fortis, het ek nou hierdie kommentaar van jou geniet. In die kol.

Mielie ·

EFF taktiek. Boelie, intimideer, dreig en ja moenie die raskaart vergeet nie…..Dis nou n troefkaart gebruik hom om dinge te verdraai. Hoe bome vang die meeste wind…

Koos ·

Hoeveel jaar ervaring het De Vos as advokaat? Seker nog nooit gepraktiseer nie.

koos1 ·

Hoe lank voordat Tom Moyane as lid van die EFF voorgestel word?

Hehehe ·

EK IS MAL DAAROOR AS DIE linksgesindes mekaar beetpak. Gaan solank popcorn kry … dit behoort interessant te wees. So leer die liberale maar hulle lesse — een vir een —

Johan ·

Ja en natuurlik is Prof de Vos se artikel “moontlik rassisties” – let wel “moontlik”. So rassisme word alweer ingetrek. Eish. Adv Mpofu beskerm homself egter deur dit te stel dat die artikel “moontlik” rassisties is – want hy weet dit is nie regtig rassisties nie. Maar hy moet rassisme op ‘n manier betrek, want hy is mos EFF en moet hulle narratief bevredig.

Willem ·

Gaan lees gerus op The Citizen se webwerf die artikel van Charles Cilliers en wat Jacques Pauw, skrywer van The President’s Keepers daaroor te sê het!

Gerhard Burger ·

Prof. de Vos se argumente is ‘n ontleding van die regsposisie gegrond op die grondwetlike voorskrifte ten aansien van sulke kommissies van ondersoek wat deur die president aangestel kan word, en of die optrede van ‘n bepaalde party binne die werking van só ‘n kommissie – gegewe die regsmandaat, regmatig is. Daarvoor is regskennis, navorsingservaring en ontledingsmetodiek as voorvereistes nodig. Geen praktykservaring as juris is ‘n besondere voorvereiste vir gevalle soos hierdie nie. Beide Mpofu en enkele ander kommentaar wat dit as sodanig stel tas in die duister. In Mpofu se geval het sy opmerking bloot ‘n blatant beledigende ondertoon van afwysing – ”n akademikus kan nie ‘n praktiserende advokaat op dwaling wys nie’. Daarom, behalwe as hy sy begrip verswyg om die rede pas genoem, blyk dit dat hy nie akademiese navorsing en kommentaar verstaan nie.

Willem ·

Gaan lees gerus die storie agter die storie in The Citizen, ek dink Jacques Pauw is reg,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.