Mpuma-gesin byna uitgewis tydens huishoudelike geweld

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie in Mpumalanga is besorg oor twee voorvalle van huishoudelike geweld wat vandeesweek in Carolina plaasgevind het.

ʼn Ma en haar twee jong seuns is Vrydagoggend in die vroeë oggendure doodgeskiet en haar dogter veg om haar lewe in die hospitaal nadat sy ook geskiet is. Die pa is dood aangetref met ʼn vuurwapen langs hom. “Dié voorval spruit vermoedelik uit huishoudelike geweld,” het kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, gesê.

Volgens berigte is polisiebeamptes en paramedici deur ʼn lid van die familie in kennis gestel oor die voorval en vier lede van die gesin is met skietwonde aangetref. “Hulle het nie enige tekens van lewe getoon nie. Die vrou is tussen 35 en 40 jaar oud en haar seuns is onderskeidelik een en sewe jaar oud. Die 40-jarige man is ook dood verklaar deur paramedici. Die gesin se negejarige dogter is na ʼn hospitaal geneem.”

Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die man vermoedelik sy gelisensieerde vuurwapen gebruik het om sy gesin uit te wis voor hy sy eie lewe geneem het. “Die polisie se ondersoek duur egter voort,” het Mdhluli bygevoeg.

ʼn Lid van die familie was besorg nadat hy nie enige reaksie van die man kon kry toe hy hom verskeie kere probeer kontak het nie. “Hy het besluit om besoek af te lê aan die huis waar hy op dié vreeslike voorval afgekom het.”

In nog ʼn voorval van huishoudelike geweld is ʼn ma en haar twee kinders, onderskeidelik vyf en sewe jaar oud, vermoedelik aan die brand gesteek deur die 35-jarige pa by hul huis in die Nkanini- informele nedersetting, ook in Carolina. “Dié voorval het Dinsdag plaasgevind. Volgens inligting het die pa glo sy vrou en kinders in die plakkershuis toegesluit. Hy het daarna petrol oor die struktuur uitgegooi en dit aan die brand gesteek. Die man het ook brandwonde opgedoen.”

Bure het die drie slagoffers gered toe hulle gehoor het hoe hulle skree. Hulle is na ʼn hospitaal geneem. “Die polisie is in kennis gestel en ondersoek drie aanklagte van poging tot moord.”

Die man is in hegtenis geneem en hy is tans onder polisiebewaking. Hy sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Hoekom los hy nie die vrou en kinders uit en haal homself uit nie? Die redenasie vermoë gaan my verstand te bowe as mense dit doen regtig

Sarel ·

1 Dogter 9 jr oud alleen in die wereld mrt die wete wat gebeur het. Met almal wat vinnig hulp vir berading kty sudn ek niks vur die kind nie.
2. Indien die man oorleef sal dit seker soos volg beloop
1. Aangekla van wat: Poging tot Moord/ Brandstigting?
2. Borg = is mos nie meer ‘n vraag nie maar ‘n rsg.
3. Sask gaan sloer vir verdere o ndersoek.
4. Word gevonnis Lewenslank wat nie regtig so is nie
5. Parool
6. Vryevoet

Wielspore ·

Hierdie soort optrede is die eienskap van ‘n man wat narsistiese persoonlikheidsversteuring het. Narsistiese persoonlikheidsteuring (NPS) is ’n persoonlikheidsteuring waar ’n persoon ’n obsessie het oor sy toereikendheid, mag, aansien en ydelheid, en nie in staat is om die vernietigende uitwerking daarvan op hulself en ander te sien nie. My dogter het na 9 jaar van ‘n man se obsessie oor sy toereikendheid die dapper stap te neem en hom verlaat. Dit is net jammer dat daar nie uitkoms vir die gesin in die berig was, voordat die ergste gebeur het.

Lynette ·

Belangrik om te noem is die feit dat die tyd wanneer die narsissis VERLAAT word, die GEVAARLIKSTE tydperk van hul HELE verhouding inwei. DIT is die tyd wanneer die narsissis uiteindelik alle BEHEER oor die ander persoon verloor, wat narsissiste nie DULD nie. Hulle sal ENIGIETS probeer om beheer te BEHOU, van leë beloftes en selfs moord (want jy is MY BESITTING, wie gee JOU die reg om my te wil verlaat en as ek jou nie kan BEHEER EN BESIT nie, sal ek eerder jou (as my besitting), UITWIS. Ek raai aan dat jou dogter n vuurwapen aanskaf en dit sonder aarseling gebruik wanneer nodig…sy moet ook NOOIT instem om hom êrens te ontmoet vir ‘kom ons praat sake uit’ nie…dis dikwels n lokval. En dit kan jare NA die verlating steeds beplan word…hierdie mense ‘prut in hul eie haat en onvermoë’ en sal GEDULDIG wag….

Johan ·

Ekt so Skoonsister ook en is baie bekommerd dat sy my broer gaan doodmaak wanneer sy hom weggooi.NPS is baie werklik en n baie groot probleem. Sterkte Wielspoor.

ElizeK ·

Ek het gisteraand tydens bybelstudie vir my leraar gesê ek dink tot God is moedeloos met dit wat HY geskape het, naamlik die mens. Ek sê dit met die grootste respek vir my Skepper. Dit is net verbysterend hoeveel wreedheid in sommige mense skuil.
Ek kan nie meer die boosheid “stomach” nie. Is die mensdom besig om mal te raak, want geen regdenkende mens kan so wreed wees nie.

Deon ·

Kyk na alles wat op die aarde gebeur…. Ek dink die duiwel is los op die aarde.

Chris ·

Dit is baie tragies dat daar sulke voorvalle plaasvind. Elke moord is vir my afgryslik. Mens sal nooit die werklike oorsaak aan die moorde kan toeskryf nie. Daar is mense wat met versteurde persoonlikheids afwykings rondloop. Dit is die groot gevaar. ‘n “Rustige/kalm” persoon in jou vriendekring of ‘n kollega kan ‘n sielswroeging mee saam leef. Ek is nie ‘n sielkundige nie, maar ek dink die omstandighede waarin die persoon leef dra baie tot sy besluit by. Ek dink so persoon is moedeloos verby. Sien geen lig in die tonnel nie. Voel ook seker skuldig of aanspreeklik vir die situasie waarin hy en sy gesin leef. Sal nie weet nie.. Ek dink mens moet wyer kyk vir die oorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.