Mpuma-pa het glo sy drie kinders vermoor

Argieffoto: Kent Williamson

Drie kinders, onderskeidelik drie, ses en elf jaar oud, is dood aangetref in ʼn huis in Breyten, naby Ermelo in Mpumalanga.

Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê drie sake van moord word ondersoek.

“ʼn Voorlopige ondersoek wys daarop dat die kinders koelbloedig vermoor is. Hul kele is afgesny. Die polisie is na die toneel ontbied toe die ma op hul liggame afgekom het toe sy van die werk af teruggekeer het huis toe,” het Bhembe gesê.

Volgens Bhembe het die pa vermoedelik die kinders by die skool gaan haal en sy kinders vermoor. Hy het ʼn teksboodskap aan sy vrou gestuur en haar in kennis gestel dat hy die kinders vermoor het en dat hy sy eie lewe gaan neem.

“Kort ná sy die boodskap ontvang het, is inligting ontvang van ʼn man wat voor ʼn bewegende trein ingespring het. Hy is ernstig beseer. Dit het later aan die lig gekom hy is die pa van die vermoorde kinders.”

Die polisie in Mpumalanga doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap om professionele hulp te kry as hulle moeilike tye beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SNEL ·

Maklik om altyd te sê kry hulp, nou wie gaan jou help as jy “down and out” is en rekeninge het om te betaal. Wie gaan jou huis en water en ligte help betaal, waar gaan kos vandaan kom. Daar is geen hulp nie, net mooi niks, geen uitkoms vir so iemand of (regering) instansie waar hulle kan aanklop nie. Nou kom die einde van die jaar, daar word so baie druk op mense gesit. Kinders moet elk n geskenkie skool toe bring, afsluiting by dit en dat en n geldjie vir die word ingesamel en voordat jy sien moet jy geld uithaal vir nonsies wat jy eintlik nodig gehad het net om te oorleef. Wat hy gedoen het is glad nie reg nie en ek sal nooit selfmoord of moord van ander goed praat of reg praat nie. Die Bybel noem die dood ons vyand, ons moet veg om te lewe, maar om te maak asof hulp so maklik kom soos suurstof vir mense wat teen die muur is, is nonsies. Eers as iemand dood is of iets het gebeur dan is dit; nou hoekom het hy nie gevra vir hulp nie. Die ander kyk en sien niks, sien nooit waar hulle kan help nie, sien nooit die pyn en finansiële druk waardeur sommige gaan nie. Die regering wil ek sien hoe kom hulle uit met daai toelaag vir armes, en by dit gesê, hulle armes suffer en nie almal word gehelp nie. Baie sterkte vir die ma!!

LB S ·

Snel, dit lyk eerder asof hierdie moord deur wraak gepleeg is. Maar wat jy sê is ongelukkig ook aan die orde van die dag vir vele mense. Tragies.

Elsa ·

Die arme vrou! Hoe moet ‘n ma nie voel om al drie haar kinders keelaf gesny te vind nie? Daardie grusame toneel sal haar seker vir die res van haar lewe bybly. Mense moet regtig professionele hulp kry die oomblik as hulle sulke gedagtes begin koester. Geen mens het die reg om jou kinders of die hele gesin uit te wis, as dinge verkeerd loop nie en jy nie langer vir die lewe kans sien nie.

Karolis ·

Wanneer die polisie professioneel raak gaan die gemeenskap nie meer hierdie moelike tye beleef nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.