Mpuma-tiener se liggaam in Mosambiek gevind

Muller Steyn (Foto: Facebook)

Muller Steyn (17), wat tydens ʼn vakansie saam met sy gesin in die see in Mosambiek verdwyn het, se liggaam is Woensdag gevind.

“Dit is met groot hartseer dat ek kan aankondig dat Muller se liggaam gekry is. Ons innige simpatie met sy ouers en familie en vriende,” lui ʼn plasing op ʼn toegewyde Facebook-blad. “Mag God vrede in ons almal se harte bring.”

Maroela Media het vroeër berig Muller en sy 16-jarige nefie het Sondag by die see in Quinjata, Inhambane gaan swem toe die twee tieners in ʼn systroom beland het. Die nefie kon met die golwe weer terugswem strand toe, maar Muller het in die water verdwyn.

Muller was saam met sy pa Arno, ma Nanette en sussie Kayla in Mosambiek.

Cindy Fouche, ʼn vriendin van die familie, het op Facebook gesê ʼn helikopter, bote, jetski’s, hommeltuie en sweeftuie is ingespan om met die soektog te help.

Muller sou vanjaar ʼn matrikulant wees aan die Hoër Tegniese Skool Middelburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.