Mpumalanga-boere moedeloos, bang ná afsettingsbevel

‘n Stuk plaas in Ermelo, Mpumalanga (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

ʼn Groep van agt opkomende boere van die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga is op die punt om hul boerderye te verloor nadat hulle afsettingsbevele van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ontvang het. Van hierdie boere boer reeds langer as tien jaar op staatsplase en het baie tyd en energie bestee om die plase op te knap en te ontwikkel.

Dié boere vrees nou dat staatsamptenare een dag by hul plase gaan opdaag en hulle gaan dwing om die sleutels van die eiendom te oorhandig. Hulle voer ook ʼn hopelose stryd sonder enige finansiering of hulp vanaf die regering.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, het Donderdag die boere op ʼn plaas digby Ermelo ontmoet, waar hulle hul stories met haar gedeel het.

Die boere het almal tussen 2009 en 2011 op hul onderskeie staatsplase begin boer. Huurooreenkomste, wat vir drie jaar geldig was, is oorspronklik tussen die boere en die departement aangegaan. Daarna is die huurooreenkomste met ʼn verdere vyf jaar verleng. Ná vyf jaar het van die boere vir ʼn 30 jaar-huurooreenkoms aansoek gedoen en dit is aan die meeste van hulle toegestaan.

Die huurooreenkomste is egter nooit hernu nie en die departement weier nou volstrek om dit te doen. Van hierdie boere sit nou al vier jaar sonder ʼn huurooreenkoms en het talle briewe aan die departement gerig, maar geen reaksie gekry nie. Sonder ’n huurooreenkoms kan boere nie vir lenings by finansiële instellings aansoek doen nie. Hulle ontvang ook nie finansiële steun van die regering nie en trek noustrop terwyl hulle probeer om plase sonder enige alternatiewe inkomste aan die gang hou.

Die drie boere van die Sesonke Farming Group (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die boere het intussen ook vir die regering se herkapitaliseringsprogram (Recap) – waar die regering opkomende boere finansier – aansoek gedoen. Daar is finansiering aan van die boere goedgekeur, maar hulle het tot op datum nie ʼn sent van die departement ontvang nie.

“Van hierdie boere sou al heelwat suksesvoller gewees het as hulle nie deur die stelsel teruggehou was nie,” sê Steyn. “Die boere soek nie die departement se geld nie. Hulle soek die 30 jaar-huurooreenkoms sodat hulle met hul lewens kan aangaan en ophou om in onsekerheid te leef.”

Steyn sê boere huiwer om verder te ontwikkel omdat hulle nie weet of die grond môre van hulle weggevat gaan word nie.

Die plase lê boere na aan die hart en hulle sal boonop geen ander heenkome hê indien hulle wel van die plase afgeskop word nie.

Boere is op moedverloor se vlakte

“Die plaas is ons lewe. Ons brood en botter,” vertel Isaac Muvhali, wat al sedert 2009 op die plaas Tweefontein boer. Hy boer saam met Jabulani Nkosi en Tshilidzi Netsianda in die Sisonke Farmers Group-koöperasie. Hulle boer met bokke, beeste en varke en het sowat 530 ha mielies.

Hul huurooreenkoms het in 2017 verstryk en hulle het verlede jaar ʼn afsettingsbevel ontvang. Omdat hulle geen geld van die departement ontvang nie, is hulle genoop om van hul vee te verkoop om te oorleef.

“Ons sukkel. As ons nog boonop van die plaas afgesit word, het ons nêrens om te gaan nie.”

Die departement het onder meer aangevoer dat hy nie die huurooreenkoms kan verleng nie omdat hul beeste verskillende brandmerke het. Volgens die wet oor veebrandmerke moet boere self die vee brandmerk indien hulle dit aankoop.

Thabani Nxumalo (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Muvhali vertel hul beeste het verskillende brandmerke omdat hulle dit by verskillende boere aangekoop het. Hulle het egter hul eie merke op die beeste aangebring en het die nodige bewyse dat hulle die beeste wel aangekoop het. “Die regering wil nie na ons redes luister nie.”

Isaac Buthelezi van die plaas Dorpsplaas se huurooreenkoms is ook nie in 2017 hernu nie. Die departement het onder meer aangevoer dat Buthelezi nie self op die plaas woon nie en dat hy glo dele van sy plaas aan ander mense uitverhuur.

“In Julie 2017 het ek ʼn oproep van ʼn vrou ontvang wat gesê het dat die plaas nie meer aan my behoort nie. Ek was geskok,” vertel Buthelezi. “Sy het gesê die departement het my plaas die afgelope twee jaar besoek en my nie met ʼn oog gewaar het nie. Toe neem hulle aan ek woon nie meer daar nie.”

Na sy huurooreenkoms verstryk het, het hy ook vir finansiering aansoek gedoen, maar niks ontvang nie. Die departement het wel vir hom 50 melkbeeste gegee, waarvan 20 in die eerste week gevrek het.

Hy sit nou met 25 melkbeeste, maar sonder die nodige toerusting om hulle te melk. Hy het ook slegs een melkpomp waarmee hy die beeste moet uitmelk.

“Hulle gee die beeste vir my, en verwag ek moet na hulle omsien sonder die nodige geld of toerusting.”

Buthelezi sê hy het die afgelope tien jaar hard gewerk om die plaas te ontwikkel om só ʼn nalatenskap vir sy kinders te skep. Hy het nou begin om ʼn drukgang vir die beeste te bou, maar dit eers gestaak omdat hy onseker oor die dag van more is.

John Mabasa van die plaas Goedehoop is hewig ontsteld dat hulle hom op die plaas, waarop sy familie al langer as 200 jaar woon en werk, wil afskop. Hy het in 1998 ʼn grondeis ingedien en dit weer in 2001 opgevolg. Die departement het kwansuis geen rekords van die grondeis gehad nie.

“Ek het op die plaas grootgeword. Ek sal nie gaan nie en ek sal ook nie die omkoopgeld betaal nie.”

Die pad vorentoe

Van links: Thabani Nxumalo, Isaac Buphelezi, Mr Motha, Annette Steyn, Isaac Muvhali, Jabulani Nkosi, Tshilidzi Netsianda, Sibusiso Parrparirinyntwn en John Mabaso (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Steyn wil dié boere se verhale onder die minister van landbou, bosbou en visserye, Thoko Didiza, se aandag bring.

Sy wil ook spesifiek die minister vra dat die departement ʼn amptelike brief uitstuur waarin dié boere se afsettingsbevele as ongeldig verklaar word. Sy versoek ook dat die departement ʼn volledige ondersoek doen oor waarom die hernuwing van die huurkontrakte nie konsekwent gedoen word nie.

“Van die boere in Mpumalanga se huurooreenkomste het verval, terwyl ander huurboere in die omgewing huurooreenkomste van 30 jaar ontvang het. In van die gevalle het hierdie boere aan presies dieselfde kriteria voldoen, maar die uiteinde is verskillend,” sê Steyn.

Sy het ook Dinsdag vir die portefeuljekomitee oor landbou ʼn lys gevra met al die staatsplase in die land en presies wie daarop boer. Sy wil ook ʼn lys hê van die boere wat reeds ʼn huurooreenkoms van 30 jaar ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Stem weer ANC man !!!

Pampoen

Een manier om te kyk hoe suksesvol hulle was, is om te kyk hoeveel belasting het hulle betaal.

Vernon

Nou maar welkom in julle nuwe SA.

Roedolf Johannes

Hoekom kla hulle,hulle het vd ANC gestem.Dit is Staats eiendom,nou kan hulle AMPER voel hoe moet die boere voel wat die plase besit en wat hulle eiendom is

Hennie J

As hulle so met hulle eie handel, hoe dink julle sal ons wittes behandel word?