Mpumalanga-man val na sy dood

Dawid Gerber. Foto: Facebook via Petra Institute for Children’s Ministry

Dawid Gerber. Foto: Facebook via Petra Institute for Children’s Ministry

ʼn Staptog na die kruin van die Legogote-berg, tussen Witrivier en Hazyview in Mpumalanga, het tragies geëindig toe die groepleier na sy dood geval het.

Dawid Gerber (53), die finansiële bestuurder van die Petra Institute for Children’s Ministry, is dood nadat hy Saterdag vermoedelik gegly en talle meters ver by die berg af geval het. Personeel van die Petra-instituut en ander lede van die publiek stap glo gereeld by die berg en Saterdag se staptog was nie buitengewoon nie.

Die instituut het in ʼn verklaring gesê Gerber het saam met personeellede en inwoners van die instituut, ʼn vriend en ʼn Duitse toeris by die berg op gestap om die uitsig van bo te geniet. Daar het hulle weer deur ʼn smal skeur hul tog van die berg af begin.

“Dirk Coetsee, die uitvoerende direkteur van die Petra-instituut, het eerste by die berg af beweeg met ʼn 5-jarige [kind]. Die res van die groep het gevolg. Tot [Coetsee se] afgryse het hy gesien hoe iemand verby hom val en hy het besef dit is Gerber.”

Gerber is op slag dood en sy liggaam is later deur nooddienste en ʼn reddingseenheid opgespoor.

Volgens die instituut het Gerber vermoedelik ʼn ander roete as gewoonlik by die berg af gebruik. Die roete lyk van bo af makliker as die roete wat gewoonlik gebruik word, maar word bedek met gras waarop ʼn mens maklik kan gly en eindig in ʼn krans van talle meters hoog.

Gerber word deur sy ma, broer, suster en verloofde, oorleef. ʼn Gedenkdiens is Woensdag by die Petra-instituut gehou en ʼn tweede diens sal Donderdag in Centurion gehou word, waar sy ma en verloofde woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gesiggie ·

My innige simpatie aan Dawid se Familie en Vriende, dit is so jammer dat so iets moes gebeur.. Sterkte aan Petra Instituut, wat moes afskeid neem van die man.

Wat-ek-lees ·

Wat ‘n ongelukkige sameloop van omstandighede. Sterkte aan die betrokkenes. Sou ander hieruit leer dan is sy dood nie tevergeefs. Ek sien dat daar ook rugsakke gedra word. Sou jy gly kan daardie rugsak jou stuur en soos ‘n woer woer laat bollemakiese slaan en onbeheerst laat val sonder om tot stilstand te kom voordat jy ernstig beseer word.
Vir my is ‘n stapstok ook van uiterste belang om jou te help om jou balans te behou. Gewoonlik ook is bergaf die gevaarlikste.

Alta ·

Ek sal jou mis Dawid! Dankie vir jou positiwiteit en omgee vir almal rondom jou. Jy het naby aan die Here geleef!

Sakkie du Plooy ·

Dawid se Moeder Vida stap elke middag teen sononder met haar klein brakkie voor ons huis op die sypaadjie verby. Gister en vandag was sy nie daar nie! Dawid se son het ondergegaan en sy Moeder het sonder hom oorgebly! Sterkte Vida, mag die Trooster jou trane afdroog en jou hart, wat ‘n groot leeg het, vul met sy onverstaanbare vrede. Die verlies en die seer gaan die res van jou lewe by jou wees. Mag jy KRAG ontvang om dit te dra. Ons hoop jy stap weer binnekort hier voor by ons verby!

Ilse Gerber ·

Ons as familie is in rou oor Dawid se skielike dood maar ons besoek aan Petra Instituut was so n wonderlike ervaring. Ons is met sagtheid,medelye, liefde en omgee omvou en het vertroosting gevind in die getuienis wat almal oor Dawid getuig het. Hier vind mens die Hand v God wat jou toevou en dra. Wat n voorreg om deel te gewees het van Petra en teenaan Jesus in die natuur te kon wees. Ons gaan jou mis Dawid!!

Wiebo ·

Legogote koppie – nie n berg nie,-het ek baie as kind geklim. Dit is n maklike klim, en dit was seker net sy tyd om te gaan. Dit moes net n frats ongeluk gewees het. Baie sterkte aan die familie en vriende.

Thea Gerber ·

Wiebo. The Legogoto mountain is an expressive landmark between Hazyview and Witriver. On the east stretches the Lowveld and to the west the escarpment foothills in the Peebles area. The pinnacle is huge granite rocks and stands at 1194 metres. Dit is wat Oom Google vir my leer. Ek is so jammer vir hierdie familie dat dit vir my weinig saakmaak of die man van ‘n koppie of van ‘n berg afgeval het. Sterkte aan die gesin, dit is ‘n verskriklike verlies vir die familie en die instansie waarvoor hy gewerk het.

Willemien du Plessis ·

Jy was ‘n wonderlike mens, Dawid. Dit troos om te weet dat jy die Here geken het en nou by Hom is. Baie sterkte aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.