Mpumalanga-skoonheid wen internasionale prys

Gizzelle Uys (middel) saam met die naaswenner van die Filippyne (regs) en tweede prinses van die VSA (links). (Foto: Verskaf)

Gizzelle Uys (24) van Standerton in Mpumalanga is onlangs aangewys as Mej. Eko Internasionaal by ʼn glansgeleentheid in Egipte.

Uys, wat ʼn graad in erfenis, kultuur en toerisme aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, sê hierdie kompetisie is ʼn goeie manier vir haar om haar opleiding op ʼn positiewe manier te gebruik.

Mej. Eko Internasionaal word outomaties ʼn ambassadeur van die Verenigde Nasies (VN) vir eko-toerisme.

Uys vertel sy is reeds in 2019 as Mej. Eko Suid-Afrika aangewys is, maar dat die internasionale kompetisie uitgestel is weens die Covid-19-pandemie. Waar sowat 60 lande gewoonlik teen mekaar meeding, was daar vanjaar ook slegs 45 as gevolg van dié virus.

Gizzelle Uys is Mej. Eko Internasionaal 2020/2021 (Foto: PPMC MAGAZINE SA/Eduard Labuschagne )

Uys sê sy kan steeds nie glo sy het koning gekraai uit die 44 ander pragtige deelnemers nie.

“Ek dink dit het steeds nie ingesink nie. Ek kan nie die oomblik beskryf toe hulle dit aangekondig het nie. Dit is so ʼn groot skok, maar dit voel wonderlik,” sê sy.

Mej. Eko VSA het derde geëindig en Mej. Eko Filippyne was die naaswenner.

Sy sê sy voel goed voorbereid vir die titel van Mej. Eko Internasionaal omdat eko-toerisme haar na aan die hart lê.

“Ek het toerisme studeer en om die natuur te bewaar was nog altyd vir my belangrik. Nou het ek die geleentheid om bewusmaking te skep oor volhoubare toerisme.”

“Ons hoor so baie dat ʼn mens in jou eie omgewing alles moet doen om die natuur te bewaar, maar dit eindig nie daar nie. Jy het ook dié verantwoordelikheid wanneer jy na ander dele van die wêreld reis.”

Uys sê die verskillende kulture wat deel uitmaak van internasionale toerisme en die manier waarop ʼn mens eko-toerisme in lande met ander kulture kan ontgin, is veral vir haar baie interessant.

“Ons moet navorsing doen oor ander kulture, hulle maniere en dit waarmee hulle gemaklik is,” sê sy.

Uys hoop boonop hierdie platform sal haar die geleentheid gee om jong mense aan te moedig om hul drome na te jaag.

“Ek kom van ʼn klein dorpie waar mense dikwels vir jou sê ‘jy kan nie’ en ‘sy sal nie’. Ek wil die boodskap uitdra dat enigiemand goed genoeg is om haar of sy drome te bewaarheid. Jy is geliefd net waar jy is en jy kan enigiets doen met God aan jou sy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

SA het werklik darem net baie mooie meisies en vrouens en dit word net jaar na jaar bewys. Baie geluk!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.