‘MRK behoort aan te beveel, nié te beveel’

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Die Menseregtekommissie (MRK) kan aanbevelings maak maar nie bevele nie, het AfriForum Dinsdag in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein aangevoer in ʼn saak rakende die magte en bevoegdhede van die kommissie.

Die burgerregteorganisasie tree op as vriend van die hof in ʼn saak tussen die landboumaatskappy AgroData en die MRK.

Die MRK voer in dié saak aan dat sy aanbevelings bindend is en dieselfde regswerking het as ʼn hofuitspraak. AfriForum glo egter die kommissie se aanbevelings behoort eers as bindend beskou te word indien dit deur ʼn hof afgedwing word.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, sê dié argument berus op artikel 184(2)(b) van die Grondwet waarvolgens die MRK stappe mag doen “ten einde gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is”.

“Die Grondwet laat egter nie die MRK toe om bindende direktiewe uit te vaardig nie,” sê Boshoff.

Die betrokke saak volg nadat die MRK in Mei 2018 ʼn klag ontvang het van inwoners van die plaas De Doorn Hoek in Mpumalanga nadat die eienaars van die grond, AgroData, na bewering in 2016 beperkings op die inwoners se toegang tot boorgatwater geplaas het.

Voordat die MRK sy bevindings bekend kon maak, het AgroData en die inwoners ʼn skikking bereik. Die MRK het egter aangevoer dat sy bevindings en voorskrifte in die saak steeds nagevolg moet word en dat die partye se ooreengekome skikking nie ʼn genoegsame oplossing bied nie.

Die kommissie het hom later tot die Mbombela-hooggeregshof gewend in ʼn poging om die voorskrifte te laat afdwing. Dié hof het egter die kommissie se aansoek in Maart 2022 van die hand gewys en beslis dat, hoewel die MRK aanbevelings kan maak, hy nie kon bewys dat alle direktiewe wat deur die MRK uitgevaardig word, bindend is nie.

Dit is toe dat die kommissie die appèlhof nader.

Boshoff sê nou dit sal rampspoedig wees sou al die MRK se aanbevelings “waarvan sommige verregaande is” bindend word.

“Die hoë voorkoms van magsmisbruik deur staatsinstellings moet ons juis meer waaksaam maak oor wie wat mag beveel,” sê Boshoff.

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Treurwilger ·

Dieselfde geld ongelukkig die Zondo-kommissie, aanbevelings ook nie “bindend” nie.

Michael ·

Duidelik voel malema ‘n veer vir hierdie eenogig organisasie wat net daar gestel is om huidig benaadeelde mense te onderdruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.