MRK bekommerd oor laat begin van skooljaar

(Argieffoto: Verskaf)

Terwyl talle mense skarrel om reëlings te tref weens die vertraging met die heropening van skole, het die Menseregtekommissie (MRK) ook sy kommer oor die besluit te kenne gegee.

Die departement van onderwys het Vrydag aangekondig dat leerders eers op 15 Februarie – te midde van die tweede vlaag Covid-19-infeksies – na skole moet terugkeer.

Die MRK sê hy is bekommerd oor die uitwerking daarvan op reg tot ʼn basiese onderwys, die beste belang van kinders, die verlies aan onderrigtyd en die deursigtigheid waarmee die regering die besluit geneem het.

Die kommissie sê gesondheidsverwante regverdiging daarvoor wat die departement voorhou, is “effens vaag en onoortuigend”.

“Bewyse dui nie daarop dat skole ʼn beduidende rol in die verspreiding van die virus gespeel het of dit in die toekoms gaan doen nie. Inteendeel, skole is bewys as sommige van die veiligste ruimtes wanneer gesondheid- en veiligheidsprotokolle nagekom word.

“Kinders is veel minder deur die virus geraak as ander en min kinders het weens die pandemie gesterf. Daar is baie min bewyse dat dit noemenswaardig gaan verander weens die nuwe variant van die virus wat in die land voorkom.

“Dit is ook nie duidelik hoe ʼn twee weke lange vertraging in die heropening van skole gaan help om leerders, onderwysers en ondersteuningspersoneel te beskerm nie,” sê die MRK.

Die kommissie sê ʼn hele aantal provinsies gaan eers ná die terugkeerdatum die kruin van die tweede golf bereik. In die winter kan nuwe uitbrekings volg.

Die MRK sê dit sou sinvoller wees om skole toe te laat om te heropen soos aanvanklik beplan – ʼn besluit wat die departement tot onlangs gesteun het – en te verseker alle protokolle is in plek. Tydelike personeel kon in dié tyd gebruik word in die plek van onderwysers met onderliggende siektetoestande.

(Argieffoto: Unsplash)

Die kommissie is ook uiters bekommerd dat die vertraagde heropening die nasionale skoolvoedingsprogram in die gedrang kan bring. Slegs ʼn beperkte getal kinders kry steeds kos by die skool wanneer dit gesluit is.

Die MRK sê hy het die departement vantevore gevra om sy voorlegging aan die nasionale koronavirusbevelsraad bekend te maak sodat die departement se posisie beter verstaan kan word.

“Die kommissie moedig groter deursigtigheid aan, asook dat meer inligting gedeel word, sodat die uitkoms in die sektor beter is.”

Die DA steun nie die departement se besluit nie en stem saam dat ʼn latere heropening nie die veiligheid van leerders en onderwysers gaan verseker nie.

Baxolile ‘Bax’ Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê die departement moes die skoolvakansie gebruik het om skole behoorlik toe te rus.

Die DA het ook gevra dat gesondheidskenners, die ministeriële advieskomitee en die departement die portefeuljekomitee oor basiese onderwys op die hoogte bring om te verseker die vertraging met die heropening van skole is gegrond op empiriese bewyse en nie politieke giere nie.

Nodada sê verskillende benaderings moet in verskillende provinsies gevolg word omdat almal nie op dieselfde manier geraak word nie. Die tweede vlaag infeksies gaan verskillende dele van die land boonop op verskillende tye tref.

“ʼn Landwye sluiting van skole, wanneer sekere gebiede erger geraak word, is uiters onlogies en skadelik vir leerders.”

Die DA is wel van mening dat skole wat nie aan bepaalde maatreëls voldoen nie – waaronder die handhawing van sosiale afstand en toegang tot beskermende toerusting – nie toegelaat moet word om te heropen nie.

“Geen woord is gerep nie oor die uitwerking wat die vertraagde heropening van skole op ouers gaan hê wat hul vakansies só beplan het om na hul kinders om te sien, maar nou dalk kan sukkel om iemand te kry om hulle te versorg wanneer hulle terugkeer werk toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Vreemd dat die MRK oor so iets besorg is. Hulle tree net op wanneer wit mense lelik is met swart mense. Dis mos maar al rassisme wat daar in SA is. Oor Kleurlinge en Indiërs wat weggewys word vir werk omdat hulle “not black enough” is, asook oor ‘n hele rits ander menseregte vergrype, soos swart soldate se brutale aanranding van die swart Collins Khosa in Alexandra (hy is later dood) is die MRK doodstil. Ook stilte oor swart polisie swart mense by ‘n SASSA kantoor met ‘n waterkanon gespruit het.

Tjom

Hierdie was n politieke besluit eerder as n mediese besluit. Terwyl vuisvoos werkende ouers nou skarrel vir oplossings..

Anel

Genade! Wanneer het die MRK vir ‘n slaggie wakker geword? Vir die eerste keer stem ek met hulle saam. Nou moet hulle net iets daaromtrent doen

JohanR

Wie is die MRK nou weer? Is dit die klomp wat Eben Etzebeth gejaag het en nerens gekom het nie. As ek reg onthou het ene Buang Jones in Langebaan rond gehardloop en die mense aangehits, maar toe groot geskrik toe Eben hoer hof toe vou gaan. Ek het nou net soos ek die storie gesoek het, ‘n foto van Buang Jones gesien. Hy moet elke dag van die jaar na ‘n Boer Braai genooi word om te vreet want hy is soe dun soos ‘n spook!

LANA is ELANè

Vir langer as ‘n maand het almal op hul louere gerus, en noudat die skole moet heropen nou is dit weereens ‘n geskarrel en uitstellery ten koste van kinders se geestesgesondheid agv die onsekerheid waarin hulle daagliks gedompel is.
Banana republic se moses, ek is so siek en sat dat ons dmv ons kinders gemanipuleer word. Ons gaan nog vir jare hierna betaal vir die regerende party se onvermoë om hierdie sg pandemie te bestuur.