MRK betrek ná klagtes oor psigiatriese sentrum in Bloem   

(Foto: pixabay.com)

Die DA het ʼn klag by die Menseregtekommissie ingedien om die gebrek aan gesondheidsorg by die Kosmos Sorg en Rehabilitasiesentrum in Bloemfontein te ondersoek.

Luidens klagtes wat die party ontvang het, word gestremde pasiënte heel dag lank sonder kos in sale toegesluit. “Ander pasiënte het nie hul voorgeskrewe medikasie gekry nie en sommige is kaal in hul kamers aangetref omdat die wasgoed nie die betrokke oggend gewas is nie. Die kas waarin voorraad soos doeke gestoor word, was ook gesluit,” het Mariette Pittaway, die DA se hoofsweep in die Vrystaatse wetgewer, gesê. Dié gebrekkige sorg het glo ontstaan omdat gesondheidsorgwerkers staak weens ʼn gebrek aan persoonlike beskermingstoerusting om besmetting met Covid-19 te voorkom.

Die DA het reeds ʼn dringende brief hieroor aan Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid in die Vrystaat, gestuur, maar geen reaksie hierop ontvang nie. In antwoord op ʼn vraag in die Vrystaatse wetgewer oor ʼn tekort aan beskermende toerusting, het Tsiu geantwoord dat daar nie ʼn tekort in die provinsie is nie. Dit het boonop onlangs aan die lig gekom dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se twee seuns glo gebaat het by kontrakte ter waarde van miljoene rande om Covid-19-toerusting aan die Vrystaatse departement van gesondheid te verskaf.

Die Vrystaat het tot dusver 22 308 Covid-19-gevalle aangemeld. Dit is die vyfde meeste van al nege provinsies in die land. Altesaam 154 mense het al hier weens die virus omgekom.

Die DA het die saak ook onder die nasionale departement van gesondheid se aandag gebring sodat dit verder ondersoek kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Wat gaan die grapjas MRK hier doen? Hulle het niks by Life Esidimeni gedoen nie waar 143 dood is, en NIEMAND is verantwoordelik gehou nie, en NIEMAND is tronk toe. Hier en daar was daar ‘n klap op die hand, maar dit is die ANC….ANC’ers do not go to jail!

Adeline ·

Voos vrot korrupte anc regering in alle fasette en afdelings tronk was hulle skool en opleiding instituut.
Dit is waarom hierdie land so verwoes is – asblik.

Misky ·

En terwyl hulle “voete sleep” en sloer met die saak, is daar kwesbare ou mense wat nie kos het nie en verder moet lei en nie medikasie kry nie. Ek sou vuurmaak onder hulle en my familie daar gaan uithaal onmiddelik indien ek mense daar moes hê. Skaamtelik om die minste te sê – sies!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.