MRK bevind Zwelithini onskuldig aan haatspraak

Koning Goodwill Zwelithini deur Reinhardt Hartzenberg, Wikimedia Commons

Koning Goodwill Zwelithini deur Reinhardt Hartzenberg, Wikimedia Commons

Die Menseregtekommissie het Vrydag gesê alhoewel Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini se uitsprake skadelik was vir uitlanders, het hy nie geweld aangehits teen migrante nie.

Lawrence Mushwana, voorsitter van die MRK, het Vrydag tydens ʼn mediakonferensie gesê Zwelithini se uitsprake, tydens ʼn toespraak wat hy in Maart verlede jaar in Pongola, KwaZulu-Natal gelewer het, het nie aktief geweld aangehits nie, maar dit was wel diskrimerend.

“Uit ʼn analise van die uitsprake van die respondent, in die getranskribeerde weergawe van sy toespraak, is die kommissie van mening dat die respondent in geen stadium ʼn versoek gerig het om wapens op te neem of om ʼn gewelddadige aanval teen migrante van stapel te stuur nie,” het Mushwana aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Sy uitsprake het nie geweld aangehits nie, aangesien hy nie aktief die gehoor aangemoedig of druk op hulle geplaas het om gewelddadige misdade teen migrante te pleeg nie.”

Hy het egter gesê Zwelithini se toespraak het ʼn omgewing geskep waar daar teen uitlanders gediskrimineer kan word.

“Om vir mense te sê hulle is misdadigers en hulle is hier om die land se rykdom te steel, is skadelik. Hierdie tipe sielkundige kondisionering kan uiteindelik tot diskriminasie lei en ʼn klimaat bevorder wat tot geweld teen migrante lei.”

Zwelithini het in sy toespraak uitlanders daarvan beskuldig dat hulle “die strate bevuil”. Hy het ook ʼn beroep op uitlanders gedoen om hul sakke te pak en huis toe te gaan. Mushwana het gesê ʼn Zoeloetaal-kenner wat die kommissie in sy ondersoek bygestaan het, het beslis dat die uitlatings nie geweld aanhits nie.

“In die geskiedenis van die Zoeloe-nasie, kan die koning sy siening reguit en onbeskof deel, sonder om te bedoel dat hy aanstoot wil gee teenoor ʼn spesifieke individu. Met verwysing na die versoek dat ‘uitlanders en hul bagasie huis toe gestuur moet word’, het die kenner bevind dat die verwysing na bagasie gedoen word op die aanname dat straatverkopers onwettig in Suid-Afrika is,” het Mushwana bygevoeg.

Die African Diaspora Forum, Lawyers for Human Rights en ander individue het die klag teen die koning aanhangig gemaak. Hulle het gesê Zwelithini se uitlating het geweld teen uitlanders aangehits en het daartoe gelei dat xenofobiese aanvalle weer verlede jaar in KwaZulu-Natal opgevlam het.

Sewe persone is verlede jaar dood en duisende is haweloos gelaat toe geweld teen uitlanders groot dele van die land geteister het.

Mushwana het gesê Zwelithini het tydens sy toespraak ook plaaslike inwoners veroordeel dat hulle geweld gepleeg het teen uitlanders. “Ongelukkig is dié aspek van die koning se toespraak nie in die mediaberigte oor die geleentheid gedek nie.”

Zwelithini het aangevoer dat hy buite konteks aangehaal is deur “onjuiste verslaggewing” en dat die media nie Zoeloe verstaan nie. Hy het die kommissie versoek om mediaberigte te ondersoek oor die toespraak wat hy gelewer het.

Mushwana het gesê alhoewel Zwelithini nie na spesifieke mediaberigte verwys het nie, is die kommissie nie die regte instansie om die klag te ondersoek nie. Die pers-ombudsman is die regte platform om die koning se besware aan te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

Maar Penny Sparrow kry 3 jaar gevangenis straf plus ‘n boete van R 150 000. ( 1jaar of R5000 plus 2 jaar opgeskort). Wat het geword van die begrip “reg en geregtigheid”?

Erf Wetter ·

Dis die heel eerste ding waaraan ek gedink het. Haar uitsprake het beslis nie geweld teen die strandgangers aangemoedig nie, al was dit degraderend. Hoe kan sy dan aan haarspraak skuldig wees? Hierdie MRK is ‘n klugspul.

Andre ·

Maar Penny Sparrow word beboet met R 150 000 en toe ook nog gevonnis tot 3 jaar gevangenis straf (R5000 of 1 jaar plus ‘n verdere 2 jaar opgeskort)
Hoe werk dit?

John ·

Hy is SA se ‘king in waiting’ en hy is ‘n Zoeloe en sy standpunt al dan nie verskil nie veel van die’ van Europese leiers wat deesdae hande-in-die-luggooi nie, agv van die massa mense van elders wat regte opeis in die vreemde nie met die seenwense van die VN en tannie Engela.

Hannes ·

Kan iemand dalk vir my se wat is die doel van n koning en “tradisionele leiers” in die Republiek van Suid Afrika.

Hasie ·

Hierdie ou het nog nooit in sy lewe gewerk nie. Sit en teer net op ons belastingbetalers se geld. Hy het geen doel nie, maar soos in geen.

Jan maak n Plan ·

Die MRK is n sirkus. Laat ek eerder my bek verder toe hou want nou nou word ek ook ge-penny.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.