MRK doen ondersoek ná maaiers in pasiënt se mond

Die RK Khan-hospitaal in Chatsworth in KZN. (Foto: Dept. van gesondheid: KZN)

Die DA in KwaZulu-Natal het ʼn besluit van die Menseregtekommissie (MRK) om ʼn ondersoek na toestande by die RK Khan-hospitaal in Chatsworth te doen, verwelkom.

Die ondersoek kom ná maaiers in die 52-jarige Sadick Ebrahim, ʼn pasiënt by die hospitaal, se mond gevind is. Maroela Media het vroeër berig Ebrahim is ʼn week na die voorval aan natuurlike oorsake dood.

Die MRK het die ondersoek op eie inisiatief begin.

Imran Keeka, ʼn DA-lid van die KwaZulu-Natalse provinsiale wetgewer, het gesê die voorval het die party verstom en gesê die MRK se ondersoek is presies wat nodig is.

“Dít omdat die ondersoek wat die KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, Nomagugu Simelane-Zulu, gelas het na die veragtelike versuim om behoorlike sorg te verskaf, op niks gaan uitloop nie,” het Keeka gesê.

Die lewende maaiers is in die pasiënt se mond gevind. (Foto: verskaf)

“Ons weet dít, omdat haar voorganger verskeie kere in die verlede ondersoeke na ernstige kwessies gelas het, wat uiteindelik op absoluut niks uitgeloop het nie. Niemand is in daardie voorvalle ooit verantwoordelik gehou nie en niemand is ooit daaroor afgedank nie.”

Keeka het gesê die DA het die afgelope paar jaar verskeie oorsigbesoeke aan die hospitaal gebring. Die hospitaal hanteer veel meer gevalle as waarvoor hy kapasiteit het en die fasiliteit het boonop heeltemal te min personeel. Hy het gesê dié omstandighede dra sonder twyfel by tot die klagtes wat die party al oor die hospitaal ontvang het.

“Dit is op grond hiervan wat ons vandag aan die MRK gaan skryf en vra dat hy sy ondersoek sal uitbrei om ook pasiëntesorg in die geheel by die fasiliteit te ondersoek. Ons gaan ook vra dat streng aanbevelings na afloop van die ondersoek gedoen sal word om die nuwe LUR en haar departement in die belang van alle inwoners van KwaZulu-Natal, verantwoordelik te hou,” het Keeka gesê.

“Die ANC-geleide politieke leiers in KwaZulu-Natal se gesondheidsdepartement sit dikwels met gevoude hande wanneer dit kom by probleme met personeel, infrastruktuur en die verskaffing van medisyne. Die toestande duur net voort en dit is onaanvaarbaar. Dit is ook algemene kennis dat die ANC-geleide regering boonop dikwels dié swak diens beloon,” het Keeka gesê.

“Dit is beslis die geval met die voormalige KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, wat ten spyte van die skending van die menseregte van onkologiepasiënte in ons provinsie, nou oor die nasionale gesondheidsportefeuljekomitee waghou.”

Keeka het die DA se medelye met die Ebrahim-familie betuig en gesê hulle is ongetwyfeld diep getraumatiseer deur die voorval.

“Ons sal die familie Woensdag besoek en op dieselfde dag die uitvoerende hoof van die RK Khan-hospitaal ook besoek. Die nuwe LUR moenie probeer om dié vergadering met die hospitaalbestuur te probeer keer nie, iets wat haar voorgangers gereeld gedoen het,” het Keeka gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tinus

Verbysterend. Skokkend. Aaklig. Die naweek het ‘n video op facebook die rondte gedoen wat wys hoe die maaiers in die arme oom se mond krioel. My hart gaan uit na die mense.

marous

Ondersoek net die goed wat aan die groot media klok gehang word .

Ida Kriel

Nee genade hierdie is die ergste van erg. Maaiers kom so ver my kennis strek in vrot vleis op dooie diere of mense voor. Ek is verby naar en geskok.

DV

Het die pasient nie sout gehad waarmee hy sy mond kan spoel nie.

George in Bloem

Jammer om te se maar ook met hierdie ANC “ondersoek” sal daar soos gewoonlik die geval is absoluut niks gebeur nie en niemand sal pa staan vir hierdie onreg nie so dit sal weer en weer gebeur want die skuim wat hierdie tipe goed doen en/of toelaat weet dat die kans om daarmee weg te kom bykans 100% is.Skokkend en skandalig..